Hayek oor privaatgeld

 Hayek oor privaatgeld

Philasande Shongwe

Die beskikbare literatuur verskaf geen antwoord op die vraag waarom ’n regeringsmonopolie van die voorsiening van geld universeel as onontbeerlik beskou word nie. … Dit het die nadele van alle monopolieë.

Friedrich Hayek

Die belangrikheid van geld as ’n instrument in die werking van ’n funksionele samelewing kan nie oorskat word nie. Dit is ons verhouding daarmee (of die gebrek daaraan) wat oor die algemeen bepaal hoe suksesvol of oneffektief ons samelewings is. Die vlak van hedendaagse beskawing sou, sonder die konsep van geld, eenvoudig nie moontlik gewees het nie. Maar mense praat selde oor die onderwerp van geld in vergelyking met hoe dikwels en openhartig daar oor ander onderwerpe gepraat word.

Waarom is dit so? Vir iets so belangrik vir ons ontwikkeling as ’n spesie, kry geld heeltemal te min aandag. Dit blyk ’n uitgemaakte saak in die oë van baie mense te wees dat geld slegs hanteer moet word deur die owerhede wat verantwoordelik is vir die verspreiding daarvan.

Dit is verwarrend omdat groot nasies op hul knieë gebring is weens die feit dat geld in die hande van die sentrale owerhede gelaat is. Die verhale van die Weimar Republiek, Hongarye, Zimbabwe, Venezuela, Roemenië, ensovoorts, is alles verhale van wat plaasvind wanneer sentrale owerhede te veel onbeheerde vryhede met die drukpers kry. Die ergste gevalle van menslike ontbering in die onlangse geskiedenis kan self aan die monopolie van ’n sentrale owerheid op die verskaffing van geld gekoppel word.

Die inflasionêre beleid wat die Federale Reserweraad tussen 1921 en 1929 gevolg het, soos blyk uit Murray Rothbard se “America’s Great Depression”, toon aan dat dit die sentrale bank inmenging in die mark was, in stede van bespiegeling, wat die depressie veroorsaak het. Boonop het die goedkoop krediet wat die mark weens die Federale Reserweraad se kunsmatige lae rentekoerse versadig het, die bateborrel geskep wat uiteindelik in 2008 gebars het.

Hayek redeneer dat “die oorsprong en bron van alle geldelike kwaad die monopolisering van die regering op geld is”. Soos alle ander monopolieë wat die wêreld al gesien het, het die regering se monopolie oor die verskaffing van geld baie mense uitgebuit. Miljoene is verarm en miljoene is besteel. Die erosie van die koopkrag na willekeur het slagoffers van verantwoordelike burgers en miljardêre van korrupte politici gemaak. Dit het hongersnood, haweloosheid en misdaad veroorsaak. Dit het slawe van toekomstige geslagte gemaak en hulle tot lewens van onderdanigheid, diensbaarheid en hartseer gevonnis. Alhoewel ander monopolieë nie in staat was om self te hervorm nie, en sodoende met woede en wraak gekelder is, het hierdie monopolie nog nie hierdie soort behandeling ervaar nie.

Die geskiedenis van die regering se bestuur van geld was, met die uitsondering van ’n paar kort gelukkige tydperke, ’n onophoudelike geval van bedrog en misleiding.

Friedrich Hayek

Die stil, mees geweldlose rewolusie

Die tydsberekening vir die bekendstelling van die eerste gedesentraliseerde digitale geldeenheid is heel opvallend. Bitcoin, wat deur baie beleggers as die oorspronklike kripto-geldeenheid beskou word, is in 2009 gestig – ’n jaar na die berugte finansiële krisis. Die aard van Bitcoin is op sigself ’n interessante verskynsel. Skaars, alomteenwoordig, deursigtig en gedesentraliseerd – die stigters het duidelik ’n baie spesifieke gaping in die mark geteiken.

Anders as tradisionele fiatgeldeenhede wat deur regerings en sentrale banke gereguleer word, het bitcoins geen sentrale owerheid nie. As gevolg hiervan kan die aanbod van bitcoins nie na willekeur wissel nie. Daar sal slegs 21 miljoen bitcoins vir sirkulasie beskikbaar wees, niks meer nie. Dít is van kardinale belang, want dit beteken dat die waarde van ’n mens se aandeel daarin nooit deur enige owerheid weggevreet kan word nie. Die koopkrag is nie onderhewig aan skielike waardering of waardevermindering nie.

In ’n onderhoud in 1977 het Hayek die volgende gesê: “Ek glo nie dat ons ooit ’n goeie geld sal hê voordat ons die saak uit die hande van die regering neem nie. Dit wil sê, ons kan dit nie gewelddadig uit die hande van die regering neem nie, al wat ons kan doen, is om – op een of ander slinkse manier – iets in te stel wat hulle nie kan keer nie.” Dit lyk asof Bitcoin hierdie Hayekiaanse droom soos ’n handskoen pas.

Dit bly egter van kardinale belang te wees dat, alhoewel die omverwerping van die regering se monopolie oor die verskaffing van geld op hande is, ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat ons die gevolge van die onvermydelike terugvegpoging versag. Regerings aanvaar nie die idee om deur ’n onsigbare, onbeheerbare mag oorval te word nie. Die instelling van meer privaat uitgereikte mededingende geldeenhede beteken dat regerings skielik met ander geldeenhede sal moet meeding om die vertroue van die bevolking te wen. Die nuwe kompetisie sal nie net as ’n beperkende krag vir die regering se verkeerde dade dien nie, maar ook as ’n aanstigter van geldeenhede wat vir die mense werk, in plaas van andersom. Slegs die geldeenheid wat die beste vir burgers bied, sal hulle steun kry. Geldeenhede wat nie daarmee ooreenstem nie, sal moet hervorm of sal uit die bestaan gedryf word.

Geldeenhede wat deur die regering uitgereik word, sal nie immuun teen so ’n uitwissing wees nie indien hulle die soort openbare veroordeling verdien wat dit regverdig. Dit is egter om hierdie rede dat ons bekommerd moet wees. Daar kan redelikerwys verwag word dat die bedreiging van uitwissing sal veroorsaak dat die owerhede vreemd optree. Dit is belangrik dat ons intussen politici – en hulle ideologiese neigings – van die sentrale banke weghou.

Dit is absoluut noodsaaklik dat sentrale banke geprivatiseer moet bly. Die Minister van Finansies en die Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank stem saam. Om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te kan nasionaliseer, sal die Grondwet gewysig moet word. ’n Wysiging van die grondwet vereis ’n tweederde meerderheid wat geen party tans oor beskik nie.

Ten spyte hiervan, soos Benjamin Mays sou sê, “word die tragedie van die lewe in selfvoldaanheid gevind”. Selfvoldaanheid sal ons ondergang wees. Dit is krities dat ons ons stemme moet gebruik om te verseker dat geen politieke party ons vryheid van ons kan wegneem nie.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.