Ongelykheid, werksongeskiktheid en SEB

 Ongelykheid, werksongeskiktheid en SEB

Philasande Shongwe

Die filosofiese argumente teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het skynbaar op dowe ore geval. Solank SEB die rasse- en strukturele ongelykhede wat die apartheidsregering ons bemaak het, ongedaan maak, word daar vir ons vertel dat die filosofiese afstootlike aard van SEB heeltemal irelevant is. Tog, 18 jaar na SEB in werking getree het, word Suid-Afrika deur die Wêreldbank en ander organisasies beskou as “die wêreld se mees ongelyke samelewing”.

Die Gini-koëffisiënt

Die Gini-koëffisiënt verwys na ’n statistiese maatstaf, tussen 0 en 1, van die mate van variasie wat in ’n stel waardes voorgestel word. Dit word veral in die ontleding van inkomste-ongelykheid gebruik. 0 verteenwoordig ’n volkome gelyke verdeling van inkomste, terwyl 1 ’n volkome ongelyke verdeling van inkomste verteenwoordig. Volgens die jongste Wêreldbankstatistieke het Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt van 2015 op ’n verbysterende 0,65 te staan gekom. Dit is die hoogste syfer wat deur enige land in 2015 aangeteken is. Op grond hiervan het talle organisasies regoor die wêreld Suid-Afrika as “die wêreld se mees ongelyke samelewing” aangewys. Alhoewel die Helen Suzman-stigting, onder andere, hierdie aanwysing sterk betwis met die bewering dat slegs 149 van die 218 lande op die Wêreldbank se lys wel in 2015 hulle Gini-koëffisiënte gerapporteer het, verskaf dit nietemin nuttige vergelykende inligting.

Indien die inkomste-ongelykheid wat ons vandag in Suid-Afrika sien inderdaad die skuld van apartheid is, soos baie politici ons wil laat glo, sou ons verwag dat die Gini-koëffisiëntgetalle erger sou wees as ons terugkyk na die jare van apartheid. Verder sou ons verwag dat die getalle dit sal weerspieël indien SEB wel sy beoogde doel bereik. Volgens Statistieke SA het die Gini-koëffisiënte vir die jare 1993, 2005 en 2015 egter op onderskeidelik 0,59, 0,65 en 0,65 gestaan. Oor dieselfde tydperk het die ongelykheid tussen die bruin gemeenskappe konstant op 0,56 gebly, onder die Indiese/Asiese gemeenskappe van 0,52 na 0,45 gedaal, onder die wit gemeenskappe van 0,43 tot 0,41 gedaal, maar onder die swart gemeenskappe van 0,54 tot 0,57 gestyg. Boonop het verdere vergelykings deur Statistieke SA gerapporteer dat die top 10% (inkomsteverdieners) in die swart gemeenskappe 7 keer meer as die onderste 40% verdien. Die ekwivalente vergelykende getalle vir ander rassegroepe staan op 4,7 in die bruin gemeenskappe, 4 in die Indiese/Asiese gemeenskappe en 2,4 in die wit gemeenskappe.

Klaarblyklik het nie net die algemene tendens van inkomste-ongelykheid in Suid-Afrika sedert die einde van apartheid gestyg nie, maar ongelykheid onder swart gemeenskappe is ook meer opvallend teenoor ander rassegroepe. Terwyl die ongelykheid in ander rassegroepe óf konstant gebly het óf afgeneem het, styg die inkomste-ongelykheid onder swart Suid-Afrikaners steeds heelwat vinniger as wat dit in ander rassegroepe daal. Daar het duidelik iets verkeerd geloop. Hoewel die verskil in die arbeidsmark sommige van die komplikasies weglê, neem dit nie die kern van die saak weg nie. Ons moet dalk erken dat die verklaring vir die verslegtende toestande in ons land die gevolg van flaters van ons kant af kan wees, en dat die strewe na ons mees waardevolle ideale heeltemal ander uitkomste opgelewer het as wat ons verwag het.

Terwyl apartheid ongetwyfeld die meeste van die verskille uitmaak, is dit duidelik dat post-apartheidsbeleid in die ergste geval die apartheidstendense vererger het, of in die beste geval niks gedoen het om dit om te keer nie.

Alhoewel die aangehaalde statistieke vir sommige mense verbasend kan wees, is dit volkome sinvol vir diegene wat uitgesproke is oor die elitistiese aard van SEB. ’n Minderheid van goed gekonnekteerde en/of bevoorregte mense het daarby gebaat en ongelooflik ryk geword ten koste van diegene wat werklik bystand nodig het.

Waar rasgebaseerde beleide toegepas is – sover ek kan sien – het dit ’n elite-klas in die histories benadeelde rassegroep geskep. Ek dink nie Suid-Afrika gaan anders wees nie. Dit is nie dat die ANC versuim het om rasgebaseerde beleid te implementeer nie, maar eerder dat rasgebaseerde beleid ’n mislukking is.

