Los Eskomprobleem só op

 Los Eskomprobleem só op

Tyren van der Spuy

Hiedie artikel is oorspronklik April 2020 in die Eerste Uitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld nou aan om die voortgesette ontwikkeling van sulke publikasies te ondersteun.

Suid-Afrikaners is bewus van die negatiewe gevolge wat ’n beleerde elektrisiteitsverskaffer op die land het. Beperkte toegang tot elektrisiteit is nie net ongerieflik nie, maar dit skep ook ’n knelpunt wat ekonomiese prestasie betref. Volgens ’n model wat die ekonome van die Efficient Group saamgestel het, het beurtkrag tot ’n afname van 0,3% in die BBP-groei vir 2019 gelei, wat op ongeveer R8,5 miljard neerkom. Ondanks die erns van die benarde situasie waarin Suid-Afrika tans verkeer, is daar nietemin steeds rede om optimisties te wees. Die probleem is uiteindelik met die nodige erns bejeen en eerlike gesprekke tussen die regering, die nutsmaatskappy en die publiek het gevolg.

Huidige gesprek

Besprekings van moontlike oplossings vir die energiekrisis word uit talle hoeke benader. Die media is redelik versadig aan debatte oor bestuur en leierskap, onbetaalde munisipale diensterekenings, die ontbondeling van Eskom en die moontlike privatisering van kragopwekking, ekonomiese en politieke faktore, sowel as ’n magdom ander interne en eksterne invloede op die nutsmaatskappy.

Vroeg in 2019 is daar bewerings teen die regerende party gemaak dat daar voor die verkiesing druk op Eskom geplaas is om beurtkrag te voorkom, wat teen groot koste via die bedryf van dieselopwekkers gedoen is. In die tweede helfte van die jaar het die Eskom-bestuurslid, Busisiwe Mavuso, beweer dat inmenging deur die regering die direksie verhoed het om besluite te neem wat die beleerde nutsmaatskappy kon help.

Die nuut aangestelde HUB, Andre de Ruyter, het ondervinding in die oorname van ’n sukkelende maatskappy as gevolg van sy ampstermyn by Nampak. As korrupsie en regeringsingryping onder sy leiding vermy kan word, sal Eskom die geleentheid he om himself reg te ruk, wat hopelik meer bekostigbaar sal wees as om die nutsmaatskappy in geheel te sluit. Hoe dit ook al sy, die algemene publiek het skynbaar weinig van ’n keuse in die saak.

Kernkwessie

Alhoewel hierdie kwessies uiters relevant is, en die bespreking daarvan openlik en eerlik moet plaasvind om vordering te verseker, is dit van kritieke belang om die presiese resultaat van hierdie probleme te begryp ten einde ’n vinnige, effektiewe oplossing daarvoor te kan vind. ’n Mens kan kies om Eskom se aandag te vestig op die probleem en die daaropvolgende oplossing wat die maatskappy bedink, ofskoon die kruks van die saak dieselfde bly: die opwekkingskapasiteit van Eskom kan nie in die vraag voorsien nie, en Eskom kan nie die opwekkingskapasiteit teen dieselfde koers uitbrei as wat die vraag toeneem nie.

Sonkrag-insigte

Om die aanbod aan die vraag gelyk te kan stel, moet verhogings in die opwekkingskapasiteit in die vorm van hernubare bronne soos sonkrag geskied. Gelukkig het Suid-Afrika ’n klimaat wat dit ideaal geskik maak vir sonkrag. Op die lang termyn kan sonkragaanlegte met minder instandhoudingskoste en deurlopende insetkoste as steenkoolaangedrewe aanlegte bedryf word.

Die koste van elektrisiteit wat deur sonpanele opgewek word, het drasties afgeneem, met kommersiele kragaankope ooreenkomste wat so min as R0,65 per kWu kos, terwyl steenkool tot hoer as R1 per kWu geklim het. Hierdie prysverskil, tesame met enorme oorskrydings in skedules en begrotings by sowel Medupi as Kusile, maak die beweging na hernubare energie ’n duidelike keuse wat toekomstige verhogings in kapasiteit betref.

Hoe aanloklik dit ook al mag wees om ’n vyand van Eskom te maak, moet Suid- Afrikaanse burgers sowel as regeringsamptenare intussen so ondersteunend as moontlik wees indien daar enige hoopop sukses in hierdie oorgang is. Terwyl Eskom poog om sy vermoe te verbeter om in die land se behoeftes te voorsien, behoort ’n groter poging aangewend te word om die invloed van beurtkrag op die publiek en die ekonomie te verminder. Innoverende korttermynoplossings is nodig om die gaping te oorbrug, en die regering behoort alles in sy vermoe te doen om insentiewe daarvoor aan Suid-Afrikaanse huishoudelike energiegebruikers beskikbaar te stel.

“Afnetwerkstelsel”

In die huishoudelike sector het die onbetroubare Eskom-aanbod sommige huiseienaars laat besluit om “van die net af te gaan” deur toerusting te installeer om hernubare energie in hul huise te oes. Fotovoltaiese (FV) sonpanele is veral gewild vir hierdie doel. Alhoewel effektief en beslis produktief wat die vermindering van die las op Eskom en die omgewing betref, bied hierdie strategie enkele probleme.

