Filosofiese Vrydag 1: Hoekom Hayek saakmaak

 Filosofiese Vrydag 1: Hoekom Hayek saakmaak

Philasande Shongwe

Die vreemde taak van ekonomie is om aan mense te demonstreer hoe min hulle regtig weet van wat hulle dink hulle kan ontwerp.

Friedrich Hayek

Die vloei van geskiedenis is ’n bestendige stroom wat die meeste mense uitseil, maar elke nou en dan bou ’n man ’n dam – deur middel van blote krag van wil, verstand en ongeëwenaarde intellektuele vaardighede – wat die koers van geskiedenis herlei. Friedrich August von Hayek was so ’n man. Hayek, gebore op 8 Mei 1899 in die Oostenrykse hoofstad Wene, het een van die wêreld se invloedrykste ekonome en politieke teoretici geword. Oor die jare heen het hy ’n langdurige ekonomiese debat oor die rol van die regering in die markte aangewakker.

Terwyl John Maynard Keynes beskou word as die kampioen van dinamiese regeringsingryping in die markte, word Hayek as die vaandeldraer van die laissez-faire kapitalisme beskou. Vir sy baanbrekerswerk oor die teorie van geld, is die Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe in 1974 aan Hayek toegeken. Een ding moet egter kristalhelder bly: hoe vernuftig of onverstandig, edel of boos, opwindend of dempend ook al Hayek beskou word, kan die beduidendheid van sy bydraes nie onderskat of misgekyk word nie.

The Road to Serfdom (1944)

Ondemokraties, onderdrukkend, irrasioneel, verbonde aan dwang en gevangenskap, gefokus op sentrale beplanning en veglustig teenoor vryheid, smalend teenoor individualisme en bytend vir sosiale instellings: sosialisme, in Hayek se oë, berus baie op gewete. The Road to Serfdom, gepubliseer aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is geskryf met die oog op, onder andere, Nasionaal-Sosialisme. Hayek het geïdentifiseer dat dit die idee was om individuele vryhede in die strewe na ’n “algehele kollektiewe goed” te beperk wat die spreekwoordelike weg na politieke hel gebaan het. Dit was die bereidwilligheid van individue om hulle besluitnemings- en kritiese denkfakulteite aan ’n sentrale komitee van burokrate af te staan wat samelewings in ’n totalitarisme laat vasloop het.

Ons leer uit die geskiedenis dat dikwels waar die ekonomie verkeerd geloop het, ander dinge gepaard daarmee ook verkeerd geloop het.

Friedrich Hayek

Ons leer uit die geskiedenis dat dikwels waar die ekonomie verkeerd geloop het, ander dinge gepaard daarmee ook verkeerd geloop het. Dit is omdat mense in tye van ekonomiese verval, wanneer hulle swaarkry en op hulle kwesbaarste is, die mees vatbaar vir slegte idees is.

Ooreenkomstig was dit in die konteks van ekonomiese onstabiliteit te midde van die Groot Depressie dat die Nazi’s se opgang tot mag verhaas is. Die Duitse bevolking het soveel aanklank gevind by Hitler se belofte om Duitsland weer tot sy vroeëre gloriedae te herstel, dat hulle sy regime met hulle stemme vertrou het. Hayek was terdeë bewus hiervan en het gewaarsku dat “noodgevalle nog altyd die voorwendsel was waarop die beskerming van individuele vryheid verweer is”. Verskeie voorbeelde het later hierdie oordeel bekragtig.

Die reaksie op die finansiële krisis van 2008 was so ’n voorbeeld. Geloof in die regering se beplanning is in die publieke verbeelding verweer. Die bewys hiervan was dat The Road to Serfdom in 2010 die nommer een plek op Amazon se beste verkoperslys gehaal het, ten spyte daarvan dat dit 66 jaar gelede geskryf is. Die wêreldwye reaksie op die COVID-19-pandemie het soortgelyke minagting teen regerings regoor die wêreld en hulle neigings tot outoritarisme veroorsaak. Hayek se bydraes bly opmerklik net so relevant soos ooit tevore.

