Professionalisering van onderwysberoep bied sleutel tot leesprobleem

 Professionalisering van onderwysberoep bied sleutel tot leesprobleem

Wihan Marais

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Die oplossing van ’n probleem van hierdie omvang vereis dat al die sleutelspelers in die Suid-Afrikaanse skolestelsel die probleem moet erken en dat fundamentele beleidsintervensies daarop volg – in pas met onlangse studies wat die behoefte aandui dat leesontwikkeling in die vroeë grade geprioritiseer word en aanbeveel dat begripleesvermoë‑ontwikkeling aan die einde van graad 3 as ’n sentrale fokus gestel word.

Wihan Marais

Plaaslike en internasionale navorsing oor die Suid-Afrikaanse skolestelsel tipeer dit onder meer as onderpresterend, onderontwikkeld en ongelyk. Die Suid-Afrikaanse regering spandeer sowat 15% van sy totale besteding aan onderwys, wat dit die grootste enkellyn-item op die begroting maak. Ondanks hierdie openbare belegging in die onderwys, lewer Suid-Afrika steeds leerders met relatief tot buitengewoon lae geletterdheids- en gesyferheidsvaardighede. In ’n neutedop:b Suid-Afrikaners kry gewoon nie waarde vir hul geld wat die onderwys betref nie.

Die ongelykheid wat die bimodale onderwysstelsel in Suid-Afrika kenmerk, is verbasend selfs teen die agtergrond van die onderontwikkelde onderwysvlak in die land. Die bimodale stelsel toon die massiewe gaping tussen goed funksionerende skole wat skoolgeld hef en onderpresterende skole wat geen skoolgeld hef nie. Ondanks bewyse van spesifieke stelselmatige verbeterings in die stelsel as ’n geheel, dui die prestasievlakke ten opsigte van geletterdheid en gesyferdheid in die land daarop dat die Suid-Afrikaanse skolestelsel sy leerders faal.

Die leesprobleem staan sentraal tot die leeruitkomste- ellende in die Suid-Afrikaanse skolestelsel. Kinders se leesvermoë is noodsaaklik vir hul toekomstige akademiese sukses. Kortom, ’n mens moet eers leer lees om te kan lees vir leerdoeleindes. Sonder hierdie deurslaggewende vaardigheid kan leerders nie die voordele daarvan geniet om stelselmatig deur die skolestelsel te vorder terwyl hulle hul kurrikulum in elke vak deurwerk nie.

Studies toon dat leesuitkomste in die land tussen 2006 en 2011 verbeter het, maar tussen 2011 en 2016 gestagneer het. In 2016 het Spaull en Pretorius bevind dat 58% van Suid-Afrikaanse leerders aan die einde van graad 4 nie vir begrip kon lees nie. Dit is onrusbarend gegewe dat die land se kurrikulum gebaseer is op die onbevestigde aanname dat leerlinge teen die einde van graad 3 sou moes leer lees het. Ongelukkig het Spaull en Pretorius later bevind dat leerders in 2019 steeds nie voldoende toegerus is om in enige taal, ingesluit hul huistale, te lees nie.

Hierdie resultate durf nie geïgnoreer word nie. Die oplossing van ’n probleem van hierdie omvang vereis dat al die sleutelspelers in die Suid-Afrikaanse skolestelsel die probleem moet erken en dat fundamentele beleidsintervensies daarop volg – in pas met onlangse studies wat die behoefte aandui dat leesontwikkeling in die vroeë grade geprioritiseer word en aanbeveel dat begripleesvermoë ontwikkeling aan die einde van graad 3 as ’n sentrale fokus gestel word. Indien dit nie spoedig aangepak word nie, sal die meeste leerders nooit in staat wees om hul opvoedkundige vakinhoud volledig en sinvol deur te werk nie. Volgens die bestaande kurrikulum kry afgeskeepte leerders nooit weer met leeslesse te doen nadat hulle in graad 3 geslaag het nie – ongeag hul vermoë of onvermoë om sinvol te lees.

Dit is duidelik dat onderwysers, veral onderwysers in die vroeë grade, nie daarin kon slaag om leerders effektief te leer lees nie. Omdat lees onderrig word en nie aangeleer word nie, word leesontwikkeling sterk met die bevoegdheid van onderwysers geassosieer. Die oogmerk met verdere intervensies moet wees om die kapasiteit en monitering van onderwysers te verbeter, en om vordering met die implementering van ’n nuwe kurrikulum – wat die onderrig en die verdieping van leesvaardighede deurgaans beklemtoon – te monitor. Elke opleidingsprogram vir vroeëgrade-onderwysers moet die ontwikkeling en onderrig van vroeë geletterdheid beklemtoon.

Daar word aanbeveel dat die SA owerhede proaktiewe maatreëls vir die professionalisering van die onderwysberoep ondersoek, beplan en implementeer. Programme, begrotingshertoewysing en beleid wat dié beroep as ’n professie herdefinieer, moet hierdie maatreëls vergesel, asook gespesialiseerde akademiese grade wat dit vir onderwysers moontlik maak om ooreenkomstig ’n bygewerkte en meer gevorderde kurrikulum te floreer. Ons durf nie langer die empiriese bewyse ignorer wat aandui dat die professionalisering van die onderwysberoep tot hoër produktiwiteit in skole sal lei en voornemende onderwysers deur hoër salarisse na die professie sal lok nie. Die erkenning van die probleem en die omskakeling van die kennis in beleid is noodsaaklik vir die aanpak van die leesprobleem wat die onderliggende rede vir die breër onderwyskrisis in Suid-Afrika is.

Wihan Marais