SA moet privaat geldeenhede opnuut ondersoek, voor dit te laat is

 SA moet privaat geldeenhede opnuut ondersoek, voor dit te laat is

Daniël du Plessis

Selfs al is privaat geldeenhede in ander wêrelddele goed gedokumenteer, word dié onderwerp selde in Suid-Afrikaanse verband bespreek. Dít verras nie juis nie, want die meeste navorsing in hierdie verband handel oor die sogenaamde “era van bankvryheid” in die Verenigde State (1837–1866) en soortgelyke praktyke in Australië (vanaf ongeveer 1788 tot en met die uitvaardiging van die Wet op Banknote in 1863).

Ondanks die relatiewe skaarste aan materiaal oor privaat geldeenhede in Suid-Afrika, is daar egter ’n ryk en interessante tradisie om te verken. Sommige voer byvoorbeeld aan dat argeologiese ontdekkings in Suid-Afrika moontlik dui op die heel eerste opgetekende geval van waar mense ’n betaalmiddel gebruik het.

Toegegee, ’n muntskulphalssnoer waarop argeoloë in die Wes-Kaapse Blombosgrot afgekom het, lyk nie juis soos hedendaagse geldeenhede nie, en dit is heel moontlik dat die skulpe net vir versiering was. Die latere gebruik van hierdie selfde skulpe as betaalmiddel in ander dele van Afrika en die wêreld, en die ooreenkomste met die “gaatjiemunte” wat later sou volg, wek nietemin die indruk dat daar meer agter die halssnoer kon gesteek het.

Kenners reken hierdie artefakte kan sowat 75 000 jaar teruggevoer word, wat impliseer dat, indien dit wél ’n betaalmiddel was, dit ook getuig van een van die moderne mens se eerste bekende kognitiewe handelinge.

Kan betaalmiddele dalk een van die heel eerste menslike uitvindings wees? Dit is heel moontlik, en om te verstaan waarom, moet ons eers oorweeg wat presies ’n betaalmiddel is.

Wat is die eienskappe van ’n goeie betaalmiddel? 

’n Betaalmiddel is in wese ’n ruilmiddel – ’n item wat gebruik word om ruiltransaksies moontlik te maak tussen persone wat dalk nie andersins oor versoenbare behoeftes en goedere beskik nie.

Ter illustrasie van hierdie (on)versoenbaarheid, wat soms ook die “dubbele toeval van behoeftes” genoem word, hoef ’n mens jou net ’n handelaar in die oertyd voor te stel wat ’n lewende hoender vir ’n bietjie graan wil ruil. Om die transaksie moontlik te maak, moet die handelaar iemand opspoor wat nie net ’n hoender nodig het nie, maar ook graan het wat hy/sy bereid is om af te staan. En hoe meer goedere in die ekonomie, hoe moeiliker was dit om presies daardie goedere te kry wat ’n mens in ’n bepaalde stadium nodig gehad het. Vandaar die ontstaan van tussengoedere – goedere wat oor die algemeen gesog was en maklik vir bykans enigiets verruil kon word. Gestel byvoorbeeld alle lede van ’n samelewing eet gereeld brood. Selfs al het ’n mens nie op ’n spesifieke oomblik brood nodig nie, sal iemand waarskynlik meer geneë wees om brood te ruil as ’n hoender, en sodoende word brood ’n tipe tussengoed, wat maklik verruil kan word vir watter ander items jy ook al nodig het.

Nogtans is nie alle tussengoedere gelyk nie omdat sommige dalk oor eienskappe beskik wat dit meer geskik maak as betaalmiddele. Beter betaalmiddele is byvoorbeeld dié wat in kleiner hoeveelhede gedeel kan word, nie bederf nie, en maklik is om saam te dra.

Die rol van regerings 

Hoewel dit ’n de facto-norm geword het, is daar niks wat bepaal dat regerings geldeenhede moet uitreik nie. Nogtans het staatsuitgereikte geldeenhede in die meeste wêrelddele tot en met die onlangse opgang van kriptogeldeenhede weinig indien enige mededinging gehad.

Dít was egter nie altyd die geval nie. Nes Australië, die Verenigde State en ander lande, waar privaat betaalmiddele vir die grootste deel van die geskiedenis gebruik is, het Suid-Afrika ook ’n lang tradisie van privaat handelsmiddele. Dít is veral belangrik om te onthou in die huidige Suid-Afrikaanse konteks, waar ons maar alte bewus is daarvan dat selfs staatsuitgereikte geldeenhede ernstige finansiële en ander risiko’s kan inhou. Benewens die afname in die waarde van die rand die afgelope paar dekades, is daar ook ander, meer sistemiese risiko’s: Nog voor die Covid-19-pandemie was die risiko van ’n soewereine skuldkrisis in Suid-Afrika groot – nou is dit selfs groter. Dít hou ernstige uitdagings in vir Suid-Afrikaanse monetêre beleid, om verskeie redes.

