Die knaende valse digotomie

 Die knaende valse digotomie

Philasande Shongwe

Die armoede-uitdaging kan nie sonder ekonomiese groei opgelos word nie

Lasetja Kganyago

Daar is deesdae byna geen persoon wat sou betwis dat die skielike ineenstorting van die Zimbabwiese ekonomie regstreeks die ondergang van miljoene gewone Zimbabwiërs veroorsaak het nie. Nóg die mense van Zimbabwe nóg dié van ander lande wat ’n soortgelyke lot gely het, ontken dat ’n funksionerende ekonomie onlosmaaklik verbind is aan die welstand en voortbestaan van mense. ’n Mens kan bloot nie die mate waarin “die ekonomie” met die mens se lewe self verweef is oor die hoof sien nie, en nog minder dit op ’n feitelike grondslag ontken.

Die Ekonomie of Mense se Lewens?

Die koronaviruspandemie het ’n unieke uitdaging vir regerings regoor die wêreld gebied. Dit is ’n uitdaging wat op sigself oënskynlik – in die woorde van Julius Malema – “die beskerming van die menslike lewe bo die begeerte vir wins” vereis. Min digotomieë word so luid en so aanhoudend soos hierdie een geëggo, en nog minder digotomieë word so konsekwent ontken. Dit getuig van ’n onwankelbare, nul-som denke, neo-Marxistiese substraat sonder nuanse wat nie besef hoe verweef die ekonomie met die algemene menslike welstand is nie.

Die digotomie faal verder daarin om te erken hoeveel lewens daar jaarliks as gevolg van ’n slegte ekonomiese beleid verlore gaan. Volgens UNICEF sterf daar jaarliks 18 miljoen mense weens armoede, waarvan 10 miljoen kinders is. Dit beteken dat daar ongeveer 1080 kinders elke uur, 18 kinders elke minuut en een kind elke drie sekondes sterf. Boonop gaan 8 miljoen lewens verlore weens hongersnood en wanvoeding, terwyl ’n verdere 11 miljoen verlore gaan weens voorkombare oorsake soos longontsteking, malaria en diarree. Dit is geen verrassing dat die meeste lewens wat weens voorkombare oorsake verlore is in die lande met die swakste georganiseerde ekonomieë is nie, byvoorbeeld Chad, Timor-Leste, Haïti, Madagaskar, Noord-Korea, Afghanistan en Liberië, om maar net ’n paar te noem.

Volgens The World Counts “kan die oorsake van [voorkombare] sterftes wissel, maar die oorgrote meerderheid kan na een enkele oorsaak teruggevoer word: armoede”. Armoede is op sy beurt die gevolg van onder meer slegte fiskale en monetêre beleid. Dit is dus heeltemal fiktief – nie in die minste omdat dit aantoonbaar teenstrydig met die hope bewyse is nie – om te poog om “lewens te red” deur van die middele gebruik te maak wat hulle juis in gevaar stel, dit wil sê ’n slegte monetêre en fiskale beleid.

Noorweë, Switserland, Hong Kong, Japan en Singapoer is almal voorbeelde van lande met ’n baie hoë Menslike-ontwikkelingsindeks en dus ter gevolg daarvan laer voorkombare sterftesyfers. Dit is duidelik dat slegs vrye en oop ekonomieë daartoe in staat is om die lewens van gewone mense te onderhou en te red. Die oplossing vir die uitdaging wat die koronaviruspandemie meebring, moes gevolglik nooit die werking van die ekonomie ontwrig het nie. Alternatiewe aanbevelings soos uiteengesit in, onder meer, die Great Barrington-verklaring moes gevolg geword het.

Eerstewêreldlande kan met die tydelike afskakeling van hul ekonomieë wegkom vanweë hul relatief sterk sosiale veiligheidsnette. Suid-Afrika, aan die ander kant, het nie so ’n luuksheid gehad nie. Dit was van die begin af duidelik dat die kopiëring van die aksies van ontwikkelde ekonomieë verwoestende gevolge vir ’n kwesbare ekonomie soos ons s’n sal hê.

Die onluste wat ’n paar weke gelede in dele van Suid-Afrika ontstaan het, het hul wortels stewig in ons delikate ekonomie geplant. Die streng grendeltydregulasies het ons kwesbare ekonomie wat reeds op die rand van ineenstorting was, oor die afgrond gestoot. Honderde lewens is onnodig verlore weens argaïese brutaliteit terwyl miljoene ander onherroeplik benadeel is. Benewens die 150 000 werksgeleenthede wat in gevaar gestel is, is minstens 50 000 informele handelaars in KwaZulu-Natal alleen verplaas. Agter hierdie getalle skuil gewone Suid-Afrikaners wat net op ’n eerlike manier hul brood en botter probeer verdien. Dit is Suid-Afrikaners wat kinders het om te voed, rekeninge het om te betaal en lewens het om te onderhou. Neem in ag dat baie van hierdie mense verbande het om terug te betaal en voertuie het om af te betaal. Kyk nou na die ellende, depressie en angs waarin hierdie mense sedertdien verval het weens die vrees dat die banke hul huise en voertuie gaan terugneem.

Alhoewel dit beredeneerbaar is of die toekenning van R350 van die Covid-19 Social Relief of Distress (SDR) genoeg is om mense vir tyd en wyl te onderhou, is dit egter onbetwisbaar dat dit nie volhoubaar is nie. Op ’n stadium sal die vuur se suurstof opraak, en daar sal nie meer hout oorbly om te brand nie. In daardie geval gaan meer lewens weens armoede verlore gaan. Die toenemend krimpende belastingbasis behoort ons almal te bekommer, so ook die krimpende ekonomiese uitset. Sonder ’n groeiende ekonomie verwoes ons miljoene mense se lewens. Die ekonomie is mense se lewens, en mense se lewens is die ekonomie. Daar is eenvoudig geen ander manier om daarna te kyk nie.

Die eerste stap om uit die afgrond te kom waarin ons ons tans bevind, is om hierdie valse digotomie en die politieke opportunisme waarin dit vlamvat, te verwerp. Die tweede stap is om terug te gaan en ons ekonomie te herbou om die verlore vertroue terug te kry en om Suid-Afrikaners van die probleme van staatsafhanklikheid los te maak. Ons het beter mediese innovasies, beter ondernemings en beter goedere en dienste nodig, wat almal deur ’n vryer en beter ekonomie meegebring word. Die belangrikste is dat ons beter opvoeding nodig het – finansieel en andersins. Suid-Afrika het steeds een van die wêreld se laagste spaarkoerse. Dit belemmer op sy beurt die beleggingskompleks van Suid-Afrika, wat tot ekonomiese groei sou bydra. Finansiële opvoeding is van kardinale belang en moet in die onderwysstelsel geïnkorporeer word. Dit is krities omdat ’n kundige bevolking steeds die beste manier is om enige voordele wat ons behaal, te behou.

Slegs met ’n groeiende ekonomie staan ons die beste kans om mense se lewens te red.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.