Kwantifisering van ’n groener toekoms vir Suid-Afrika

 Kwantifisering van ’n groener toekoms vir Suid-Afrika

Tyren van der Spuy en George van Dyk

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Ondanks effe flouerige ekonomiese groei kan Suid-Afrika steeds trots wees op ’n bruto binnelandse produk (BBP) van 376 miljoen Amerikaanse dollar in 2018, wat dit naas Nigerië die grootste ekonomie in Afrika maak. Dit is natuurlik gekoppel aan ’n hoë verbruiks- en produksievlak, wat weer groot druk op die omgewing en diegene wat hier woon, plaas.

Die enjin wat die land aandryf, is ’n goeie vertrekpunt. Soos vele ander ontwikkelende lande is Suid-Afrika besonder afhanklik van steenkool. Eskom se webtuiste dui aan dat hierdie bron tans vir 77% van die energieproduksie gebruik word. Dit het talle negatiewe gevolge vir die gesondheid van diegene wat in die omgewing van myne en kragopwekkingsaanlegte woon. Volgens ’n verslag deur dr Mike Holland oor die gesondheidsgevolge van steenkoolkragsentrales in Suid-Afrika, kan 2 239 sterftes per jaar aan die verbranding van steenkool toegeskryf word.

Besoedeling deur kragopwekking, die mynbou, swaar nywerhede, dienste, en selfs die aktiwiteite wat Suid-Afrikaners op ’n individuele grondslag verrig, is ’n ernstige probleem. Dié probleem veroorsaak egter nie te dikwels onsteltenis onder die breë publiek nie, met die meer gegoede lede van die samelewing wat die grootste apatie toon, aangesien nie almal met die onmiddellike gevolge van besoedeling te kampe het nie.

Voorbeelde

’n Tasbare voorbeeld hiervan is rommelstrooiing, ’n alomteenwoordige gevolg van besoedeling wat gemeenskappe oor die algemeen omkrap. Die meeste individue is egter nie verder hieroor besorg wanneer die rommel êrens buite sig versamel en gestort word nie. Aan die ander kant is individue waarskynlik minder besorg oor besoedeling omdat hulle nie van die nadelige gevolge daarvan bewus is nie. In al twee scenario’s is onkunde die vyand. Iemand sonder goeie skoolopleiding is minder geneig om aan die gevolge van hul besoedeling te dink. Wat dalk selfs belangriker is, is dat sodanige persone waarskynlik nie die regering se beleid of sake-aktiwiteite bevraagteken wanneer dit tot besoedeling op ’n veel groter skaal lei nie.

Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika holisties gesproke nie oor die omgewing besorg is nie. Die talle suksesvolle bewaringspogings is lofwaardig, veral wat die beskerming van inheemse flora en fauna betref. Ongelukkig is die oorheersende politieke retoriek nie werklik besorg oor hierdie kwessies nie. Hoe belangrik die bydraes met betrekking tot hierdie pogings ook al is, bestaan daar ’n oorweldigende gevoel dat dit ontoereikend is.

Dit is kwalik verbasend dat kwessies soos besoedeling en omgewingsagteruitgang nie heftig gedebatteer word wanneer ekonomiese, politieke, en verskeie ander krisisse die verhoog oorheers nie. Politieke leiers word nie aangespoor om die onderwerp aan te pak nie, aangesien aansprake soos werkskepping vir die publiek veel aantrekliker as plegtige ondernemings oor omgewingsopruiming is. Die openbareskolestelsel slaag ook nie daarin om leerders toe te rus met die gereedskap om ingeligte besluite oor omgewingsbewaring te neem nie.

Wat die privaatsektor betref, is dit maklik genoeg om simpatie te hê met plaaslike ondernemings wat, in ’n poging om kop bo water te hou, hul impak op die omgewing op die agtergrond skuif.

Aktivisme?

Alhoewel aktivisme van hierdie aard moreel prysenswaardig is, is dit gevolglik onwaarskynlik dat dit werklik konstruktief of volhoubaar is wanneer daar na die groter prentjie gekyk word.

Skrywers

Die oorkoepelende filosofie wat omgewingsorganisasies op die oomblik gebruik, plaas druk op opvoedkundige instellings en politieke partye om pragmatiese beleide in te stel wat gerig is op die vermindering van afval en die verhoging van volhoubaarheid. Alhoewel daar nie as sodanig fout te vind is met aktivisme nie, en dit in der waarheid rede tot opgewondeheid bied (hierdie beskouing is geensins ’n aanval op die modus operandi van aktiviste nie), maak instellings en diegene in magsposisies die toegewings waarskynlik alleen om aan eise te voldoen, dit is indien hulle inderdaad toegewings maak. Alhoewel aktivisme van hierdie aard moreel prysenswaardig is, is dit gevolglik onwaarskynlik dat dit werklik konstruktief of volhoubaar is wanneer daar na die groter prentjie gekyk word.

In stede hiervan behoortinstansies en aktiviste op ’n verstandige wyse te fokus op die kwantifisering van afval en die omgewingsimpak van antropiese aktiwiteite. Dit beteken nie dat die gemelde partye dit nie reeds doen nie, maar eenvoudig dat dit nie goed genoeg gedoen word nie.

Kwantifiseer

Dit is van kritiese belang dat sodanige kwantifisering in leketaal oorgedra word: om die publiek in te lig dat ’n tipiese windturbine 2 MW krag lewer, is slegs van belang as dit vergesel word van die wete dat dit krag aan sowat 2 000 huise voorsien. As mense die grondbeginsels van omgewingsbewaring en die konsepte daarvan, onder meer hernubare energie, beter begryp en hulle van die grondbeginsels daarvan vergewis, is dit waarskynliker dat hulle dit op ’n individuele vlak sal aanvaar en ondersteun, en sodoende die positiewe invloed van hierdie belangrike filosofie verstewig.

Suid-Afrika het eweneens ’n massiewe potensiaal vir hernubare energie, wat bemoedigend is gesien Eskom se oormatige afhanklikheid van steenkool. Alhoewel heelwat Suid-Afrikaners bewus is van hierdie beweging na hernubare energie, kan die reikwydte van die inligting ongetwyfeld uitgebrei word indien dit genoegsaam gekwantifiseer word.

Die Noord-Kaap het byvoorbeeld sonbestralingsintensiteitsvlakke van 3,2 MWh/m2, wat min indruk op die gemiddelde Suid-Afrikaner maak. Om egter vir ’n Suid-Afrikaner te sê dat die Noord-Kaap vir alle praktiese doeleindes, in die groter konteks van Afrika, by uitstek vir sonkrag geskik is, sal die boodskap ongetwyfeld duideliker tuisbring. Verder kan (en behoort) Suid-Afrikaners ingelig word dat magtige ekonomieë soos Duitsland en China toegang het tot slegs ’n derde van die helder sonbestralingsintensiteit wat Suid-Afrika van die son ontvang, en dit maak Suid-Afrika ’n goudmyn vir sonkrag.

Dit is dalk makliker gesê as gedaan wanneer talle ander onderwerpe dringend aandag benodig. Tog is dit van die uiterste belang dat ’n mens bewus bly van die impak wat antropiese aktiwiteite op die wêreld het en dat Suid-Afrika die voorbeeld volg.

Tyren van der Spuy is ‘n gereelde skrywer vir Nova Mentis en ‘n finale jaar mechatroniese ingenieurswese student aan die Universiteit Stellenbosch.
George van Dyk is hoofredakteur by Nova Mentis en ‘n finale jaar chemiese ingenieurswese student aan die Universiteit Stellenbosch.

George van Dyk