Bitcoin: Verskansing teen ekonomiese ineenstorting

 Bitcoin: Verskansing teen ekonomiese ineenstorting

Schalk Botha

Die ekonomiese verwoesting wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, het die implementering van ongekende monetêre beleidsmaatreëls deur internasionale sentrale banke meegebring. Moderne monetêre teorie, die onbewese makro-ekonomiese teorie wat voorspraak maak vir die direkte monetisering van grootskaalse fiskale besteding, is sonder veel debat van teorie tot praktyk ingestel. In Maart en April alleenlik het internasionale sentrale banke byna $4 biljoen deur kwantitatiewe verruiming geskep. Dit beloop ʼn verstommende 6,7% van die globale BBP van geld wat letterlik uit die niet geskep is. Globale skuld het selfs voor die pandemie ʼn rekordhoogtepunt bereik, en die ongekende monetêre uitbreiding deur sentrale banke was olie op hierdie sistemiese vuur.

Tydens tydperke van balansstaatinflasie deur sentrale banke wend beleggers hulle histories na waardevooraad-bates soos goud. Die onlangse krisis is geen uitsondering nie. Ten tye van die skryf van hierdie artikel was die goudprys $1 800 per ons, slegs 5% onder die absolute hoogtepunt van 2011. Maar edelmetale is nie beleggers se enigste opsie vir beskerming teen die sistemiese risiko’s wat uitermatige beleide insake kwantitatiewe verruiming inhou nie. Die bate wat inderwaarheid waarskynlik die beste verskansing teen die regering se voorgesette inmenging in die monetêre stelsel bied, is Bitcoin.

Ondanks die onsekerheid en omstredenheid rakende hierdie relatiewe nuwe bateklas, kan dieselfde argumente wat die rol van goud as ʼn waardevooraad ondersteun ook Bitcoin geld. Anders as goud, werk Bitcoin inderwaarheid op die grondslag van volkome tegniese onafhanklikheid van die res van die finansiële stelsel en is dit dus grondliggend ongekorreleer met tradisionele finansiële bates. Hierdie voordeel, wat nie met Bitcoin se verskansingsvermoë in die streng beleggingsbestuursin van vermindering van portefeulje-ongestadigheid verband hou nie, maak Bitcoin ʼn aantreklike hawe te midde van ʼn potensiële internasionale monetêre krisis.

ʼn Lewensvatbare oplossing vir finansiële onafhanklikheid van die mislukkende staat is reeds voor ons deur  

Schalk Botha

Bitcoin is waarlik ʼn unieke bate. Dit is in 2009 geskep as ʼn eweknie-tot-eweknie- elektroniese betaalstelsel wat voorsiening maak vir die oordrag van transaksies deur ʼn volledig verspreide netwerk met geen afhanklikheid van enige finansiële tussenpersone nie. Geen bank, finansiëlediensverskaffer of staatsentiteit word benodig vir die funksionering van die Bitcoin-netwerk nie. Hierdie onafhanklikheid van die internasionale finansiële infrastruktuur is die rede waarom Bitcoin grondliggend ongekorreleer met enige bestaande finansiële bate is en die beste verskansing teen hierdie soort sistemiese krisis bied wat deur die globale skuldborrel aangevuur kan word.

Een van die grootste besware van skeptici teen Bitcoin, en soms teen goud, is dat hierdie bates geen intrinsieke waarde het nie. Die intrinsiekewaarde-argument, afgelei van Karl Marx se arbeidsteorie van waarde van 1848, wat aangevoer het dat die waarde van ʼn produk afgelei word van die koste van die arbeid en kapitaal vir die vervaardiging van die produk, is egter vals. Die argument dat die waarde van die produk toeneem met hoër vervaardigingskoste weerspreek die wette van vraag en aanbod volkome en ignoreer die feit dat ander geldvorme – internasionale eenhede soos die dollar, die jen en die rand – ook geen intrinsieke waarde het nie. Die waarde van enige geldvorm word subjektief bepaal en wissel op grond van die huidige nut daarvan. Gevolglik toon die idee dat Bitcoin waardeloos is op grond van die intrinsiekewaarde-argument ʼn gebrek aan begrip van die nut daarvan en die vraag na ʼn ongekorreleerde bate van so ʼn aard.

