Gratis is duurder

 Gratis is duurder

Philasande Shongwe

Hiedie artikel is oorspronklik April 2020 in die Eerste Uitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Die sukses van ’n beleid berus nie op die veronderstelde edele bedoelings daarvan nie, maar op die onaantasbare pragmatisme daaragter.

Philasande Shongwe

Die brandende kwessie in die voortslepende diskoers oor gratis onderwys (miskien selfs meer as die brandstigting by geboue van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Februarie) is hoe ’n mens ’n ekonomie bou wat vir alle Suid-Afrikaners werk. Volgens ons ontslape oudpresident Nelson Mandela is onderwys onmiskenbaar die belangrikste pilaar van enige welvarende samelewing. Dit kom dus nie as ’n groot verrassing dat baie Suid-Afrikaners 2017 as ’n enorme sprong vooruit beskou nie, gegewe voormalige president Jacob Zuma se aankondiging van gratis hoer onderwys vir “arm en werkersklas” studente. Ongelukkig is die realiteit van “gratis” onderwys nie so rooskleurig of eufories nie.

Lesse uit verlede

Kundiges in geskiedenis en ekonomie het sedert die bekendstelling van die uitdrukking “die armes en die werkersklas” in die politieke sfeer tydens die middel-19de eeu al hoe meer met die frase te doen gekry. Ekonomiese beleide is sedertdien ingestel om historiese ongeregtighede reg te stel en die benadeeldes te bemagtig. Die altruistiese behoefte om die armes te help, is nie nuut of uniek aan Suid-Afrika nie. Paradoksaal gesproke het dit ons gewys dat die weg na die hel dikwels met goeie bedoelings geplavei is.

’n Les wat Suid-Afrika skynbaar onwillig is om te leer, is dat lande soos Duitsland en Noorwee se aandrang op gratis onderwys van gehalte met ’n sterk ekonomie gepaard gaan. ‘n Sterk ekonomie dien as voorloper vir die haalbaarheid van gratis hoer onderwys. Daarbenewens is dit niks anders as gewoon obskurantisme wat die ontkenning van die pynlike lesse uit die Mosambiekse FRELIMO-distopie en die mislukte gratis hoeronderwysmodel van Kenia aanmoedig nie. Die hoeronderwysdeelnamevlak onder FRELIMO in die mid-1990’s was laer as 1% en is tans laer as 10%, terwyl ’n deelnamevlak van minstens 50% volgens internasionale standaarde ideaal is. Kenia kon hul universiteitsinskrywings van 571 studente in 1964 tot 5 411 in 1980 verhoog. Afgesien daarvan kon slegs 14% van laerskoolleerders in die 1970’s die akademiese prestasie behaal om aan ’n hoerskool te kon inskryf wat deur die staat bedryf word.

Mites oor onderwys

Daarbenewens behoort enkele mites uit die weg geruim word. Die eerste en algemeenste is dat gratis hoer onderwys die armes help. Alhoewel die afskaffing van tersiere onderriggelde die vraag na tersiere onderrig verhoog, is dit ewe waar, en waarskynlik van groter belang, dat die aanbod onveranderd gebly het. Slegs ongeveer 5% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar is aan universiteite ingeskryf. Dit beteken dat universiteite volgens hul bestaande kapasiteit ’n geringe 18% van Suid-Afrikaanse matrikulante kan akkommodeer. Die sukses van ’n beleid berus dus nie op die veronderstelde edele bedoelings daarvan nie, maar op die onaantasbare pragmatism daaragter.

Dit is ’n ongemaklike waarheid dat toegang tot universiteite deesdae nie minder moeilik is as wat dit ’n paar dekades gelede was nie en dit bly ’n wedyweringsgeleentheid tussen studente dwarsoor die wereld. Minderbevoorregte studente wat die swakste skole in die land bywoon, vaar gevolglik swak teenoor hul meerbevoorregte ewekniee.

Die tweede aanspraak rakende gratis hoer onderwys waarmee gerus weggedoen kan word, is dat dit sogenaamd gratis is. Politici gebruik dikwels eufemistiese taal om hul kiesers te mislei. Die ANC het te midde van die tegniese resessie verklaar dat Suid-Afrika “negatiewe groei ervaar”. Dit is ’n ernstige vergissing, aangesien die ekonomie nie negatief groei nie – maar wel inkrimp. Die Wereldbank het onlangs ’n artikel gepubliseer waarin diepe besorgdheid uitgespreek word oor “Suid-Afrika se gratis onderwysplan van R172 miljard” wat totaal in stryd is met die Suid-Afrikaanse ekonomie, ’n ekonomie wat sedert president Cyril Ramaphosa aan bewind gekom het, aansienlike agteruitgang ervaar.

Benewens hierdie eietydse ekonomiese probleme, het die universiteitsuitvalsyfer nie verlangsaam nie. ’n Ongelooflike 47% van die bogenoemde 18% matrikulante wat aan universiteite ingeskryf is, staak hulle studies. Dit alles is ondanks die afskaffing van studiegelde. Van die 53% wat gradueer (wat 9,5% van alle matrikulante is), bly 31% werkloos.

