Die verstand en Sowell: Deel 1

 Die verstand en Sowell: Deel 1

Philasande Shongwe

Feite praat nie vir hulleself nie. Hulle praat vir of teen mededingende teorieë. Feite wat van teorieë of visioene geskei word, is bloot geïsoleerde interessanthede.

Thomas Sowell

Daar is eenmaal oor Thomas Sowell geskryf dat vele van sy briljante kwinkslae ongetwyfeld die toets van die tyd sou deurstaan weens sy Mark Twain-agtige talent vir aforismes met die deeglikheid van ’n datawetenskaplike. Dié stelling is deesdae meer opvallend as ooit tevore.

Thomas Sowell is op 30 Junie 1930 in Gastonia, Noord-Carolina, in ’n armoedige gesin van vyf gebore. Sy pa is enkele maande voor sy geboorte oorlede en sy werklose ma van vier kinders was nie in staat om na hom om te sien nie. ’n Jong Thomas is enkele jare voor die dood van sy ma aan haar tannie vir aanneming oorgegee.

Hier is ’n man, afkomstig uit erge armoede en gedwing om sonder sy ouers groot te word gedurende ’n tydperk wat die Groot Depressie verswarend en die Jim Crow-wette in volle swang was. Soos Jason Riley vertel: “Hy is van restaurante en behuising weggewys weens sy velkleur. Hy het sy hele lewe lank die pyn en vernedering van rassisme eerstehands ervaar … selfs toe hy in sommige restaurante toegelaat is, moes hy staan terwyl ander kon sit.” Sowell het een keer opgemerk dat hy “liewer honger sal ly as om ooit weer daardie verontwaardiging te verduur”. Thomas Sowell is gedwing om na Harlem te verhuis toe hy nege jaar oud was weens die groot migrasie van swart gesinne uit die Suide na die Noorde op soek na beter geleenthede. Hy moes hoërskool verlaat met die oog op werk soek om finansiële bystand te bied. Eers na ’n kort tydperk in die mariniers gedurende die Koreaanse oorlog kon Thomas Sowell teruggaan skool toe.

Die kinderjare dui die man aan nes die oggend die dag aandui

John Milton

Ondanks ’n buitengewoon moeilike opvoeding wat ongetwyfeld voldoende as ’n verskoning vir passiwiteit dien, het Thomas Sowell nie toegelaat dat sy omstandighede sy potensiaal strem nie. Nou ’n gerespekteerde sosiale teoretikus, gesindikeerde rubriekskrywer, historikus, skrywer (van ’n verbysterende 56 boeke, 70+ essays en meer as 30 boekresensies), fotograaf, senior genoot aan die Hoover-instelling, die ontvanger van ’n Ph.D. in ekonomie aan die Universiteit van Chicago – wat hy verwerf het toe hy onder die Nobelpryswenner, George Stigler, gestudeer het – het Thomas Sowell homself as ’n produktiewe openbare denker gevestig.

Tog, ten spyte daarvan, was Thomas Sowell vir ’n baie lang tydperk grotendeels onbekend. Hy het eenmaal in die kenmerkende beskeie toon van sy uitings die volgende hieroor gesê: “Ek is seker dat ten minste 95% van die mense in hierdie land [USA] nog nooit van my gehoor het nie, en dit is hoe dit moet wees.” Op ’n vraag oor hoe hy onthou wil word, het hy geantwoord: “Ek is nie seker of ek noodwendig onthou wil word nie. Ek wil graag hê die idees wat ek in die openbaar geplaas het, moet onthou word.”

Interessant genoeg was dit sy mentor-mentee-verhouding met ’n ander Nobelpryswenner, Milton Friedman, wat Thomas Sowell tot matige prominensie help dryf het. “[Sowell] [Sowell] het ’n kop van sy eie,” het Friedman gesê, “hy dring daarop aan om self sy besluite te neem en om die nodige bewyse in te win om ’n geldige oordeel te vorm … die woord ‘genie’ word so dikwels rondgegooi dat dit van sy betekenis gestroop word, maar tog dink ek Tom Sowell is na aan een wees”.

