Die vestiging van ’n geïntegreerde FV-bedryf in SA

 Die vestiging van ’n geïntegreerde FV-bedryf in SA

Tyren van der Spuy 

Die gebruik van hernubare energie het in die afgelope jare konsekwent toegeneem, wêreldwyd sowel as in Suid-Afrika. Ons land steun egter steeds swaar op fossielbrandstowwe. Dit beteken dat daar groot geleenthede vir die hernubare-energie-bedryf is om uit te brei en terselfdertyd enorme voordele vir die samelewing teweeg te bring.

Onder die moontlikhede in die hernubare-energie-mark is fotovoltaïese (FV-)sonkrag ’n belowende kandidaat weens Suid-Afrika se geografiese ligging, wat opbrengste bo die wêreldwye gemiddelde oplewer, en omdat die koste van FV-panele die afgelope jare aansienlik gedaal het. Dit is dus die moeite werd om te ondersoek watter uitwerking ’n geïntegreerde FV-bedryf in Suid-Afrika sou hê as dit die rooster kan ondersteun en afhanklikheid van fossielbrandstowwe kan verminder.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-assosiasie (SANEA) het hulle 2020-verslag oor energierisiko’s in Suid-Afrika op 30 Junie bekendgestel. Hulle redeneer daarin dat die oorskakeling vanaf steenkool na bronne van hernubare energie ekonomiese groei sal verbeter en werksgeleenthede sal skep. Die oorskakeling word vergelyk met ’n goudstormloop wat ekonomiese herstel na Kovid-19 kan stimuleer, maar slegs indien regulering meer steun vir die ontwikkeling van infrastruktuur in hierdie tyd van finansiële druk sou verskaf. Indien die FV-bedryf ontwikkel tot die punt waar dit die rooster doeltreffend kan onderhou, sal beurtkrag afgeskaal word. Dit sou die huidige wurggreep wat beurtkrag op ekonomiese groei uitoefen, verlig – iets wat ekonome by die Efficient Groep op -0,3% vir 2019 geraam het. ’n Vooruitstrewende FV-bedryf kan ook die las op Eskom verlig om in die huidige aanvraag te voorsien, en om terselfdertyd hulle eie instandhoudingskedule doeltreffend te kan deurvoer.

’n Geïntegreerde FV-bedryf behels die vervaardiging van panele, die ontwerp en installering van stelsels, na-installering-monitering, bedryfstelsels en instandhouding, sowel as verwante werksaamhede wat hierdie bedrywighede ondersteun. Sodoende kan die uitbreiding van die FV-sonkragbedryf in Suid-Afrika werksgeleenthede op ’n verskeidenheid vaardigheidsvlakke skep. Dít sal uiters waardevol wees, aangesien die inperkingsmaatreëls die werkloosheidskoers, wat alreeds hoog was, vererger het. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) voorspel dat dit in Desember 2020 35,313% sal bereik.

Die omgewing sal natuurlik ook baat by die verminderde gebruik van fossielbrandstowwe wat deur die uitbreiding van die FV-bedryf meegebring sal word, en so ook die welstand van mense wat naby kragopwekkingsfasiliteite woon. Die goedkeuring van die Geïntegreerde Hulpbronneplan (Eng. IRP2019) in Oktober 2019 was ’n tree in die regte rigting. Die oogmerk van die IRP is om die rol van steenkool te verminder en die benutting van hernubare energie en gas te verhoog. Daarteenoor toon die verslag Still Digging: G20 Governments Continue to Finance the Climate Crisis dat Suid-Afrika, sowel as talle ander G20-lande, steeds die kwynende fossielbrandstofbedryf met openbare fondse ondersteun. Sodanige befondsing het inderdaad toegeneem, vanaf R792 miljoen per jaar in 2013 tot 2015, tot R2,1 biljoen per jaar in 2016 tot 2018. Die gefaseerde benadering wat in die IRP uiteengesit word, beteken dat ons teen 2050 steeds beduidend op steenkool gaan staatmaak, hoewel voldoening aan die Ooreenkoms van Parys verg dat steenkool teen 2040 uitgefaseer sal wees. Meer druk moet dus op die regering uitgeoefen word om op koers te bly vir hierdie teikens. Die voorgenome uitbedryfstelling van 35 GW steenkoolkragkapasiteit teen 2050 behoort, tesame met die koolstofbelasting wat in Junie 2019 ingestel is, die weg te baan vir ’n groeiende vraag na FV-sonkrag in die volgende dekade.

