Kan daar met (anti)sosiale media weggedoen word?

 Kan daar met (anti)sosiale media weggedoen word?

Tian Alberts 

Indien daar enigsins iets te leer is uit die nasleep van die Cambridge Analiticadatadebakel en die Russiese trolfabrieke* wat met verkiesings peuter, is dit dat selfs die oënskynlik tegnologievaardigste generasies nie die kompleksiteit en tekortkominge van die aanlyn gereedskap wat ingespan word om openbare diskoerse te dryf, ten volle begryp nie. Die onpersoonlike aard van sosiale media beteken dit gaan nie noodwendig die dapperes en die deugsames wees wat vooruitgang beleef nie, maar eerder alliansies en trolgroepe wat kunsmatige en anonieme rekeninge gebruik om die meeste aanlyn verkeer in ’n gegewe tydperk te genereer. Reusemediainstellings gee daagliks verslag van die onderliggende idees agter daardie verkeer en die gevolgtrekkings oor die samelewing in die algemeen wat daaruit voortspruit en deur kykers, luisteraars en lesers verorber word, om op húl beurt via slimfone verontwaardig daarop te reageer – op sosiale netwerke, natuurlik. In wese skep hierdie reeks gebeure ’n positiewe terugvoerlus, met die herhalende uitwerking dat kragtige narratiewe – aanlyn en andersins – ontstaan wat kwalik met dialektiese ontleding, koelkopgesprekke of selfs menslike empatie deurdring kan word. Die moeilike taak om konstruktief tot hierdie narratief-gedrewe terugvoerlus by te dra, word verder bemoeilik deur die voorspelbare ongewenste sosiale en professionele gevolge wat op ’n mens wag as jou bydrae nie gewoon álle aspekte van ’n heersende narratief beaam nie.

Die ongenaakbare gevolg van hierdie prentjie vir die jeug is ’n begrip van die wêreld wat afgewater is tot oppervlakkige, vaal en verarmde narratiewe en stereotipes wat aan hutsmerke in die kuberruim gehang word. Alhoewel nuanses, grys areas, empatie en kritiese ontledings verdwyn, kan daar minstens aangevoer word dat insette gelewer is in kwessies wat mense tot nou toe kwalik kon begryp – en derhalwe skaars sou kon oplos. 

Die tragiese en ongeregverdigde polisiemoord op George Floyd in die Verenigde State het met reg woede en pyn ontlok, maar dit was ook ’n tipe snellergebeurtenis vir hernude kragtige narratiewe oor sistemiese rassisme, wit oppermagtigheid en die viktimisering van swart mense wêreldwyd. Met die term “narratiewe” impliseer ek geensins dat gesprekke oor hierdie onderwerpe nie geldig kan wees nie, maar eerder dat hulle in die bestaande formaat uit die staanspoor nie “gesprekke” is nie. Instagramblaaie wat wemel van swart vierkante en verwante hutsmerke om steun aan “swart mense wêreldwyd” toe te sê, laat die vraag ontstaan of daar eerlik van die veronderstelling uitgegaan word dat die beskikbare sosialemediaplatforms en die moeitevrye “plaas” of “twiet”opsies, tot ’n sinvolle gesprek of oplossing bydra.

Te midde van die sleurstroom narratiewe op sosiale netwerke swig selfs dié wat gewoonlik belangeloos rondklik, maar veral dié wat teenoorgestelde standpunte huldig, dikwels onder erge sosiale druk om in hul spoor te trap en tog net iets te plaas wat beaam. Dit is egter glad nie duidelik of hierdie aanlyn kultuur wat hutsmerke en “stories” onkrities aanmekaar flans en plaas, werklik die doel dien om onreg akkuraat uit te wys en effektief aan te pak nie. Wat skuil agter die fasade dat mense “bewusmaking bevorder” of “ingelig moet bly” – en waaroor nou eintlik? Gegewe die enorme druk wanneer dit voel of die “hele wêreld” jou op sosiale netwerke dophou (wat nog te sê van die ongenaakbare kansellasiekultuur), blyk dit ’n geregverdigde afleiding te wees dat mense oor die algemeen op sosiale netwerke met vereenvoudigde, halfgebakte en inderdaad halwe waarhede smous. Mense raak oorhoops met daardie veronderstelde gegewe wat die wêreld eenvoudig móét hoor en tog nie veel meer vergestalt nie as die tipe ongenuanseerde stereotipes oor groepe, individue en die wêreld, wat meganies uitgespoeg word deur duisende wat “plaas” of “twiet” sonder om onafhanklike en individueel kognitiewe funksies te gebruik. Wat sê dit van die jeug se potensiaal om grense te verskuif as die inhoud van openbare gesprekke geskoei word op, en selektief gemuilband word deur, die numeriese mate waartoe sekere hutsmerke gerepliseer kan word – meestal buite eie landsgrense?

Die joernalis Zaid Jilani, ’n PakistaniAmerikaanse Moslem, het onlangs geskryf dat alhoewel daar noemenswaardige gevalle van diskriminasie en rassisme teenoor etniese minderhede in sy gemeenskap te sien is, die aanname dat etniese minderhede in die VSA “bloot deugsame slagoffers is wat in ’n oseaan van wit oppermagtigheid op ’n plank ronddryf” – soos onlangse hutsmerke ’n mens klaarblyklik wysmaak – sy menswaardigheid aantas omdat dit hom van agentskap en verantwoordelik stroop. Die punt is hier nie die meriete van Jilani se stelling nie, maar eerder dat sy bydrae te genuanseerd, gebalanseerd en verdraagsaam teenoor veelvoudige beskouings is om die tierende hutsmerkoorlog op sosiale netwerke te oorleef; dit is nie in pas met ’n prominente narratief nie en kan nie aan ’n plofbare hutsmerk gehang word nie.

