Plaasmoorde: Dringende samewerking nodig

 Plaasmoorde: Dringende samewerking nodig

Ruan Goosen

Brendin Horner, 21-jarige plaasbestuurder van Paul Roux, Vrystaat, se liggaam is verlede week gevind waar dit aan ‘n paal gehang het nadat hy vermoedelik noodlottige beserings opgedoen het aan die hande van plaasmoordenaars. Brendin was ‘n onskuldige jong man met drome en ambisies, en wou bydra tot die voedselproduseringsketting van die nasie. Brendin se storie is ongelukkig nie uniek nie, aangesien boere en soms ook hul kinders weekliks op Suid-Afrikaanse plase aangeval, gemartel en vermoor word. Die wreedheid en unieke aard van plaasmoorde word deur die Suid-Afrikaanse regering ontken, en deur hoofstroommedia-instellings onderbeklemtoon. Ruan Goosen (23) het die feite rondom plaasmoorde in Suid-Afrika ondersoek met die oog op ‘n nasionale gesprek oor die oplossing van hierdie humanitêre krisis.

Die landbousektor is histories ’n kernrolspeler in Suid-Afrika se ekonomie, sowel as in die land se onderskeie kulturele samestellings. Terwyl hierdie sektor onontbeerlik vir Suid-Afrika se bruto binnelandse produk en voedselsekuriteit is, is dit ook die kulturele en sosio-ekonomiese “gom” wat landelike gemeenskappe bymekaar hou. Soos stedelike en landelike gemeenskappe van mekaar afhanklik is vir voedselvoorsiening en verbruik, is boere en landelike gemeenskappe insgelyks van mekaar afhanklik. Dink maar aan skole vir plaaswerkers se kinders, gemeenskaplike kerke, werkskepping en ander geleenthede wat uit die inisiatief van boerderye spruit en landelike omgewings as ’n geheel baat.

Terwyl plaasboere die hoeksteen van die komplekse landelike ekosisteem is, dui ’n toenemende golf plaasaanvalle en die gepaardgaande stilswye van openbare amptenare op ’n totale gebrek aan begrip daaroor. Ideologiese en partypolitieke voorbehoude wat regstreekse ingrypings verhoed wanneer dit by plaasmoorde kom, is letterlik besig om landelike gemeenskappe te verwoes. Die implikasie hiervan vir dié gemeenskappe, sowel as ’n land wat in geheel van die produksie in landelike gemeenskappe afhanklik is, is opvallend. ’n Kortsigtige renons in enige ingryping wat kan sinspeel op die bedreigdheid van veral wit plaasboere, kniehalter ’n betekenisvolle begrip vir die wrede realiteit vir die regstreekse slagoffers, sowel as rampspoedige nasionale gevare soos ’n naderende voedselkrisis.

Volgens die Transvaalse Landbouunie van Suid-Afrika (TLU SA) het plaasaanvalle met 25% toegeneem tussen die tydperk 1990 tot 1999 en die tydperk 2000 tot 2009 (1990-1999 = 1 125 ná 2000-2009 = 1 407). Dit is opvallend dat plaasaanvalle sedert 2010 met 86% toegeneem het vanaf die tydperk 2000 tot 2009 (2010-2019 = 2 616). Dít terwyl die getal plaasboere in dieselfde tydperk met meer as 75% verminder het, vanaf 128 000 in 1980 tot 32 000 in 2007. Die prentjie hier is dus duidelik: ten spyte van ’n afname in boere, neem moorde op boere onteenseglik toe.

Die ontkenning van die onhoudbare werklikheid rondom plaasmoorde en aanvalle is ’n humanitêre onreg en gaan Suid-Afrika in die geheel duur te staan kom.

