Paradigmas vir gesonde verantwoordbaarheid

 Paradigmas vir gesonde verantwoordbaarheid

Tian Alberts

Hiedie artikel is oorspronklik April 2020 in die Eerste Uitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld nou aan om die voortgesette ontwikkeling van sulke publikasies te ondersteun.

Ons kan gewoon nie meer hulle besluitnemingsprosesse aan ’n spul onverdraagsame aanlyn krygers uitkontrakteer nie.

Tian Alberts

Wetend of onwetend het die meeste Suid-Afrikaners wat die gewone en sosiale media dophou al met die verskynsel van kansellasiekultuur kennis gemaak – ’n hiperreaktiewe aanlyn stelsel van openbare verantwoordbaarheid wat op dinamiese en polities korrekte voorskrifte vir sosiale optrede berus. Die stelsel funksioneer naas die reg en ander legitieme stelsels vir verantwoordbaarheid wat die Grondwet onderskryf, en word op sosiale media in stand gehou deur ’n toenemende groep mense – veral jonges – wat oorwegend glo dat aanstoot gegee eerder as geneem word. Die “soldate” van kansellasiekultuur spring gewoonlik op aandag wanneer veral ’n bekende of gesaghebbende figuur of instelling (dog ook gewone mense) die nimmereindigende en arbitrere lys reels verontagsaam wat veronderstel is om die perke van sosiale aanvaarbaarheid te bepaal. Wanneer dit gebeur, bestorm die eiegeregtige soldate die sosiale media om hulle misnoee aan die wereld te verkondig en sodoende die “oortreder” te “kanselleer”. Ontstoke kommentators en allesbehalwe objektiewe joernaliste in die hoofstroommedia sien dit raak, spring op die lawaaiwa, en plaas druk op instellings wat met die “oortreder” verbind word om die reeds veroordeelde “skurk” te verwerp. Uiteindelik is die gedemoraliseerde “oortreder” sy/haar werk kwyt, en sit die persoon boonop met ’n reputasie wat veel te wense oorlaat. En daarmee is die kansellasieproses voltooi.

Die tande van postmodernisme

Kansellasiekultuur heers dwarsoor die Westerse wereld – veral in die korporatiewe wereld, media en akademie. Dit is die tande van postmoderne politiek, en ’n vervlegting van politieke korrektheid en die onverdraagsaamheid van algeheel verveeldes wat glo dat dit hulle plig is om namens ander op te staan, selfs al het niemand hulle gevra om dit te doen nie. Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Plaaslik is Standard Bank se Chris Hart “gekanselleer” toe hy hom oor die slagoffermentaliteit van die jeug uitgespreek het. Studente van #RhodesMustFall wat waardevolle kunswerke by die Universiteit van Kaapstad (UK) verbrand het, is beloon met die verwydering van ’n standbeeld, waarskynlik omdat die UK-bestuur bang was vir kansellasie indien hulle nie aan die “aktiviste” se eise gehoor gee nie.

‘n Illusie

Nogtans berus die mag van kansellasiekultuur op ’n illusie: Kansellasiekultuur het slegs mag indien die teikens daarvan, en diegene wat met hulle verbind word, toegewings maak. Juis daarom is dit maklik om die valse mag van kansellasiekultuur te knak en stelselmatig met ’n verantwoordelike stelsel vir openbare verantwoordbaarheid te vervang. As ’n normatiewe uitgangspunt, moet geregverdigde kritiek in die media en aanlyn vooropgestel word – kritiek wat ten doel het om individue en instellings aanspreeklik te hou. Die toets vir gesonde verantwoordbaarheid is of klaers bereid sou wees om rondom die spreekwoordelike tafel te sit, hulle teiken ’n kans te gun om hom-/haarself te verdedig en ondersoek in te stel na die werklike omvang van die teiken se stellings of optrede. Neem byvoorbeeld Helen Zille se kolonialisme-twiets. Hoeveel ontstokenes het daarin belang gestel om uit te vind wat Zille werklik met haar stellings bedoel het voordat hulle op die lawaaiwa gespring het om haar te veroordeel? Hoeveel het geweet dat waarvan hulle haar beskuldig, nie strook met wat sy werklik gese het nie?

‘n Gesonde alternatief

Om prakties te werk te gaan om kansellasiekultuur met gesonde verantwoordbaarheid te vervang behels eerstens om die openbare debat te verskuif van kortervormmedia soos Twitter en Facebook na langervormmedia soos webseminare (oftewel “webinare”). Podsendings en webinare is gewilde maniere om ’n diversiteit van menings oor ’n omstrede onderwerp om een “tafel” te laat lug, sonder om veel ruimte vir wanvoorstellings van ander se menings te laat. Deelnemers kan mondelings oor hulle menings en bedoelings gekonfronteer word. Twitter, Facebook en WhatsApp moet slegs blootstelling aan hierdie langer mediavorms verdiep.

Maatskappye, universiteite en regerings sal ook moet besef dat gebruikers van sosiale media – veral ekstreme politieke groepe wat individue agter skuilname wegsteek – nie noodwendig hulle kliente, studente, burgers en ander belangegroepe verteenwoordig nie. Trouens, die realiteit is moontlik net mooi die teenoorgestelde. In hierdie verband moet instellings wat werklik moeite doen om die ware behoeftes van hulle belangegroepe vas te stel, beloon word met die instelling van ’n universele standaard. Bloot omdat ’n bevooroordeelde joernalis ’n artikel skryf oor ’n maatskappy se weiering om institusioneel standpunt in te neem oor ’n aanlyn georganiseerde politieke groep se aandrang dat iemand afgedank word, of dat ’n produk aan die mark onttrek word omdat dit skynbaar aan die ou Suid-Afrikaanse vlag se kleure herinner, beteken nie die maatskappy se reputasie sal skade ly nie. Die maatskappy se werklike belangegroepe verskil dalk sterk met die onoordeelkundige afleidings van die betrokke aanlyn drukgroep. ’n Ontleding van onlangse tendense toon juis dat diegene wat teen kansellasiekultuur opstaan – gewoonlik omdat hulle vir hulle belangegroepe opstaan – met groter gewildheid en aansien beloon word, en nie andersom nie.

Teenstanders van kansellasiekultuur sal uitvind dat ’n beginselvaste weiering om voorgese te word die teengif is vir onverdraagsame pogings om hulle monde te snoer. Daarteenoor is ’n apologie gelykstaande aan ’n skulderkenning, en is die wysiging van besluite en standpunte ’n aanduiding dat jy in die toekoms weer bereid sal wees om jou mening, besluitnemingsmag of die maatskappy se identiteit en beginsels prys te gee. Ongelukkig sal ’n paar moedige instellings en individue die kans moet waag en moet deurdruk wanneer hulle beginsels deur ’n onverdraagsame aanlyn leer van kansellasiesoldate op die proef gestel word. Hulle sal ’n nuwe presedent moet skep, naamlik dat opbouende kritiek en gegronde aanklagtes voortaan die enigste manier sal wees om mense tot verantwoording te roep, en dat kansellasietaktieke om mag op te eis en monde te snoer met die nodige minagting verwerp sal word. Individue en instellings kan gewoon nie meer hulle besluitnemingsprosesse aan ’n spul onverdraagsame aanlyn krygers uitkontrakteer, wat nie eens die moeite sal doen om meriete en konteks om ’n tafel te bespreek nie. Ons moet die paradigma na ’n aanvaarding en inwerkingstelling van gesonde verantwoordbaarheid verskuif.

Tian Alberts