’n Argument vir privaathospitale om mediese interne te plaas

 ’n Argument vir privaathospitale om mediese interne te plaas

Paul Maritz

Die afgelope twee jaar het aansienlik verskil van byna enige vorige jare; op ’n verskeidenheid maniere wat grotendeels met die verspreiding, effekte en poging tot beperking van die Covid-19-pandemie verband hou. Op ’n ander manier was hierdie jare egter presies dieselfde as die meer onlangse jare – meer spesifiek in terme van die Departement van Gesondheid (DvG) wat nie gekwalifiseerde mediese studente vir internskappe plaas nie, en nie diegene met voltooide internskappe vir hulle gemeenskapsdiens plaas nie. Plasing teen die 11de Junie 2021 is vir jong dokters uit beide kategorieë beloof, maar teen die tyd toe dringende korrespondensie ons op die 25ste Junie begin bereik het, was slegs 135 uit die 288 interne al geplaas en ongeveer 163 van die gemeenskapsdiensdokters nog nie geplaas nie.

Die behoefte bestaan om die regering te kritiseer en om allerhande vieslike byvoeglike naamwoorde vir die DvG te gebruik, maar dit sal weinig meer bereik as om as ’n uitlaatklep vir die beëindiging van frustrasie te dien. Die probleem is vir almal so duidelik soos daglig, maar daar is nog nie duidelikheid oor ’n volhoubare oplossing nie. In die volgende paragrawe word ’n regverdige en slegs effe bevooroordeelde uiteensetting van die probleem gegee, gevolg deur ’n voorgestelde oplossing en ’n analise van die betrokke partye en die voordele wat hierdie oplossing spesifiek vir hulle inhou.

Die probleem

Volgens amptenare binne die DvG is befondsing vir mediese interne afkomstig van die provinsies se departemente self. Hierdie fondse moet dus afkomstig wees van die toekenning wat deur die Nasionale Tesourie via die LUR (lid van die Uitvoerende Raad), verantwoordelik vir die begrotingstoekenning aan elke provinsiale Ministerie, beskikbaar gestel is, met die goedkeuring van die premier. Die grootste uitdaging blyk te wees dat dié finansiering, hoewel dit veronderstel is om slegs vir hierdie doel toegewys te word, dikwels nie vir die betrokke pos beskikbaar is nie. Daar kan bespiegel word oor waar die fondse uiteindelik beland, maar vir die doeleindes van die huidige mening is dit voldoende om te sê dat dit nie beskikbaar is soos en wanneer dit veronderstel is om te wees nie. Gegradueerde mediese studente moet veel langer wag as wat verwag word om as interne geplaas te word. Soos tans die geval is, is dit dikwels nie dat hulle op kort kennisgewing hoor nie; hulle begin eintlik baie later werk as wat hulle normaalweg sou, wat tot duidelike tekorte en uiters moeë personeellede lei.

Dieselfde geld vir dokters wat internskappe voltooi het en wat veronderstel is om gemeenskapsdiens te betree. Ter oorweging van die regering se argument, is hierdie poste nie die goedkoopste om te vul nie aangesien ’n intern tot R500 000 en ’n gemeenskapsdiensdokter tot R650 000 per jaar verdien. Dit is natuurlik die moeite werd om dié geld te spandeer, maar blyk ’n stryd te wees om hierdie salarisse onder normale omstandighede te befonds. Die huidige begrotingskortings en klaarblyklike plundering binne die DvG het allesbehalwe die las verminder.

’n Oplossing

Solidariteit Jeug stel voor dat private mediese instellings toegelaat word om aansoek vir akkreditasie as opvoedkundige instellings te doen, en dat hulle mediese interne kan aanvaar en vir die voorgeskrewe tydperk van twee jaar kan oplei. Ons glo hierdie oplossing sal voordele vir alle betrokke partye inhou, veral die mediese student, die regering, die private instellings en uiteindelik die burgers van Suid-Afrika. ’n Verduideliking van die sentimente volg.

Die mediese student

Die mediese student wil betyds geplaas word om genoeg tyd te hê om te verhuis en wil soveel moontlik oor die mediese veld leer. Onder die status quo het mediese studente ’n wesenlike kans om tot op die laaste nippertjie te moet wag om oor hulle plasing te hoor, indien hulle enigsins betyds geplaas word. Sommige studente sal een of twee maande se salaris moet laat vaar omdat hulle so laat geplaas word. As privaathospitale toegelaat word om interne te huisves, sal die aanvraag vir interne toeneem, wat daartoe sal lei dat minder van die gekwalifiseerde mediese studente hangend is en vir die regering wag om hulle te plaas. Private instellings sal waarskynlik hulle interne beter behandel aangesien hulle akkreditasie nie gewaarborg word nie, maar afhang van die nakoming van ’n sekere standaard wat regeringsinstellings gewoonlik meer geneig is om te ignoreer.