Swak staatsbeleid, en die instellings wat ons daarteen beskerm 

Etlike politieke figure doen reeds geruime tyd ’n beroep op die Reserwebank om sy mag te gebruik om die geldvoorraad uit te brei om sodoende politieke en ontwikkelingsdoelwitte te verwesenlik. Hoewel dit duidelik is dat hierdie “buigsamer” beleid waarvoor die ANC voorspraak doen ’n enorme bedreiging vir spaargeld, mense se bestaan en die sakesektor inhou, is dit nie moeilik om in te sien waarom so ’n moontlikheid dalk die land se maghebbers aanstaan nie. Eerstens bied dit ’n baie netjiese oplossing vir Suid-Afrika se soewereine skuldkrisis, wat grootliks in rand is. Indien die Reserwebank meer geneë is om obligasies in opemarkbedrywighede te koop, kan hy baie van die staat se skuldverpligtinge nakom, sonder om enige werklike bykomende skuld aan te gaan. Tweedens, namate die geldvoorraad toeneem, sal die waarde van die rand waarskynlik verder daal, wat skuldterugbetaling al hoe makliker maak. Daarbenewens sal hierdie tipe geldvervaardiging ’n maklike manier wees vir die regering om verskeie populêre beleide, waaronder universele basiese inkomste, te finansier sonder om belasting op ’n reeds oorlaaide belastingbasis te verhoog.

Die mooiste van so ’n beleid – soos met alle gesofistikeerde politieke maneuvers – is dat dit sy ware identiteit goed verdoesel. Hierdie beleid sal in die praktyk waarskynlik soortgelyk wees aan ’n belasting op spaargeld, want inflasie sorg dat die koopkrag van bestaande geld afneem en eerder vir staatsgoedgekeurde besteding aangewend word. Slegs twee goed skei tans ons monetêre beleid van die “buigsamer” beleid waarvoor die ANC voorspraak doen, naamlik die Reserwebank se grondwetlike mandaat en institusionele integriteit. Indien enigeen hiervan sou faal, kan dit noodlottig wees. Soos die magswisseling in die Kantoor van die Openbare Beskermer getoon het, lewer ’n verlies aan institusionele integriteit by ’n grondwetlik verskanste liggaam ’n kragtelose entiteit op. En soos ons met die debakel oor onteiening sonder vergoeding gesien het, is die wysiging van wesenlike bepalings van die Grondwet dalk nié so vergesog soos almal gedink het nie.

Die behoefte aan monetêre mededinging 

Dit behoort nie te verbaas dat Suid-Afrikaners stappe doen om hulle bates te beskerm nie, hetsy deur buitelandse valuta te koop of in privaat geldeenhede te belê, wat deesdae hoofsaaklik aanlyn kriptogeldeenhede is. Nietemin word daar steeds waarskynlik nié genoeg gedoen om die bedreiging van ’n monetêre ineenstorting en die verwoestende gevolge vir spaargeld af te weer nie: Bestaansmiddele en ondernemings bly grootliks blootgestel aan die moontlikheid van swak toekomstige beleid. Ons behoort te leer by Venezuela, waar burgers swaar op kriptogeldeenhede gesteun het om so normaal moontlik voort te gaan gedurende daardie land se algehele ekonomiese ineenstorting, ofskoon met ’n betreklik onstuimige oorgang. Weens ’n beperkte voorraad Amerikaanse dollar, waarop Venezolane steeds staatmaak, en huiwerigheid om kriptogeldeenhede te aanvaar, is baie inwoners nog altyd blootgestel aan die vernietigende uitwerking van inflasie.

Indien Suid-Afrikaners hulle geld wil beskerm, en daarmee saam die geringste vorm van ’n ekonomie wil behou, behoort hulle meer proaktief te wees as wat die Venezolane was. As ons die kwessies van kriptogeldaanvaarding en -gebruik die hoof wil bied voordat dit ’n probleem word, moet ons besin oor wat ’n geldeenheid lewensvatbaar maak.

  • Verbruikers behoort opgevoed te word oor die moontlikheid van kripto-transaksies, en finansiële infrastruktuur behoort daadwerklik ontwikkel te word met die oog daarop om in die toekoms vir hierdie transaksies voorsiening te maak.
  • Transaksies moet maklik wees om te verstaan, wat impliseer dat die waarde van die geldeenheid voorspelbaar en deursigtig moet wees.
  • Dít sal moeilik haalbaar wees met ’n aantal verskillende geldeenhede. Daarom moet daar ’n poging aangewend word om transaksies in dollargekoppelde kriptogeldeenhede moontlik te maak of, as alternatief, in geldeenhede wat die waarde van die rand probeer volg, maar wat vlak voor hiperinflasie ontkoppel kan word.

Ongeag of hiperinflasie ooit ’n werklikheid word, sal dit verstandig wees vir ondernemings en verbruikers om te begin dink aan maniere om hulle bates te beskerm en in ’n wêreld ná die rand sake te doen. Gelukkig bied die wêreld vóór die rand heelwat lesse hieroor.

Daniël du Plessis