Ruan Goosen

Politieke opportunisme

Die onweerlegbare toename in plaasaanvalle en moorde oor die afgelope drie dekades, wat na verwagting tot daadwerklike optrede en ’n nasionale verontwaardiging sou lei, het daarenteen die tafel gedek vir ’n onheilspellende politieke magspel. Politieke partye oor die spektrum heen het plaasaanvalle as voertuig ingespan om kiesers te werf. Van partye wat die “fiktiewe plaasmoordkwessie” as ’n propaganda-toertjie afmaak om rassehaat te kweek, tot partye wat sinspeel op ’n samesweringskomplot deur die ANC om ’n volksmoord op wit Suid-Afrikaners uit te voer, word die werklike slagoffers en toekomstige slagoffers se vrese nie besweer nie en die realiteit nie aangespreek nie. Enersyds word die onhoudbare realiteit van boere en hul omliggende gemeenskappe heeltemal geïgnoreer en andersyds word foutiewe statistieke gebruik om onder wit Suid-Afrikaners en buitelandse belanghebbendes paniek te saai. Die misleiding wat aan beide kante aangewend is beteken vandag nog dat nugtere en feite-gedrewe ontledings oor plaasmoorde in openbare diskoers telkens gefnuik word. Intussen kan boere en landelike gemeenskappe maar net droom oor beduidende praktiese oplossings vir ’n dekadeoue verskynsel wat dag-vir-dag aan die wese van hulle bestaan wegkalwe.

Die feite

Kom ons vermy hier die bogenoemde analitiese slaggate. Die kwessie moet allereers vanuit ’n statistiese invalshoek benader word. Daar is nie ’n enkele bron wat geraadpleeg kan word om die “ware” misdaadsyfers te ontleed nie, en selfs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het onlangs onbetroubare statistieke gepubliseer. In die SAPD se 2017/2018 provinsiale verslag betreffende plaasmisdaad word daar byvoorbeeld slegs een plaasmoord in sowel die Wes-Kaap as die Noord-Kaap vermeld, terwyl nuusberigte daarop dui dat daar in daardie tydperk twee plaasmoorde in die Wes-Kaap en drie in die Noord-Kaap plaasgevind het. Gelukkig kan ’n ontleding oor plaasmoorde gebaat word deur onafhanklike en betroubare syfers wat met moeite deur organisasies soos TLU SA, AgriSA, die Instituut vir Sekuriteitstudies in Afrika (ISS) en AfriForum versamel word. Met ’n verskeidenheid bronne kan ’n vollediger prentjie van ’n komplekse aangeleentheid geskets word.

Ek verpoos eers om die breër misdaadkonteks in Suid-Afrika te ontleed. Volgens Numbeo se 2020 Misdaadindeks, is Suid-Afrika die derde gevaarlikste land ter wêreld en volgens die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad is Suid-Afrika se moordsyfer (34 per 100 000 mense) vergelykbaar met dié van oorlogsones soos Somalië (38,4 per 100 000), Afghanistan (40,4 per 100 000) en Irak (40,3 per 100 000). Vandaar die bekende argument dat plaasmoorde nie uitgesonder moet word nie, omdat daar byna 57 moorde per dag in Suid-Afrika gepleeg word (dit blyk ’n vreemde argument te wees in die lig van die onlangse prioritisering van moorde op vroue, terwyl 13% van diegene wat in 2018/19 vermoor is, vroue was). Die nominale vergelyking tussen die getal plaasmoorde en die getal landswye moorde is egter heeltemal misplaas en behoort eerder per capita ontleed te word: daar is 59 miljoen landsburgers en slegs 32 000 kommersiële boere (2007-sensus). Daarvolgens is dit drie tot vier keer (afhangende van hoe die per capita-syfer bereken word) meer waarskynlik dat ’n plaasboer vermoor sal word as enige ander persoon in Suid-Afrika. Ter illustrasie van hierdie beduidende feit het die ISS bevind dat ’n plaasboer twee keer meer waarskynlik vermoor sal word as ’n polisielid in Suid-Afrika (51 moorde per 100 000 polisielede).

