Entrepreneurskap ’n oplossing vir SA se sosio-ekonomiese probleme

 Entrepreneurskap ’n oplossing vir SA se sosio-ekonomiese probleme

Tariq Khan

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Universiteite versuim om studente bewus te maak van die rol wat vryemarkbeleide kan speel om die bevolking te bemagtig met betrekking tot die voorwaardes wat in die konteks geleenthede ontmoedig. Prakties gesproke kan Suid-Afrika op drie belangrike maniere toestande skep wat gunstig vir die bekamping van werkloosheid is.

Tariq Khan

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal van 2019 tot 29% gestyg – die hoogste syfer sedert die eerste kwartaal van 2008. Suid-Afrika sal nie daarin kan slaag om armoede te oorkom tensy beleidmakers ’n diepgaande, meer beduidende benadering tot die skep van ekonomiese geleenthede volg nie. Een kenmerk van hierdie benadering is dat dit entrepreneurs help om sukses te behaal deur rompslomp en veeleisende regulasies te verminder.

Alhoewel prominente Suid-Afrikaanse politici die staat as die belangrikste katalisator vir ekonomiese ontwikkeling beskou, wys navorsing deur die Wêreldbank dat ’n kritieke paradigmaskuif benodig word wat die staat se rol in ontwikkeling betref. Uit hierdie navorsing is daar bevind dat Nieu-Seeland, Singapoer, Denemarke, China en Suid-Korea die top vyf lande is wat dit maklik maak om ’n onderneming te begin. Suid-Afrika beklee die 82ste plek op die lys. Dit is opmerklik dat al die lande wat onder die top vyf val, werkloosheidskoerse van onder 6% het. ’n Belangrike katalisator vir die skep van ekonomiese geleenthede is dus nie die staat nie, maar eerder ’n ekonomie wat vrye ondernemings verwelkom. Skynbaar is daar ’n verband tussen ’n land se vermoë om werkloosheid te bekamp en die gemak waarmee ’n onderneming daar begin kan word. Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer bevestig dié verband. Kortom, miljoene Suid-Afrikaners is uitgesluit uit die ekonomie vanweë die probleme om ’n onderneming te begin.

Universiteite versuim om studente bewus te maak van die rol wat vryemarkbeleide kan speel om die bevolking te bemagtig met betrekking tot die voorwaardes wat in die konteks geleenthede ontmoedig. Prakties gesproke kan Suid-Afrika op drie belangrike maniere toestande skep wat gunstig vir die bekamping van werkloosheid is.

Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika

Eerstens moet Suid-Afrika ’n proaktiewe stap doen deur die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te gebruik. Hierdie wet is in 2000 aanvaar om ekonomiese samewerking tussen die Verenigde State en Afrika aan te moedig. Suid-Afrika besef nie die voordele wat aan die land kan toeval deur die volle gebruik van hierdie wet nie. Minister Ebrahim Patel het erken dat Afrika suid van die Sahara slegs 13% van die Agoa-tarieflyne gebruik. Indien hierdie tarieflyne behoorlik gebruik word, kan produkte belastingvry in die Amerikaanse mark verhandel.

Klein, medium en mikro ondernemings

Tweedens moet Suid-Afrika ’n omvangryke program opstel wat die sektor vir klein, medium en mikro ondernemings (KMMO’s) hersien. Die Wêreldbank het in 1999 ’n opname onder entrepreneurs in Gauteng gedoen om vas te stel wat hul uitdagings was in verhouding tot die doelwitte om in die mark te groei en meer werkers in diens te neem. Uit die opname is daar bevind dat heelwat entrepreneurs sukkel met toegang tot kapitaal, dat regeringskontrakte en verkrygingstelsels onvoldoende is, en dat die invloed van internasionale handel in die binnelandse KMMO-omgewing in Suid-Afrika beperk is. Laasgenoemde bevinding verbeter die begrip van die manier waarop Suid-Afrika onderpresteer in die benutting van internasionale handelsgeleenthede.

Lewensvatbaarheid

Laastens moet Suid-Afrika sorg dat dit gasvry en finansieel lewensvatbaar bly vir internasionale beleggers. Volgens navorsing wat deur Daron Acemoglu en James Robinson gedoen is, is ’n belangrike pilaar in florerende ekonomieë regoor die wêreld ’n stelsel van privaat eiendomsreg. Die afgelope jaar speel die Suid-Afrikaanse regering met die land se vooruitsigte om armoede uit te wis deur planne vir onteiening sonder vergoeding.

Alhoewel Suid-Afrika hoë werkloosheidsvlakke in die gesig staar, is hierdie probleem nie onoorkombaar nie, maar dit blyk immuun te wees teen oplossings wat gewoonlik tot werkskepping lei. Deur die implementering van beleid wat die potensiaal kan ontsluit van individue met ’n lewendige belangstelling in entrepreneurskap, kan Suid-Afrika een van sy belangrikste sosio-ekonomiese struikelblokke oorbrug.

Tariq Khan