Gwen Ngwenya

Werksongeskiktheid en SEB

Alhoewel armoede nie eksklusief is tot enige rassegroep in Suid-Afrika nie, is dit duidelik meer gekonsentreerd in die swart Afrika-gemeenskappe. Volgens Statistieke SA leef 61% van swart Suid-Afrikaners in armoede, in vergelyking met 38% van bruin Suid-Afrikaners, 5% van Indiese Suid-Afrikaners en 1% van wite Suid-Afrikaners. Benewens hierdie ongeregtigheid is daar die feit dat 74% van skole nie biblioteke het nie, 80% van skole nie wetenskaplike laboratoriums het nie en 63% van skole nie rekenaarsentrums het nie (volgens die jongste verslag van die Nasionale Onderwysinfrastruktuurbestuurstelsel). As gevolg hiervan is daar nog ongeveer 18 skole in Suid-Afrika wat 0% slaagsyfers het en gemiddeld 30 skole per jaar, tussen 2017 en 2019, wat ’n gemiddelde slaagsyfer van minder as 20% het. Dit is nie verbasend dat hierdie skole in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo geleë is nie: die provinsies met die hoogste aantal arm mense. Dienooreenkomstig is een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika nie soseer werkloosheid as werksongeskiktheid nie – wat vererger word deur die verpligte minimumloon wat onverdienbaar deur arm Suid-Afrikaners is.

Die katastrofiese toestand waarin ons onderwysstelsel is, sowel as die wanaanpassing en wanbestuur van hulpbronne wat veronderstel is om die armste skole te verbeter en die armste mense op te voed, moet dringend aangepak word. Na honderde miljarde rande se uitgawes op openbare skole, het ons nie veel om daarvoor te wys nie. Belastingbefondsde skoolbywoningsbewyse is ’n uitweg vir die gemors waarin ons vasgekeer is. Trouens, die Instituut vir Rasseverhoudinge se meningsopnames toon dat 91% van alle respondente (en 93% van alle swart respondente) aan ’n verskuiwing van hierdie aard voorkeur gee sodat hulle “hulle kinders na skole van hulle keuse kan stuur”.

Dit sal agentskap – wat tans beperk is tot hoë- en middelklas-ouers – ook aan arm ouers verleen. Dit sal verseker dat arm ouers nie meer gedwing word om hulle kinders na swak skole te stuur bloot omdat hulle naby daaraan bly nie. Hierdie proses van “natuurlike seleksie” sal die mees disfunksionele skole uitskakel en ’n leemte skep wat deur beter toegeruste skole gevul moet word, wat skielik met ander skole sal moet meeding. ’n Beter opvoeding sal miljoene Suid-Afrikaners beter in staat stel om strukturele armoede te ontwortel.

Natuurlik sal ’n ekonomie wat sukkel om werk te skep die verskuiwing uit armoede baie moeilik maak. Dit moet dus ekonomiese hervormings wees wat plaaslike produktiwiteit en entrepreneurskap teweegbring terwyl dit ook direkte buitelandse beleggings werf.

Regte swart ekonomiese bemagtiging gaan oor die bevordering van ’n vrugbare omgewing waarin swart Suid-Afrikaners vry is en in staat is om hulle potensiaal te bereik, en waarin hulle hulself min oor strukturele struikelblokke hoef te bekommer. Die onderwysstelsel soos dit tans daar uitsien, is so ’n struikelblok. Teenstrydig genoeg is Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nog ’n strukturele struikelblok vir swart ekonomiese bemagtiging. Die toekenning van kapitaal, geleenthede en ander hulpbronne aan die hoër vlakke van die samelewing kom ten koste van die laer vlakke van die samelewing, wat – soos reeds aangetoon – hoofsaaklik deur swart Suid-Afrikaners bewoon word. Soos enigiemand wat in ’n plattelandse gemeenskap gewoon het of steeds woon, kan getuig, bestaan SEB nie in plattelandse Suid-Afrika nie. Dit is slegs van toepassing in die stede waar dit “inklusiwiteit in die finansiële, regs- en STEM-sektore bevorder”, “diversiteit in die werksplek bevorder” en “rolmodelle vir jong swart kinders skep”. Daar kan bygevoeg word dat dit heel ligsinnig is om rolmodelle te skep vir mense wat onder swak opvoeding gebuk gaan.

SEB moet herroep word. In die plek daarvan moet ’n nie-elitistiese bemagtigingsbeleid ontstaan wat hoofsaaklik daarop fokus om arm mense te help om uit armoede te ontsnap. Dit sal ’n nasionale inisiatief behels om die onderwyskrisis die hoof te bied, asook die tekort aan ondernemings wat blyk uit die skaarste en die verbysterende mislukking van klein ondernemings in ons land. Volgens navorsing wat MoneyWeb oor ’n tydperk van 15 jaar gedoen het, misluk tussen 70% en 80% van klein ondernemings binne die eerste vyf jaar in Suid-Afrika. Dit is eenvoudig onverstandig sowel as onoordeelkundig vir Suid-Afrikaners om ’n onderneming te wil begin nadat hulle al die jare gesien het hoe ’n oorweldigende meerderheid klein ondernemings ontaard en voor hulle oë ondergaan.

Die aanpak van armoede (en ongelykheid) is ’n duursame proses. Dit gaan eenvoudig nie werk om kortpad te skiet nie. Tensy ons die ernstige kwessies van opvoeding, ekonomiese groei en die skep van ’n meer inklusiewe ekonomie kan aanpak, sal ons aanhou om ’n steeds afnemende hoeveelheid welvarende individue en korporasies te belas totdat hulle óf ophou om belasbare welvaart te genereer, óf ons land verlaat.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.