Die oplossings vir basiese onderwys

 Die oplossings vir basiese onderwys

Tian Alberts

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Waardige oogmerke en praktiese oplossings rondom onderwys en opleiding wat Suid-Afrika kan red, sal egter ‘n doodloop tref tensy dit losgelaat word in ‘n kultuur wat gestalte gee aan John F. Kennedy se beroemde woorde: moenie vra wat jou land vir jou kan doen nie, maar vra eerder wat jy vir jou land kan doen.

Tian Alberts

Terwyl dit klinkklaar behoort te wees dat Suid-Afrika ligjare agter is wanneer ontwikkeling op basiese onderwysvlak in oënskou geneem word, is daar geen aanduiding dat die Nasionale Begroting se reuse toedeling aan basiese onderwys oogmerke ondersteun wat basiese onderwys sal kan hernu nie.

Verder het die ANC-regering se sosialistiese opvatting van transformasie – wat gelykheid van uitkomstes en simboliese oorwinnings nastreef (dit wen baie stemme) en langtermyn prosesse van hernuwing vanuit die staanspoor oor die hoof gesien het – ongelukkig afgewentel na ‘n jeug wat nie sal weet waar om te begin om basiese onderwys te hernu ten einde werkloosheid en armoede te takel nie. Hierdie jeug, wat hoogs vatbaar vir die klanke van populisme is, stel daarbenewens nie eers belang in die stand van basiese onderwys nie. ‘n Stortvloed politieke party-populisme, wat veral op universiteitskampusse gevoed word deur jongmense se kenmerkende behoefte aan onmiddellike bevrediging teen enige prys, wakker die sentiment aan dat dit toegang tot tersiêre onderrig is wat die jeug sal ‘bevry’. Dit sal nie.

Alhoewel politici en die media, soos met grondhervorming, tersiêre onderrig in ‘n morele en emosionele kwessie omskep het, is die realiteit dat toegang tot tersiêre onderrig en onderwys in die algemeen nie ‘n morele of emosionele kwessie is nie, maar eerder ‘n ontwikkelingskwessie wat binne die raamwerk van algehele onderontwikkeling in Suid-Afrika hanteer en verstaan moet word.

Ten minste een beduidende realiteit van onderontwikkeling in Suid-Afrik is dat van die 3.3 miljoen werklose jongmense, ‘n klein hoeveelheid oor die nodige vaardighede beskik om deel te neem aan die vierde industriële revolusie wat deur robotika en kuber-fisiese stelsels gedryf word. Trouens, die meerderheid van hulle beskik nie eers oor die basiese syfer-, geletterdheids-en kritiese analitiese vaardighede om ‘n matrieksertifikaat te behaal nie – allermins om van die opgehemelde ‘gratis’ tersiêre onderrig gebruik te maak. Die wortel van hierdie probleem lê by die verwaarloosde primêre onderrigsektor waar agt uit tien graad 4-leerders nie kan lees en skryf nie.

Suid-Afrika se onvermoë om die vierde industriële revolusie aan te gryp en 80% van ons kinders te leer om te lees en skryf sodat hulle hulself en die mense om hulle ekonomies kan bemagtig sal ons land en sy jongmense onbepaald lamlê.

Maar as die jeug betyds die kennis, belangstelling en politieke wil kan ontwikkel om die hernuwing van basiese onderwys as volwaardige oogmerk te erken, sal die ideale van ‘n beter Suid-Afrika verwesenlik kan word.

Die oogmerke wat die hernuwing van ons basiese onderwysstelsel sal ondersteun, is geletterdheidsprogramme vir voorskoolse- en grondslagfaseleerders op ‘n ongekende skaal, betroubare en moderne vervoerstelsels vir skoliere, en hoë gehalte onderwyseropleiding wat gepaard gaan met beter monetêre insentiewe vir onderwysers om hulle werklik aan te spoor om te belê in die toekoms van kinders.

Geletterdheidsprogramme moet met ‘n spesifieke fokus op moedertaalonderrig van stapel gestuur word. Die implementering van suksesvolle en lewensvatbare moedertaalonderrig gaan egter hand-aan-hand met die standaardisering van Afrika-tale. Grondslagfaseleerders wat Xhosa as Huistaal neem, sal vir jou vertel dat hulle in ‘iJanuary’ (i.p.v. EyoMqungu) verjaar. Die revolusionêre potensiaal van moedertaalonderrig wat in die langtermyn Suid-Afrika se ekonomie ‘n broodnodige hupstoot kan gee, is nie te versmaai nie, en die standaardisering van Afrika-tale is daarom ‘n ideaal waartoe akademici, met die ondersteuning van hul instansies, hulself volkome sal moet wend.

