Moedertaal onder die mikroskoop

 Moedertaal onder die mikroskoop

Paul Maritz

Hiedie artikel is oorspronklik April 2020 in die Eerste Uitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

In die meertalige Suid-Afrikaanse samelewing het die idee van moedertaalonderrig, en derhalwe ook meertaligheid, emosionele en plofbare konsepte geword. Sommige voel dat moedertaalonderrig nie anders kan as om te verdeel nie, juis omdat daar soveel verskillende moedertale is. By implikasie moet daar dus net soveel verskillende instellings of, ten minste, klaskamers ingerig word.

Aan die keersy glo ander weer dat moedertaalonderrig die enigste manier is om ons land vorentoe te neem. Hierdie mense voer dikwels aan dat kinders in hulle moedertaal dink, en daarom sukkel om hulle gedagtes in die onderrigtaal om te skakel of oor te swaai waar dit van die moedertaal sou verskil.

Hierdie artikel probeer die emosie uit die debat haal om ’n nugter blik te bied op wereldwye praktyke en beleide, en die werklike gevolg van moedertaalonderrig en die ontneming daarvan. Nuwe benaderings tot hierdie veelbesproke kwessie word ook ondersoek.

Die werklike stand van sake

Suid-Afrika het tans 26 universiteite, wat universiteite vir tegnologie insluit. Almal bied Engels as een van die taalopsies. Trouens, by 24 is dit in beginsel die enigste opsie. Dit gebeur dalk dat ’n dosent op die Noordwes Universiteit (NWU) se Mafikengkampus soms iets hoofsaaklik in Tswana verduidelik, of dat ’n dosent aan die Universiteit van Fort Hare in Alice soortgelyk met Xhosa omgaan. Wat die amptelike toedrag van sake betref, is slegs die NWU se Potchefstroomkampus en die Universiteit Stellenbosch egter nog deels Afrikaans. In albei gevalle is Afrikaans onder kwaai druk, en by Stellenbosch word dit oenskynlik as ’n nagedagte aan die einde van lesings gebruik.

Gevolglik het Engels die akademiese sowel as die saketaal in Suid-Afrika geword. Die afleibare gevolg sou wees dat vakkundige terme ook slegs in Engels onderrig word. Hierdie toedrag van sake is vir heelparty ’n emosionele een. Tog, as emosie vir eers opsygeskuif word, is dit die werklikheid.

Hoe staan sake internasionaal?

Die QS-werelduniversiteitsranglys word algemeen as die betroubaarste aanwyser van die aansien van universiteite wereldwyd beskou. Onder die voorste 50 universiteite op die ranglys van 2020 is daar slegs een waar die onderrigtaal nie die moedertaal van die meerderheid in die land is nie, naamlik die Nanyang Universiteit vir Tegnologie in Singapoer. Singapoer is bekend vir sy beleid van uitsluitlik Engelse onderrig, hoewel plaaslike burgers se moedertaal in feitlik alle gevalle Chinees (Mandaryns) is. Van die 50 beste universiteite ter wereld bied 49 dus onderrig hetsy ten volle of gedeeltelik in die moedertaal van die plaaslike bevolking aan.

Hoe nou gemaak?

Dit sou oneerlik wees om te beweer dat moedertaalonderrig geen uitdagings inhou nie. In Bloemfontein praat mense hoofsaaklik Afrikaans en Sotho. Hoe kan ’n mens albei hierdie diverse groepe in ag neem en laat floreer? Om terug te val op Engels as ’n gemeenskaplike taal, hoewel dit dalk sommige se tweede, derde of vierde taal is, is moontlik sinvoller as om twee of drie taalstrome te skep. Daarteenoor sou dit ewe oneerlik wees om te se dat uitsluitlik Engelse onderrig die perfekte oplossing is. ’n Magdom internasionale studies toon immers dat moedertaalonderrig sowel slaag- as deurvloeisyfers (d.w.s. hoe vinnig studente afstudeer) laat styg.

Om ’n paar aparte universiteite vir elke kultuurgroep te he sal sonder twyfel tot gefragmenteerde onderrig lei, en hou enorme risiko’s in. Die antwoord le dus iewers in die middel – tussen afsonderlike universiteite vir elke kultuur, en universiteite wat kennis oordra sonder enige kultuur.

Druk terug

Hiervoor moet daar eerstens aktief teruggedruk word teen die golf van absolute eentaligheid en kultuurloosheid wat die afgelope tyd die norm in Suid-Afrika geword het. Studentedrukgroepe sal daarop moet aandring dat hulle tale op die een of ander manier aan universiteite verteenwoordig word. Sodra die gedagte van meertaligheid dan normaliseer, behoort die praktyk uitgebou te word tot ’n ware en volwaardige onderna- bo-oplossing.

By stedelike universiteite is die spesifieke kultuurgroep moontlik klein. In so ’n geval kan ’n behoudende kultuurvereniging, sowel as akademiese fokusgroepe wat moeilike konsepte buite die klaskamer in die groep se moedertaal verduidelik, dus op die been gebring word. Dit kan gebeur sonder dat die universiteit se bestuur hulle aktief probeer uitwerk.

Landelike universiteite sal van nature daartoe geneig wees om duideliker kultuurlyne te trek, sonder dat dit noodwendig so beplan word. Waar ’n kampus twee dominante kultuurgroepe bevat, behoort hulle tale juis op akademiese vlak formeel ontwikkel te word. Studente in Mafikeng behoort dus Tswana op akademiese vlak te kan gebruik sodat, as hulle Engels kies, dit waarlik ’n keuse is, en nie die enigste opsie nie. Dit laat ontstaan natuurlik die vraag oor ’n standaard- sowel as ’n akademiese Tswana. In die verband behoort prof JC Steyn se boek Ons gaan ’n taal maak, wat die ontwikkelingspad van Afrikaans uitle, standaardleeswerk te word. Die boek beklemtoon hoe tale met ’n informele oorsprong uitgebou kan word tot gevestigde instrumente deur moeite, ywer en die besef dat moedertaalonderrig die pad na uitnemendheid is.

In Suid-Afrika is daar ’n demografiese golf op pad. Hierdie jongmense sal met die wereld moet meeding, en sommige sal weliswaar bo die taaluitdaging uitstyg. As ons egter akademici wil kweek wat die energie-, water-, omgewings- en wie weet watter ander probleme van die toekoms op ’n vernuwende manier die hoof kan bied, moet ons besef dat ons dit in hulle moedertaal sal moet doen.

Paul Maritz