Die populisme en ekstremisme wat hutsmerke en gewilde idees op sosiale netwerke vergesel, was duidelik te sien tydens SuidAfrika se 2019verkiesing. Indien die verkiesingsuitslae op die Twitterondersteuning vir politieke partye geskoei sou word, sou die EFF die verkiesing wen. In werklikheid kon die EFF net sowat 10% steun bymekaarskraap. Verdelende meningswisselings oor ras, rassisme en groepidentiteit is die orde van die dag op Twitter, Facebook en Reddit. ’n 2019 peiling deur Momentum onder ’n verteenwoordigende groep SuidAfrikaners dui egter daarop dat terwyl 72% van die respondente gesê het werkloosheid is hul vernaamste bekommernis – teenoor 41% wat korrupsie vermeld het – “rassisme/diskriminasie” deur skaars 4% as ’n vernaamste bekommernis beskou word. Selfs paaie (10%) het hoër prioriteit onder respondente geniet. ’n Moontlike verduideliking vir die oneweredige voorkoms van verdelende rasgedrewe retoriek op sosiale netwerke is dat dié netwerke so ontwerp is dat moeilikheidmakers, aanhitsers en smouse van rasgebaseerde ideologie beloon word met volgelinge, en ander interaksies wat dopamien aanwakker, sodra antieke stamgebonde breinprosesse wat die menslike brein vandag nog bybly, “onsteenhulle”reaksies onder waarnemers ontlok. Ongelukkig sypel die aard van hierdie aanlyn oorloë ook deur na die meer algemene nasionale diskoers, wat jeugdiges se benadering tot probleemoplossing en samewerking in die toekoms sal vorm. 

Die ironie is dat sosiale media op slot van sake glad nie sosiaal van aard is nie. Siende dat daar geoutomatiseerde robotte skuil agter omtrent die helfte van die Twitterrekeninge wat valshede oor COVID19 versprei, en werklike persone gereeld agter anonieme profiele wegkruip terwyl hulle belaster en beledig op ’n wyse wat hulle nooit in die publiek sou betaam nie, behoort ’n mens werklik die konsep “sosiaal” aan ’n netwerk soos Twitter toe te dig? Gegewe die wydverspreide sielkundige verplettering van individue wat die moed het om onder hul werklike naam tot meningswisselings op sosiale netwerke toe te tree, sowel as veral tieners se psigotiese soeke na oppervlakkige selfversekerdheid op platforms soos Instagram en TikTok, kom “sosiale netwerke” in werklikheid geweldig antisosiaal voor. Dit is g’n wonder dat vele studies reeds ’n sterk verwantskap aantoon tussen die gereelde gebruik van sosiale media en ’n toename in blootstelling aan depressie, angs, eensaamheid, selfskadeaandoening en selfdoodgedagtes nie.

Aan die ander kant het sosiale netwerke miljoene mense se toegang tot konsepte verbreed wat in hul lande gesensor word, vryheid van uitdrukking en kommunikasie bevorder, en selfs toegang tot onderrig vergemaklik. Hierdie prysenswaardige aspekte van sosiale netwerke kan behou word sonder om die winsgewende, tog onbetalende meganismes aan te stook wat die openbare diskoers besoedel en tieners aanhits om ure aaneen hul selfbeeld gelyk te stel aan “hou van” en “volgelinge”tellings terwyl hulle klakkeloos deur sinnelose inhoud ten koste van psigiese gesondheid en produktiwiteit blaai.

As ’n vertrekpunt moet ’n mens erken dat indien jy konstruktiewe gesprekke wil hê, kwessies wil bevorder en probleme wil uitwys en oplos – hetsy op persoonlike of samelewingsvlak – dit nie op sosiale netwerke gaan gebeur nie. Sosiale media behoort slegs gebruik te word om werklike gesprekke, werklike verhoudings en pogings in die werklike wêreld aan te wakker en daarop voort te bou – en nie laasgenoemdes te vervang nie.

Gelukkig bewys die bestaan van podsendings, webinare en ander langformaat digitale media dat wegdoening met sosiale netwerke nie die veronderstelling impliseer dat daar na minder moderne vorms van kommunikasie teruggekeer moet word nie; enersyds sal ’n mens moet onderskei tussen moderne digitale geleenthede, en andersyds tussen antisosiale platforms wat weens die ontwerp daarvan verdoem is om simplistiese stereotipes te laat uitbroei.

Die denkleiers wat die toekoms kan red, is dié wat eers met sosiale netwerke sal wegdoen en blitsvinnig die oppervlakkige oorloë, wanvoorstellings en stereotipes wat hulle aanwakker, sal agterlaat. Vereenvoudigde narratiewe oor mense, en stereotipes van wie mense is en wie die sogenaamde belangegroepe onder hulle is, beskik nie oor die potensiaal om samewerkende sukses onder die jeug te bevorder nie, maar kan dié potensiaal trouens selfs onbepaald verwoes.

*’n Trolplaas of trolfabriek is ’n geïnstitusionaliseerde groep internet-trolle (soms deur regerings ingespan) wat daarop ingestel is om met politieke menings en besluitneming in te meng. 

Tian Alberts