Gratis is nie haalbaar nie

Indien die voorsiening van gelyke geleenthede vir studente ongeag hul agtergrond die belangrikste doelwit is (wat dit inderdaad moet wees), is gratis hoer onderwys nie die antwoord nie. Gratis onderwys is nie haalbaar nie en word boonop nie op die regte vlak geimplementeer nie.

In plaas daarvan behoort die perdebynes van die Nasionale Kurrikulum vir Basiese Onderwys (NKBO) (wat primere sowel as sekondere onderwys omvat) die hoogste prioriteit te geniet. In ’n studie wat die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling in 2015 uitgevoer het, het Suid Afrika 75ste uit 76 lande gevaar, inderdaad ’n klaaglike mislukking. Die toenemende afwesigheidsyfer onder onderwysers vererger natuurlik hierdie probleme.

Suid-Afrika behoort Zimbabwe se voorbeeld te volg deur ’n internasionale kurrikulum te aanvaar, welke stap gemaak het dat hulle met een van die beste onderwysstelsels ter wereld kan spog. So ’n skuif sou ook die uitvalsyfer effektief beheer en verseker dat studente beter op die universiteitslewe voorberei is. Die kennis wat in wiskunde, Engels, wetenskap, rekeningkunde en ekonomie verwerf word, is universeel. Die standaard waarop hierdie vakke onderrig en getoets word, behoort derhalwe in pas met hul universele aard te wees en nie in die gedrang te kom nie.

Dit is belangrik dat die aanvaarding van ’n internasionale kurrikulum en die bewaring van plaaslike kultuur en kennis nie noodwendig onderling uitsluitend is nie. Dit is inderdaad moontlik om struktureel ’n Britse of Amerikaanse kurrikulum te aanvaar, maar nogtans tradisioneel Suid-Afrikaanse/Afrika-leringe onder meer deur gefokusde geskiedenissklasse te kan bewaar.

Daarbenewens beteken die aanvaarding van ’n internasionale kurrikulum nie die afskaffing van inheemse tale en geskiedenis in skole nie. Plaaslike tale kan en behoort aangeleer te word, aangesien dit nuttige literatuur bevat van gerespekteerde inheemse skrywers wie se kennis van die inheemse tale en geskiedenis belangrike insigte in die plaaslike kulture bied. Plaaslike geskiedenis moet ook voorrang geniet.

Verder behoort Suid-Afrika ’n vergoedingstelsel vir onderwysers te implementer wat nie net op hul bywoning gebaseer is nie, maar ook aan die slaagsyfer van hul studente gekoppel is. Dit sal harde werk beloon en onbevoegdheid en apatie ontmoedig.

Paradigmaverskuiwing

Natuurlik is ekonomiese gesondheid ’n integrerende deel van onderwysgesondheid. ’n Ekonomie wat onder skuld, afgraderings van beleggings, korrupsie, en voortdurende resessies gebuk gaan, is eenvoudig onaanvaarbaar. As sodanig moet die verantwoordelikheid om minderbevoorregte studente op te lei nie op die skouers van ’n enkele organisasie rus nie, soos tans met die Nasionale Finansiele Hulpskema vir Studente (NSFAS) in Suid-Afrika die geval is nie. Hierdie verantwoordelikheid behoort eerder tussen private en openbare ondernemings versprei te word, wat dit kan bekostig. Bystand in hierdie verband sal druk op die fiskale beursie verlig en die regering in staat stel om meer op die bou van universiteite te fokus. Gevolglik behoort universiteitsinname te verbeter, tesame met die gehalte van die onderrig aan bestaande universiteite.

Studente wat nie universiteitsopleiding wil deurloop (of dit nie kan bekostig) nie, moet ook nie oorgehaal word om te dink dat ’n graad alles is nie. Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO )kolleges bied wel ’n goeie alternatief. Dit berei studente in ’n korter tydperk as universiteite voor vir die werkswereld, en is aansienlik goedkoper. Die stigma rondom hierdie kolleges is dat hulle kwalifikasies aanbied wat minder in die werkswereld betaal as die wat universiteite aanbied. Al is dit oor die algemeen waar, is die keuse vir die meeste Suid-Afrikaners nie tussen ’n hoe loon en ’n lae loon nie, maar tussen ’n lae loon en geen loon nie.

Gratis onderwys is onlosmaaklik deel van ’n gesonde ekonomie en moet teen daardie agtergrond geimplementeer word. Indien nie in ons eie belang nie, dan in belang van die miljoene mede-Suid-Afrikaners wie se armoede op sy beste as ’n politieke stormram gebruik word.

This image has an empty alt attribute; its file name is image-25.png
Philasande Shongwe is finansiële bestuurder en Nocturnal Unwrap potgooi-gasheer by Nova Mentis.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.