Aard van plaasmoorde

Statistiek kan egter soms afbreuk doen aan die menslike impak van plaasmoorde. Daarom moet die wreedheid van hierdie aanvalle in oënskou geneem word sodat die volledige prentjie aan die lig kan kom. Terwyl die meeste moorde in Suid-Afrika deur impulsiewe rolspelers en in die spervuur van bendegeweld gepleeg word, is plaasmoorde uniek weens die besondere berekende en wrede maniere waarop dit uitgevoer word. Volgens Strydom en Schutte (2005) is die geweld en marteling wat met plaasaanvalle gepaard gaan in die algemeen veel erger as met normale aanvalle in stedelike gebiede. Nuuslesers berig gereeld dat plaasaanvalle gepaard gaan met die verwydering van ledemate, kookwater of olie wat toegedien word, verkragting, en die verskynsel dat aanvallers gesinslede forseer om mekaar te verkrag, terwyl die aanvallers toekyk. Analogies is daar ’n verskil tussen ’n impulsiewe moord op ’n vrou wat haar besittings teen inbrekers probeer beskerm, en ’n vrou in ’n afgesonderde gebied wat verkrag, mishandel en vermoor word omdat sy ’n vrou is. Insgelyks is daar ’n verskil tussen ’n moord in ’n digbevolkte gebied waar die slagoffer in ’n konfrontasie impulsief met ’n mes gesteek is, en ’n moord wat dae lank beplan is om ’n boer in ’n afgeleë gebied op die wreedste manier moontlik te vermoor. Motief en konteks is belangrik, en statistiek staan koud in dié verband.

Benewens die feit dat Suid-Afrika in die eerste instansie te doen het met ’n humanitêre krisis wat plaasmoorde en aanvalle betref, behoort die rimpeleffekte daarvan op die ekonomie ook nie geringskat te word nie. Nie net ly die omliggende gemeenskappe wat afhanklik is van boerderye vir werk en voedsel onder die verlies aan boerderye nie, maar in die algemeen hou die kumulatiewe uitwissing van boere en boerderye ernstige skadelike gevolge vir voedselsekuriteit in. Volgens Schutte (2004) lei elke plaasmoord daartoe dat minstens 30 tot 40 mense hul werk verloor en dit neem ongeveer 18 maande vir produksie om weer op daardie plase te begin. Die landboubedryf skep vir meer as 700 000 Suid-Afrikaners werk, en talle meer sekondêre werksgeleenthede spruit uit hierdie bedryf voort. ’n Groot aantal Suid-Afrikaanse maatskappye is in die een of ander mate van die landboubedryf afhanklik.

Hoe nou gemaak?

Alhoewel daar organisasies en gemeenskappe is wat reeds met private oplossings vorendag gekom het om die “sagte oorlog” op plase te probeer bestry, kan daar nie ’n volhoubare oplossing vir hierdie krisis wees sonder die samewerking van die regering en die polisiediens nie. Dit is kommerwekkend dat die regering tot dusver nog nie besorgdheid oor die onlangse toename in plaasaanvalle en moorde uitgespreek het nie, en president Ramaphosa self het op internasionale nuuskanale ontken dat boere enigsins in Suid-Afrika vermoor word.

Derhalwe is dit onvermydelik dat die eerste stap in die regte rigting van ’n volhoubare oplossing moet wees dat die regering die omvang van die probleem erken en dit as ’n beleidsuitgangspunt prioritiseer. ’n Praktiese oplossing behels dat die regering meer betroubare en gereelde statistieke oor misdaad op plase publiseer, en volgehoue navorsing van stapel stuur oor metodes om plaasaanvalle en moorde te bekamp. Voorts moet alle vlakke van regering saam met landelike gemeenskap werk om veiligheidstrukture op te knap, ten einde die leemte te vul wat in 2003 gelaat is met die regering se ontbinding van die kommandostelsel.

Plaaslike netwerke wat spoedig reageer op ’n noodsein het die vermoë om te voorkom dat plaasaanvalle wat reeds begin het, in plaasmoorde ontaard, met ander woorde dat daardie aanvalle nie suksesvol is nie. Die regering is ’n onontbeerlike rolspeler, maar behoort private inisiatiewe aan te vul en te ondersteun eerder as om dit te vervang en allermins om dit te pootjie. ’n Voortsetting van die ontkenning van plaasmoorde en aanvalle in die geledere van die ANC – en veral deur president Ramaphosa – gaan nie net die boere nie, maar ook alle Suid-Afrikaners duur te staan kom.

Ruan Goosen