Die regering

Alhoewel die aanvanklike reaksie van baie mense sou wees dat die regering hierdie interne dringend nodig het om landelike klinieke te beman, moet dit uitgewys word dat ’n intern nie sonder toesig kan werk nie, en daarom bied interne in elk geval nie ’n oplossing vir hierdie landelike klinieke nie. Druk kan verminder wanneer opgeleide interne hulle rondtes doen, maar die kapasiteitsprobleem wissel nie soos die beskikbaarheid van interne wissel nie. Dit lyk tans asof die semi-jaarlikse toekenning van interne meer moeilikheid as nut vir verskillende provinsiale regerings bied, en die verligting van begrotingsbeperkings kan ’n bietjie asemhalingsruimte in opvallend oorbelaste begrotings bevry.

Daarbenewens sal ’n redelike model wees om die regering eerste opsie te gee om interne te plaas. Sodra ’n vasgestelde datum verby is, sal die interne weer beskikbaar word, en almal wat nie geplaas is nie kan na willekeur aansoek vir die ruim internskapgeleenthede in die private sektor doen. Hierdie model skenk aandag aan die kommer wat sommige mense kan hê oor ’n openbare sektor sonder mediese interne, of mediese interne wat uit die openbare sektor vlug. Die model kan boonop in alle partye se beste belang wees.

Verder het die laat toewysing van poste aan interne ’n uitwerking op gemeenskapsdiensdokters, wat natuurlik weer laat sal begin. Deur die private sektor toe te laat om in te gryp, verseker die regering die tydige lewering van gemeenskapsdiensdokters wat gereed is vir plasing waar hulle benodig word.

Uiteindelik, as selfs die finansiële las van gemeenskapsdiensdokters se poste te groot vir die regering word om te dra, kan hierdie dokters by onafhanklike mediese praktyke geplaas word. So sal hulle gemeenskapsgeneeskunde in die kern van gemeenskappe leer en moontlik selfs beter voorbereid wees om hulle eie klinieke te bestuur as wat hulle in landelike klinieke sou wees.

Die private sektor

Hoewel die bykomende salarisse van interne en die groot verskeidenheid prosedures wat daarmee gepaardgaan aanvanklik sommige instellings kan weerhou om aansoek vir akkreditasie te doen, is daar verskeie voordele vir mediese instellings in die private sektor wat akkreditasie ontvang. Deur amptelik ’n navorsingshospitaal te word, sal sodanige geakkrediteerde private instellings vir die miljarde dollars in aanmerking kom wat vir navorsingshospitale beskikbaar gestel word. Hierdie hospitale en klinieke sal nie meer slegs mediese sentrums wees nie, maar ook navorsingsentrums, wat hul reputasie en pasiënte se vertroue in hulle sal verbeter.

Bykomende geleenthede van internasionale kommunikasie en maatstawwe sal nou vir die betrokke instellings beskikbaar wees. Alhoewel daar tans geen model daarvoor bestaan nie, is dit heel moontlik dat ’n faktuurmodel opgestel kan word soos die van ’n regsfirma of ’n rekenmeestersfirma. ’n Besoek deur ’n intern is dan steeds betaalbaar, natuurlik nie op dieselfde skaal as ’n besoek deur ‘n kardioloog nie, maar genoeg om dit vir alle partye die moeite werd te maak. Diegene wat nie voldoende mediese fondse het nie, sal moontlik ’n besoek by ’n intern op grond van die effe laer koste kies.

Die burger

In Suid-Afrika is die verhouding dokters tot burgers minder as 1:1000; dit beteken ons het minder as die helfte van die verhouding dokters tot mense as die wêreldwye gemiddeld. Terwyl ’n doeltreffender oorgang van studente na interne en interne na dokters hierdie probleem effe sou verlig, is dit slegs ’n klein deel van die probleem. In die meeste gevalle was die jong dokters wat die afgelope vier jaar na ons uitgereik het, so ontsteld oor hulle ervaring dat hulle wil emigreer sodra hulle gemeenskapsdiens voltooi is. Deur mediese studente met die respek wat hulle verdien te behandel, vermeerder dit die kans dat sommige lojaliteite behou kan word, wat die ernstige behoefte aan gekwalifiseerde dokters in Suid-Afrika sal aanspreek.

Die oplossing wat hier voorgestel word, sal ’n daad behels wat groot magte en verskillende belanghebbendes moet balanseer, en ek meen glad nie dat dit maklik gaan wees nie. Tog, ter wille van Suid-Afrikaanse dokters en veral jong dokters, kan dit nie langer uitgestel word nie.

Hierdie artikel het aanvanklik op RationalStandard.com verskyn.

Paul Maritz