Die gebruik van sonkrag is reeds in die kommersiële sektor aan die toeneem. Pick ’n Pay het hulle energie-intensiteit per vierkante meter sedert Junie 2019 met 36,9% verlaag deur middel van gedragsveranderings en tegnologiese verbeterings, en terselfdertyd hulle sonkraginstallasies uitgebrei. Ruimskootse belastingaftrekkings vir ondernemings, wat op ’n vermindering van 28% in die koste van die geïnstalleerde stelsel uitwerk, sowel as die positiewe publisiteit, behoort die kommersiële sektor aan te spoor om hulle hierby aan te sluit. Nietemin kan ’n mate van druk vanaf die publiek tot verdere aansporing dien.

Die bedryfsektore wat met die ontwerp, installering en instandhouding van FV-sonkrag in Suid-Afrika verband hou, toon duidelike groei en behoort voortgesette ondersteuning te geniet. Die ideaal sou wees dat regulasies verslap word om die potensiaal van hierdie aktiwiteite ten beste te ontgin. Dit sou dan die vervaardiging van modules bevorder, wat die bedryf sal beskerm teen die verswakking van die rand weens die regering se inperkingsmaatreëls en Moody’s se onlangse verlaging van die land se beleggingsgradering.

Daar word huidig geen invoerbelasting op sonpanele gehef nie, en plaaslike vervaardigers sukkel om met goedkoper Chinese produkte mee te ding. ’n Geïntegreerde plaaslike FV-bedryf sal in ’n groter gedeelte van die aanvraag kan voorsien, wat werksgeleenthede sal skep en binnelandse inkomste kan verhoog. Namate ander Afrikalande hulle sonkragbedrywe ontwikkel, kan Suid-Afrika sigself as uitvoerder van FV-sonpanele posisioneer. Die Suid-Afrikaanse paneelvervaardiger ARTsolar het in 2019 ’n hofaansoek gebring om invoerbelasting op FV-modules te hef ten einde plaaslike vervaardigers te beskerm. Hoewel dit plaaslike werksgeleenthede sou beskerm het, is die teenargument dat die gepaardgaande verhoogde koste na die kliënt oorgedra sal word, wat uiteindelik die vraag na FV kon onderdruk. Sodanige afname in aanvraag sou ook die ongewensde uitwerking hê dat Eskom se monopolie oor kragopwekking versterk word. ’n Beter uitweg sou kon wees om die Suid-Afrikaanse FV-vervaardigingsbedryf regstreeks te ondersteun.

Baie munisipaliteite laat nou kragterugvoering na die rooster toe wat deur middel van kleinskaalse ingebedde opwekking (Eng. SSEG) van hernubare energie minder as 1 MW by residensiële, kommersiële en industriële persele toelaat. Die ander munisipaliteite moet steun ontvang om gepaste heffings in te stel en die regulasies goed te keur wat dit sou verg om so gou moontlik in hierdie voetspore te volg.

Laastens is voortgesette navorsingsontwikkeling oor energiestoring nodig. Verbeterde batterytegnologie sowel as nuwe ontwikkelinge in die storing van termo-energie bied belowende moontlikhede vir die storing van energie vir gebruik buite die spitsure waartydens sonkrag opgewek word.

Die voordele van ’n sterk, geïntegreerde FV-bedryf is heeltemal duidelik, maar die pad na die ontwikkeling daarvan verg meer aktiewe optrede vanuit die openbare sektor. Ekonomiese stimulus moet gerig word op die langtermynvoordele wat dit inhou om die bedryf te ondersteun. Verder moet die regering en privaat ondernemings, sowel as Suid-Afrikaanse burgers onderling, saamwerk om ’n robuuster vervaardigingsbedryf vir FV-modules te bevorder. Die verhoogde gevoel van eensgesindheid onder Suid-Afrikaners wat deur die Kovid-19-krisis opgebou is, kan stukrag aan hierdie poging verleen waardeur die sonkragbedryf ekonomiese herstel kan aandryf.

Tyren van der Spuy

http://www.nmonline.co.za