Filosofiese Vrydag 2: Hayek oor geregtigheid en ’n vrye samelewing

 Filosofiese Vrydag 2: Hayek oor geregtigheid en ’n vrye samelewing

Philasande Shongwe

As alle mense op beter dinge moes wag totdat dit vir almal voorsien kon word, sou daardie dag in baie gevalle nooit sy verskyning maak nie. Selfs die armstes van vandag het hul relatiewe materiële welstand te danke aan die resultate van ongelykheid in die verlede.

Friedrich Hayek

Reg, wetgewing en vryheid

Daar gaan selde ’n dag verby waar iemand nie die term “sosiale geregtigheid” hoor nie. Wat presies beteken dit, en hoe kan dit bereik word? In sy boek The Mirage of Social Justiceplaas Hayek hierdie twee vrae onder die vergrootglas.

Of dit nou vanuit ’n Darwinistiese of ’n Hayekiaanse perspektief beskou word, geld die volgende stelling steeds: baie van dit wat ons vandag in die wêreld sien ontvou, is die resultaat van natuurlike, onontwerpte, spontane prosesse. Die fundamentele beginsels waarop die huidige beskawing voortgebou word, het hul bestaan te danke aan ongebonde menslike vooruitgang. Hayek het begin deur ’n onderskeid tussen wetgewing en die reg te tref. Wetgewing, het hy betoog, verwys na ’n stel reëls wat regeringsamptenare bewustelik ontwerp en op die samelewing oplê. Die reg, daarenteen, verwys na onontwerpte reëls wat uit sosiale interaksies tussen mense blyk.

Inderdaad, baie van dit wat hedendaags in wetgewing opgeneem is, was aanvanklik die eenvoudige produk van ongekodifiseerde menslike probeer- en terugslae. Hoe weet ons dat ons nie voor ander mense in die ry moet indruk nie, of dat ons eerder ons sitplek aan ’n ouer en/of gestremde persoon in ’n openbare ruimte moet afstaan? Dit lyk asof mense van nature die kortste en maklikste roetes tussen vertrek- en bestemmingspunte navigeer. Waar is hierdie reëls andersins te vinde as in die onsigbare, stilswyende sosiale kontrak?

Inderdaad, baie van dit wat hedendaags in wetgewing opgeneem is, was aanvanklik die eenvoudige produk van ongekodifiseerde menslike probeer- en terugslae. Daar is eenvoudig te min hulpbronne om vir die skynbaar toenemende hoeveelheid menslike begeertes voorsiening te maak. Dit is onder meer om hierdie rede dat jy jou reg om gemaklik te sit moet opgee vir die ouderling op krukke wat langs jou staan. Dit is die aard van sommige ongelykhede wat in die samelewing ontstaan.

Wie dra die skuld?

Wie kan dan die skuld hiervan dra, en hoe kan sulke ongelykhede reggestel word? Hoe moet verspreidingsgeregtigheid (“distributive justice”) nagestreef word, en uiteindelik bereik word, as die vrye spel van selfbevredigende besluite wat deur ongedwonge individue geneem word tot sekere ongelykhede lei? Hayek stel voor dat solank ons aan die definisie van “geregtigheid” as ’n kenmerk van individuele menslike optrede getrou bly, dit onmoontlik is om sosiale verspreidingsgeregtigheid te bewerkstellig sonder om individuele vryhede in die proses te ondermyn. Dit het vir Hayek aangespoor om die volgende te sê: “Ek is seker dat niks soveel skade gedoen het om die geregtelike beskerming van individuele vryheid te vernietig soos die strewe na hierdie illusie van sosiale geregtigheid nie.”

Gedefinieerde onverenigbaarheid

Om te veronderstel dat die wêreld “regverdig en billik” sou wees as dit nie vir agterbakse individue was wat almal en alles uitbuit nie, is verkeerd. Die natuur is per definisie onbillik. Uitbuiting was ongetwyfeld algemeen, en dit is steeds gereeld die geval. Regstellings moet beslis waar moontlik aangebring word. Daar is egter eenvoudig geen basis vir die verwagting van “regverdige en billike” uitkomste in ’n vrye samelewing nie, selfs nie eens nadat “regstellings” aangebring is nie.

Solank ons ’n vrye samelewing wil hê waarin mense hul drome en wense individueel kan nastreef, moet ons besef dat vryheid en ’n begrip van “sosiale” geregtigheid onversoenbaar is. Geregtigheid beteken niks indien dit nie as ’n kenmerk van individuele menslike optrede beskou word nie. Alhoewel ’n gelykheid van regte en ’n noodsaaklike voorwaarde vir individuele vryheid onder ’n beperkte regering moontlik is, skryf Hayek, kan ’n eis vir gelykheid van materiële posisie slegs deur ’n regering met totalitêre magte nagekom word.

Ons is bereid om byna enige verklaring van die huidige krisis van ons beskawing te aanvaar, buiten een: dat die huidige toestand van die wêreld die gevolg van werklike foute van ons kant af kan wees, en dat die strewe na sommige van ons mees gekoesterde ideale blykbaar resultate lewer wat heeltemal anders is as wat ons verwag het.

Friedrich Hayek

Vrye samelewing

Om in ’n samelewing te leef waar sokkerspelers meer as dokters verdien, kan deur baie mense as immoreel beskou word. Dit is beslis instinktief aanstootlik en is teenstrydig met dit wat ons as regverdig beskou. Maar as ons ’n samelewing wil handhaaf wat van wyd verspreide kennis gebruik maak – ontoeganklik vir die enkele individu – moet ons dit eenvoudig verdra.

Mense in ’n vrye samelewing en vrye mark word nie vir adel of suiwer bedoelings beloon nie, maar vir suksesse en vir dit wat die publiek vrylik besluit. ’n Doeltreffende samelewing kan eenvoudig nie regverdig wees nie. Ooreenkomstig kan ’n ondoeltreffende samelewing – al is dit regverdig – nie die huidige bevolking van die planeet onderhou nie. Dit is dan ook geen verrassing dat samelewings wat bewustelik na regverdige verspreidings gesoek het, ’n pad gevolg het wat die hele stelsel vernietig het nie.

Ons sal dalk moet leer om ons instinkte te dissiplineer, wat ons sal dwing om die gevoel te onderdruk dat sekere verskille in beloning onregverdig is, en ons sal moet besef dat slegs ’n stelsel waar ons onregverdige verskille in beloning verdra, die huidige bevolking van die wêreld kan onderhou.

Friedrich Hayek

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.