Weens ‘n gebrek aan befondsing, slegte beplanning en korrupsie van regeringskant moet die meerderheid Suid-Afrikaanse skoliere self ‘n plan maak om hul pad skool toe te vind – in baie gevalle deur van onbetroubare minibusse gebruik te maak. Hierdie toedrag van sake, asook onmenslike toestande by skole, spoor leerlinge aan om eerder op straat te vertoef. Moderne busstelsels vir skoliere soos dié in Amerika en Europa behoort ‘n lewensvatbare oogmerk vir DA-geleide metropole Kaapstad, Johannesburg en Tshwane te wees. DA-regerings kan baanbrekers in hierdie opsig wees.

‘n Reuse tekort aan leerkragte verhoed die Departement van Basiese Onderwys om van duisende ongekwalifiseerde onderwysers ontslae te raak. Karige pensioenvooruitsigte en salarisse noop onderwysers om die beroep te verlaat en jaarliks kwalifiseer omtrent drie keer minder onderwysers as wat benodig word. Waar daar wel onderwysers is, handhaaf Suid-Afrika die hoogste koers van onderwyser-afwesigheid in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) teen ‘n gemiddeld van bykans twintig dae per onderwyser per jaar – bykans twee keer meer as die SAOG-gemiddeld. Die staat sal eenvoudig beter monetêre insentiewe vir jongmense om gekwalifiseerde en toegewyde onderwysers te word, moet skep.

Al hierdie oogmerke wat die hernuwing en modernisering van basiese onderwys kan ondersteun, ter bevordering van Suid-Afrika se verenigbaarheid met die oogmerke van die vierde industriële revolusie en langtermyn ekonomiese groei, is ongelukkig ondergeskik aan die prerogatief van plaaslike en nasionale regerings. Indien ooit, kan dit jare neem om geïmplementeer te word en daar moet rekening gehou word met die verlammende effekte van korrupsie en leë beloftes.

Maar, as die reeds bemagtigde deel van die jeug sinnelose, verdelende gevegte oor identiteit, onderdrukking en bevoorregting kan vervang met sinvolle gesprekke oor die moontlikhede van basiese onderwys, om die belangrikheid van die oogmerke onderliggend aan die hernuwing van basiese onderwys te verstaan en praktiese oplossings in werking kan stel om self hierdie oogmerke na te streef – dán streef ons ware, regeringsonafhanklike transformasie na.

In die gees van ware transformasie sal universiteite praktiese oplossings moet fasiliteer om in die agtergestelde hoeke van ons samelewing broodnodige beleggings te maak. Dit beteken dat hulle onder andere grootskaalse programme op die been moet bring om hul studente by behoeftige skole af te laai om onderwysers te ondersteun. Afslag op studiefooie sal studente aanspoor om hieraan deel te neem, en hierdie afruiling sal universiteite in staat stel om die vraagstuk van onbekostigbare studentefooie direk aan te spreek – ‘n klassieke wenwen situasie.

Waardige oogmerke en praktiese oplossings rondom onderwys en opleiding wat Suid-Afrika kan red, sal egter ‘n doodloop tref tensy dit losgelaat word in ‘n kultuur wat gestalte gee aan John F. Kennedy se beroemde woorde: moenie vra wat jou land vir jou kan doen nie, maar vra eerder wat jy vir jou land kan doen.

Die bemagtigde jeug op kampusse, kolleges en in die korporatiewe wêreld kán merkwaardige dinge vir Suid-Afrika doen. Hulle kán belê in die geletterdheid, die syfervaardigheid, die kritiese denkvermoëns van die agt uit tien graad 4-leerders wat nie kan lees of skryf nie. As ons dít doen, oortref ons simboliek en bemagtig ons werklik. As ons dit nie doen nie, word ons land ‘n onderontwikkelde vergetelheid aan die suidpunt van Afrika. Hierdie is moontlik die belangrikste paradigmaverskuiwing wat Suid-Afrika vandag kan maak.

Tian Alberts