Myner migrasie uit China positief vir Bitcoin oor langtermyn

 Myner migrasie uit China positief vir Bitcoin oor langtermyn

Eswee Bothma

Bitcoin-myners is besig met ’n reuse uittog uit China nadat die land se Finansiële Stabiliteit en Ontwikkelingskomitee (FSOK) op 21 Mei ’n amptelike verbod op die myn van alle kriptogeldeenhede geplaas het. Die “myn” van Bitcoin verwys na die proses waar transaksies op die Bitcoin-netwerk gevalideer word deur groot hoeveelhede rekenvermoë en elektrisiteit te gebruik. Myners word hiervoor beloon met 6,25 nuwe bitcoins wat op gemiddeld elke tien minute ge-“munt” en toegeken word aan die eerste myner wat ’n hoogs komplekse kriptografiese probleem oplos. Hierdie aansporing-struktuur hou die netwerk sekuur en bewerkstellig samewerking tussen deelnemers sonder dat enigeen mekaar hoef te ken of te vertrou.

Die nuutste beskikbare inligting dui daarop dat meer as 60% van die rekenvermoë wat gebruik word om die Bitcoin-netwerk sekuur te hou, in China gebaseer was voor die FSOK se aankondiging. Volgens Kevin Zhang, Vise-President van Amerikaanse Bitcoin mynmaatskappy Foundry Digital, het meer as 70% van alle Chinese myners reeds hulle masjinerie uitgeprop, en na verwagting sal dit binnekort nader aan 90% wees.

Die Bitcoin-netwerk se hitskoers (“hashrate”), ’n aanduiding van die hoeveelheid rekenvermoë wat deur Bitcoin-myners aan die netwerk toegeken word, het na die aankondiging van die Chinese verbod met meer as 65% gedaal. Die massiewe afname in rekenvermoë het veroorsaak dat die gemiddelde bloktyd, naamlik die tyd wat dit vir nuwe bitcoins neem om gemunt te word, na soveel as 23 minute gestyg het in vergelyking met die normale 10 minute.

Hierdie data dui dus op die beduidende rol wat China-gebaseerde myners in die Bitcoin-netwerk gespeel het. Terwyl die mark aanvanklik baie swak op die nuus van die Chinese Bitcoin-verbod reageer het, met die prys wat met meer as 40% oor die afgelope twee maande gedaal het, is daar verskeie kenners wat meen dat dié verwikkeling juis positief oor die langer termyn is.

Nic Carter, mede-stigter van die kripto-beleggingsgroep Castle Island Ventures, glo dat die uittog uit China tot verdere desentralisasie van rekenvermoë sal lei. Die feit dat meer as 60% van die Bitcoin-netwerk se rekenvermoë in China gebaseer was, was tot dusver ’n groot kommernis vir Bitcoin ondersteuners vanweë vrese dat die Chinese Kommunistiese Party (CKP) ’n kwaadwillige oorname van die netwerk sou poog deur moontlik besit van myners se toerusting te neem. Carter meen dat hierdie kommernis wel nou iets van die verlede is, ’n stelling waarmee Mike Novogratz, hoof- uitvoerende beampte van Galaxy Digital, saamstem. Novogratz reken dat die myners nie net hul masjinerie na die verbod afgeskakel het nie, maar dat hul aktief in die proses is om te migreer na meer kripto-vriendelike lande.

Dit lyk veral of die Amerikaanse staat Texas vasberade is om hierdie myners te lok ná goewerneur Greg Abbott ’n reeks pro-kripto wetgewing in Mei geteken het. ’n Skuif van kommunistiese China na ’n staat soos Texas is presies in lyn met die Bitcoin etos van vryheid en desentralisasie. Boonop sal dit wonders doen vir die onlangse kritiek dat Bitcoin ’n negatiewe impak op die omgewing het. China se elektrisiteitsverbruik bestaan steeds hoofsaaklik uit steenkoolkrag, waar ’n groot hoeveelheid van Texas s’n uit hernubare bronne soos wind en natuurlike gas bestaan.

Oor die korttermyn is die reuse afname in rekenvermoë weens die Chinese verbod dalk ’n kommernis, maar oor die langtermyn is dié verwikkeling baie positief.

Eswee Bothma