Paul Tudor Jones, biljoenêr-skansfondsbestuurder, gee in ʼn nuusbrief aan sy beleggers in Mei hierdie jaar redes vir die uitbreiding van sy fonds se beleggingsheelal om Bitcoin as ʼn belegbare bate in te sluit. Tudor Jones glo dat Bitcoin die unieke vermoë het om beskerming te bied teen die ongekende internasionale monetêre inflasie deur sentrale banke, danksy wat hy noem Bitcoin se ‘skaarstepremie’. Onderwyl sentrale banke geld teen onbevange koerse druk, is Bitcoin die enigste likiede bate in die wêreld wat ʼn bekende vaste maksimum aanbod het. Die maksimum aantal Bitcoins wat ooit uitgereik sal word, is 21 miljoen. Hierdie boperk sal nooit oorskry kan word nie. Dit bied dus ʼn vorm van skaarste wat nog nooit enige ander groot verhandelbare bate gegeld het nie. Die waarde van ʼn skaarstepremie is duidelik wanneer dit met die grootskaalse inflasie van die internasionale geldaanbod vergelyk word. Die Amerikaanse M2-geldvoorraad het byvoorbeeld net in die laaste drie maande met 17,2% infleer. Regerings wat hulle so geredelik na inflasionisme wend om hul toenemende begrotingstekorte te befonds, kan nie by die aanbod van Bitcoin inmeng nie. Danksy ʼn vaste aanbod, is Bitcoin selfs skaarser as goud, wat teen ʼn koers van minder as 2% per jaar infleer. Dit wys alles op ʼn geleentheid vir nie net beleggers nie, maar ook gewone mense en besighede om ten minste gedeeltelik vrygestel te kan word van die onderlinge afhanklikheid van die plaaslike ekonomie waarin hulle funksioneer, asook van die ondoeltreffende, korrupte staat.

Skaarste en nie-inmenging is wel nie die enigste aspekte wat Bitcoin bo goud laat uittroon nie. Waar dit hinderlik en duur is om goud te vervoer, kan Bitcoin op enige slimfoon of USB-stafie gestoor word, wat dit een van die mees vervoerbare finansiële bates maak. Voorts, danksy die Bitcoin-netwerk se volkome onafhanklikheid van die groter internasionale finansiële stelsel, is dit fisies onmoontlik vir die staat om sy bedrywighede te staak of sekere gebruikers te verhoed om transaksies te doen. In 2011, byvoorbeeld, toe internasionale regerings aktiviste-organisasie Wikileaks toegang tot die internasionale betaalnetwerk verbied het, het die organisasie hom gewend na aanvaarding van Bitcoin-donasies om sy werksaamhede te befonds. Laastens, anders as alle ander bates, kan Bitcoin nie deur enige gesag of derde party onteien word nie. In 1933 het Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt ʼn uitvoerende bevel uitgereik wat die privaat eienaarskap van goud verbied het en burgers genoop het om hul goud teen ʼn voorafbepaalde prys van $20,67 per ons aan die regering te verkoop. Roosevelt het in wese staafgoud in privaat besit onteien en daarna die prys tot $35 per ons opgebie, waardeur die waarde van die dollar met meer as 70% verlaag is. Burgers wat goud besit het juis as beskerming teen so ʼn verlies aan koopkrag is dus slegs met gedevalueerde dollars gelaat.

Goud speel wel steeds ʼn waardevolle rol as ʼn finansiële skans. Goud het in die verlede uitstekend presteer en het ʼn reputasie as ʼn waardevooraad wat nie in die afsienbare toekoms oorskadu sal word nie. In die lig van Bitcoin se bykomende voordele wat tradisionele veiligehawe-bates nooit sal kan bied nie, moet beleggers en ander wat hul bates teen onvermybare agteruitgang van die ekonomiese stelsel wil beskerm egter onbevooroordeeld wees teenoor bates soos Bitcoin. In hierdie ongekende tye, met regerings en sentrale banke wat toenemend groter risiko’s waag, is dit belangrik om alle middele te oorweeg waarmee beleggers hul rykdom en finansiële soewereiniteit kan beskerm. Goud was in die verlede ʼn staatmaker vir beleggers in tydperke van internasionale onrus, maar as daar een bate is wat op unieke wyse teen die risiko’s kan beskerm wat hedendaagse onortodokse ekonomiese beleide inhou, is dit Bitcoin.

Schalk Botha