Die bykomende panele en batterye wat benodig word om ’n afnetstelsel te bedryf, maak dit ’n baie duurder opsie wat die omgewing en monetere uitgawes betref, aangesien batterye 30 tot 40% van die koste behels en tipies ’n leeftyd van 5 tot 15 jaar het (vergeleke met 25 tot 30 jaar vir hoekwaliteit FV-panele). Dit is dus voordeliger om ’n netwerkgekoppelde stelsel voor te staan, aangesien so ’n stelsel aansienlik makliker en goedkoper is om te installer en in stand te hou, en ’n kleiner fisiese voetspoor as die afnetwerkstelsel laat. Verder kan enige kapasiteit geinstalleer word, aangesien die huiseienaar steeds kan staatmaak op energie wat deur Eskom gelewer word, wat die toegangsprobleem aansienlik verminder.

Die belangrikste voordeel van so ’n stelsel is waarskynlik dat oortollige energie tot die net toegevoeg kan word, soortgelyk aan die netwerkgekoppelde stelsels wat in kommersiele kragaankope ooreenkomste aangetref word. Dit beteken dat selfs al is jy by die werk, weg van die huis vir die naweek of met vakansie, al die krag wat die stelsel opwek, tot die res van Suid-Afrika se voorraad toegevoeg kan word. Alhoewel dit beslis iets is om na te streef, sou so ’n geinstalleerde stelsel in elke huis ’n beduidende las van Eskom verwyder, en dit is presies wat die maatskappy benodig: die verposing om die toestand van sy huidige bedrywighede te verbeter.

Geleentheid vir banksektor

Daar is nog twee probleme met hierdie moontlike oplossing. In die eerste plek kan min Suid-Afrikaners die uitgawe bekostig om selfs ’n klein netwerkgekoppelde FV stelsel te installeer. Ongelukkig beskik die meerderheid Suid-Afrikaners nie oor die kapitaal vir so ’n beduidende voorafbelegging nie. Ondersteuning deur die regering in die vorm van kortings, soos Eskom se huidige opgeskorte korting vir hernubare energie, dien as ’n sterk motiveerder, alhoewel dit verstaanbaar is dat fondse nie geredelik beskikbaar is nie.

Daarom bestaan daar ’n geleentheid vir die banksektor. As ’n huiseienaar finansiering kan kry om ’n FV-stelsel te installeer, kan dit uit die huiseienaar se maandelikse elektrisiteitsbesparing terugbetaal word. Die lang lewensduur van netwerkgekoppelde stelsels maak dit moontlik dat so ’n lening binne ’n soortgelyke tydraamwerk as ’n tipiese huislening terugbetaal kan word. Dit verhoog ook die waarde van die eiendom, wat dit ’n betreklik veilige belegging maak, met tipiese opbrengste in die omgewing van 10 tot 30%. Hierdie sakemodel is suksesvol in die kommersiele sektor, en hoewel sulke verskaffers gewoonlik min in kleinskaalse bedrywighede belangstel, dien dit wel as aanmoediging dat ’n soortgelyke ooreenkoms met huiseienaars winsgewend sal kan wees.

Munisipale konsekwentheid vereis

Tweedens is vergoeding vir energie wat tot die netwerk toegevoeg word inkonsekwent tussen munisipaliteite, en boonop dikwels onvoldoende. Die invoer van energie in die network word tans op munisipale vlak hanteer in oorleg met die reels vir Kleinskaalse Ingeboude Opwekking (SSEG). In 2019 het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering aangedui dat 34 uit 278 munisipaliteite vir die SSEG-program voorsiening maak, maar dat slegs 18 oor amptelike tariewe beskik. Die nasionale en provinsiale regering moet dus vinnig optree om te verseker dat meer munisipaliteite aan boord kom.

Die Stad Kaapstad bied tans ’n invoertarief van 73,87s/ kWu aan, wat dit vir die eienaars van netwerkgekoppelde stelsels werklik die moeite werd maak, terwyl Johannesburg ’n aansienlik laer tarief van 42,79s/ kWu aanbied. Sou die regering ’n groter mate van konsekwentheid tussen munisipale invoertariewe kon afdwing en verseker dat die registrasieproses behoorlik toeganklik is, sal meer huiseienaars geneig wees om aan die program deel te neem en daardeur die las op Eskom verminder.

Voortgesette pogings is nodig om die voorgestelde oplossings wat in die proses van implementering is, te kan uitvoer. Die regering behoort Eskom egter ’n redelike tydraamwerk en ruimte daarvoor te bied, hoewel daar besef moet word dat deur gewoon meer hulpbronne in die nutsmaatskappy te pomp, nie die probleme sal oplos nie. Intussen kan talle kleinskaalse bydraes op huishoudelike vlak help om die druk op Eskom en die inwoners van Suid-Afrika te verlig, dit wil se indien die regering voldoende aansporings vir deelname kan voorsien.

This image has an empty alt attribute; its file name is image-14.png
Tyren van der Spuy is ‘n gereelde skrywer vir Nova Mentis en ‘n finale jaar megatroniese ingenieurstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

Tyren van der Spuy

http://www.nmonline.co.za