Die grondwet van vryheid en die noodlottige verwaandheid

Die volgende woorde van Hayek gee ’n samevatting van die boodskap wat uit sy latere werke afgelei kan word: “die vreemde taak van ekonomie is om aan mense te demonstreer hoe min hulle regtig weet van wat hulle dink hulle kan ontwerp.”

Die wêreld is ongelooflik kompleks en kennis word wyd versprei. Daar woon miljoene mense op die planeet, met duisende verskillende kulture, wie se behoeftes en begeertes vir ons onkenbaar is omdat ons nie hulle tale praat nie. Miljoene transaksies en besluite word elke sekonde van elke dag geneem deur mense wat ons nie ken nie, op plekke waar ons nog nie was nie. Hulpbronne is oneweredig oor die planeet versprei, sodat dit wat geen waarde vir sommige inhou nie egter waardevol vir ander is. Natuurrampe teister sommige dele van die wêreld meer as ander. Geen menslike verstand kan oor al die kennis beskik wat die werking van die samelewing dikteer nie. Dit is gevolglik deur die besef van die groot omvang van ons onkunde oor die wêreld, dat ons kan afsien van die verwaande idee dat ons oor genoeg kennis beskik om ’n ekonomie effektief te beplan en volgens ons wense op te stel. Dit is hierdie presiese idee wat Hayek die “die noodlottige verwaandheid” noem.

Stel jou voor dat ons ’n meganisme gehad het wat al hierdie inligting kon vaslê en ons die nodige seine kon gee om, ondanks ons onkunde, ingeligte besluite te neem? Dink aan ’n stelsel wat dit moontlik maak dat mense wat mekaar nog nooit ontmoet het nie, hulle lewens ter bystand aan mekaar kan wy, selfs al is dit nie hulle bedoeling nie? Gelukkig hoef ons dit nie voor te stel nie, want so ’n meganisme in een of ander vorm is al vir meer as 300 jaar aan die mensdom bekend. Die vrye markte – al is dit onvolmaak – het aan ons ’n verskeidenheid kragtige instrumente vir besluitneming voorsien, waarvan relatiewe pryse miskien die belangrikste is.

Beskou die volgende voorbeeld: veronderstel dat jy ’n passievolle Sri Lankaanse teeverbruiker is wat in Suid-Afrika woon. Jy stap eendag na jou gewone kruidenierswinkel toe en tot jou verbasing het die prys van jou gunsteling tee verdubbel. Jy is steeds vasbeslote om tee te koop, maar omdat jy nie jou eerste keuse kan bekostig nie, besluit jy om Keniaanse tee te koop. Jy kom later gedurende die week agter dat daar ’n droogte in Sri Lanka was. Jy is stomgeslaan oor die nuus en jy kom vinnig agter dat die verdubbeling van die prys ’n direkte gevolg van die droogte is. Wat jou nog meer verstom, is dat jy, ondanks jou gebrek aan kennis, die regte keuse gemaak het deur ’n alternatief aan te skaf. Alhoewel jy nie geweet het wat die verandering in die prys veroorsaak het nie, was dit nie nodig om te weet nie. Die rede hiervoor is dat pryse as surrogate van kennis optree en dat ons, met die omvang van ons onkunde en al, steeds rasionele besluite kan neem.

Dit is heeltemal rasioneel om ware tog onvolmaakte kennis te verkies, selfs al is dit onbepaald en onvoorspelbaar, bo ’n voorwendsel van presiese kennis wat waarskynlik vals is.

Friedrich Hayek

Die argument vir vryheid – skryf Hayek – is nie ’n argument teen organisering nie, wat een van die kragtigste instrumente uitmaak wat die menslike redenasie kan gebruik. Dit is eerder ’n argument teen alle organisering wat hegemonisties, monopolisties en eksklusief is.

This image has an empty alt attribute; its file name is image-25.png
Philasande Shongwe is finansiële bestuurder en Nocturnal Unwrap potgooi-gasheer by Nova Mentis.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.