Die aantrekkingskrag van Marx

Die opvallende ongelykhede in rykdom in die Verenigde State was onmoontlik om te ignoreer. Nie net was daar meedoënlose rykdom in die lig van onophoudelike armoede nie, maar die kontras het ook in wese met ras verband gehou. Sowell was terdeë bewus daarvan. “Die kontras het my verbaas, en Marx het dit klaarblyklik verklaar,” het hy gesê. Karl Marx het met ’n oortuiging gepraat soos geen ander stem oor ongelykheid kon praat nie. Sy verklaring vir die vlakke van ongelykheid het vir Sowell so geboei en oortuig dat Thomas Sowell, selfs nadat hy kursusse by George Stigler en Milton Friedman gevolg het, “net soveel ’n Marxis gebly het” as wat hy was voordat hy hulle ontmoet het. Soos Sowell verduidelik, het hy geen alternatiewe verklarings vir die skynbaar onbegryplike ongelykheid in sy samelewing gekry nie. Die enigste beskikbare verklaring was dat die rykes ryk geword het deur by die armes te steel. Hierdie verduideliking vorm uiteindelik die grondslag van Sowell se Marxistiese interpretasie van die wêreld.

Waar oortuigings nie teen feite gekontroleer word nie, maar feite eerder moet voldoen aan die toets wat bepaal hoe dit met die heersende visie ooreenstem, is ons besig om onsself van terugvoer van die werklikheid af te sluit. Ongeag die verlede vlieg ons blindelings die toekoms in.

Thomas Sowell

Gedurende een somervakansie toe hy nog ’n nagraadse student was, het Sowell sy eerste professionele werk losgeslaan, ’n internskap by die Amerikaanse departement van arbeid. Paradoksaal genoeg was dit daardie somervakansie, toe hy vir die regering gewerk het, wat hom uiteindelik van Marxisme afgeraai het. “Ek het ’n paar dinge begin besef, onder meer dat die regering nie bloot die verpersoonliking van die algemene wil van die volk is nie. Regeringsinstellings het hulle eie institusionele belange.”

Sowell het ’n projek gekry wat vereis dat hy die invloede van minimum lone in Puerto Rico moes bestudeer. Die getalle blyk toe ’n negatiewe korrelasie te wees tussen die minimum loonkoers en die indiensnemingskoers in die bedryf waarvoor die minimum loon ingestel is, ten spyte van diegene in die arbeidsdepartement se sienings. Tog, toe hy hierdie bevindinge voorgelê het, wou die hiërargieë van die departement van arbeid dit nie aanvaar nie, alhoewel die syfers wat Sowell ingedien het deur die heersende ekonomiese literatuur bevestig is. Na deeglike en noukeurige denke het Sowell toenemend skepties oor staatsdepartemente se motiewe geraak. “Hulle klou bloot vas aan hulle werk … en erken dat sommige van hulle wette netto-negatiewe gevolge inhou wat hulle eie indiensneming sal bedreig,” het Sowell afgesluit. Dit was onder meer hierdie besef wat Sowell geleidelik van Marxisme afgeskrik het.

Wensdenke is nie idealisme nie. Dit is in die beste geval selfbederf en in die slegste geval selfverheffing. In beide gevalle is dit normaalweg ten koste van ander. Met ander woorde, dit is die teenoorgestelde van idealisme.

Thomas Sowell

Thomas Sowell se belangstelling in fotografie het vir hom ’n belangrike les geleer wat sedertdien in een van sy ander ikoniese kwinkslae ingebed is, naamlik “daar is geen oplossings nie, slegs kompromieë”. Met fotografie, waar die diafragma toegemaak word om op ’n voorwerp te help fokus, maar wat terselfdertyd die hoeveelheid lig wat in die prentjie filter proporsioneel verminder, moet die fotograaf voortdurend met ’n kompromie worstel. Net so moet openbare beleidsbeamptes ook met die kompromieë worstel wat onvermydelik die gevolge van verskillende optredes sal wees. Indien daar versuim word om hierdie rudimentêre standaard in die openbare beleid toe te pas, lei dit tot nadelige en soms onbedoelde gevolge.

Soms wil dit voorkom asof daar meer oplossings as probleme is. Met ’n verskerpte ondersoek blyk dit dat vandag se verskeie probleme die gevolg van gister se oplossings is.

Thomas Sowell

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.