Sowell oor botsende visies

 Sowell oor botsende visies

Philasande Shongwe

Visies is die basisse waarop teorieë gebou word. Die finale struktuur hang nie slegs van die basis af nie, maar ook van hoe noukeurig en konsekwent die raamwerk van die teorie opgestel is en hoe goed dit deur harde feite gerugsteun word.

Thomas Sowell

Of dit nou geldbeleid of migrasie, onderwys of dwelmwette, klimaatsverandering of gesondheidsorg is, is dit nie ongewoon om keer op keer dieselfde bekende gesigte van weerskante van die links-regse politieke oortuigings te sien wat mekaar aangluur nie. Dit gebeur te dikwels om toevallig te wees, en die resultate is te chaoties vir vooraf beplanning. Met nadere ondersoek van die argumente wat gegee word, word dit duidelik dat mense vanuit fundamenteel verskillende uitgangspunte redeneer. Dit is hierdie uitgangspunte (of visies) wat die basis bied vir individue en groepe se deurgaanse teenstand rakende talle skynbaar onverwante kwessies.

’n Botsing van visies: beperk teenoor onbeperk

Volgens Thomas Sowell kan ons sin van hierdie verskille maak deur die voorveronderstellings van elke argument vir, of teen, enige kwessie te verstaan. So vind ons dikwels dat alhoewel die kwessies op sigself ontelbaar en in baie gevalle heeltemal onafhanklik van mekaar is, het hulle almal gemeenskaplike argumentatiewe basisse. Sowell het hierdie basisse breedweg volgens die “beperkte en onbeperkte visies” gekategoriseer.

n sy boek A Conflict of Visionsbegin Sowell met die verduideliking van wat hy met die woord “visie” bedoel, en skryf: “’n Visie, soos die term hier gebruik word, is nie ’n droom, ’n hoop, ’n voorspelling of ’n morele noodsaaklikheid nie, alhoewel enige van dié dinge uiteindelik uit ’n bepaalde visie kan spruit. Hier is ’n visie ’n soort oorsaak. Dit is meer soos ’n gevoel eerder as ’n oefening in logika of feitelike bewyse. Hierdie dinge kom eers later en ontwikkel uit die grondstof wat die visie bied. Indien oorsaak so verloop soos ons visie dit bedink, dan volg sekere ander gevolge, en teorie is die uitwerking van wat daardie gevolge is.”

Elke man, waarokal hy gaan, word omring deur ’n wolk van vertroostende oortuigings wat soos vlieë op ’n somersdag saam met hom beweeg.

Bertrand Russell

Die beperkte visie

Die menslike natuur is inherent gebrekkig en nie oneindig smeebaar nie. Die groot deugde daarvan, moed, liefde, deernis, ensovoorts gaan gepaard met die ondeugde, waarvan jaloesie, bedrog, ydelheid, gierigheid en haat slegs enkele voorbeelde is. Die beperkte visie neem hierdie uitgangspunt en beskou die menslike natuur self as die beperking waarom ekonome, politici en ander professionele persone wat met mense te doen het, moet beweeg.

Voortspruitend uit hierdie basis is voorstanders van die beperkte visie van mening dat sosiale instellings die beperkings van menslike potensiaal moet akkommodeer – om die beste eienskappe ten beste te benut en om die ongewenste eienskappe te reduseer sover dit prakties uitvoerbaar is. Die visie beskou aansporings en ontmoedigings as ontsagwekkend kragtig. Alexander Hamilton het dit so gestel: “Dit is die lot van menslike instellings, selfs dié wat die mees ideale soort is, om gebreke sowel as voortreflikhede te hê – sowel slegte as goeie geneighede. Dit is die gevolg van die Mens se onvolmaaktheid.”

Die vraag waarmee aanhangers van hierdie uitgangspunt konstant worstel, is hoe ons die beperking van die menslike natuur kan gebruik – eerder as om dit te probeer aanpas – om die produksie van voordele vir die res van die samelewing te bewerkstellig. Adam Smith het in sy klassieke werk, The Wealth of Nations, aangetoon dat dit inderdaad moontlik is om, volgens opdrag en instruksie van ’n “onsigbare hand”, onbedoelde voordele vir lede van die samelewing te bekom. Smith het uitgewys hoe die druk van mededinging en aansporings van individuele eiebelang (’n deontologies onetiese menslike eienskap) tot groter samelewingsvoordele kan lei. Dit was toe ’n astronomiese teorie en bly vandag steeds astronomies aangesien dit deur hope bewyse ondersteun word; hoe miljarde mense uit armoede, lyding en ellende kan ontsnap te danke aan redes wat uiteindelik tot eiebelang en hebsug gereduseer kan word.

Die onbeperkte visie

Jean-Jacques Rousseau het dit waarskynlik die beste gestel toe hy gesê het: “Die mens word vry gebore, maar is oral in kettings vasgevang.” Die implikasie hier is dat die magdom probleme wat die wêreld teister nie die gevolg van inherente menslike ondeugde is nie, maar die gevolg van bose stelsels en instellings, sowel as ander redes buiten die menslike aard. Die rede waarom daar soveel lyding in die wêreld is, is omdat instellings wat deur die mens gemaak is, mense gekorrupteer het. Die beste manier om dit te verbeter en die skade ongedaan te maak, is om die bose instellings wat vir die lyding verantwoordelik is, te vernietig, en om beter, regverdiger instellings in hulle plek te bou. Dit is dus die gevolg dat die menslike natuur oneindig smeebaar is, en dus, deur middel van die skep van die regte sosiale instellings met die regte mense in beheer, het die individuele potensiaal geen perke nie en kan lyding verlig word.

Voorstanders van die onbeperkte visie glo dat die probleme van die wêreld nie deur die menslike natuur beperk word nie. Mense sal deugdelik optree solank die regte voorwaardes in plek is. Voorstanders verwerp gevolglike resultate en fokus meer op die motiverings agter die aktiwiteite. William Godwin het in sy beroemde boek Enquiry Concerning Political Justice geskryf dat die bedoeling om ander te bevoordeel “die essensie van deugde” is. Godwin beskou sosiaal georkestreerde aansporings as “onwaardige en onnodige hulpmiddels” omdat dit regstreeks sonder aansporings moontlik is om te bereik wat aansporings ontwerp is om te bereik.

Karl Marx is nog ’n voorstander van hierdie visie. Volgens hom is kapitalisme verantwoordelik daarvoor om mense te korrupteer. Dit is die soeke na geldelike opeenhoping wat veroorsaak dat mense gierig, selfsugtig en jaloers is. Dit volg dan logies dat die stelsel omvergewerp word en dat ’n meer welwillende stelsel in die plek daarvan ontstaan. Marx het perfek vergestalt waaroor die onbeperkte visie gaan. Dit is nie die menslike aard wat die penarie is nie, maar die instellings wat deur mense gebou word.

Refleksies

Thomas Sowell beklemtoon dat hierdie visies, hoewel hulle in kontras met mekaar is, nie as geïsoleerde, opponerende basisse gesien moet word nie, maar eerder as die uiterste punte van ’n spektrum. Die doel van A Conflict of Visions was nie om die een visie beter as die ander te verklaar nie, maar eerder om ons te help om die aannames afkomstig van uiteenlopende standpunte te verstaan.

Dit moet genoem word dat Thomas Sowell self, soos blyk uit sy ander geskrifte, meer na die beperkte visie neig. Dit is verkeerd om te glo, soos Sowell aanvoer, dat sosiale instellings soos kolonialisme, apartheid, slawerny, kapitalisme, kommunisme, feodalisme, ensovoorts die grondoorsaak van lyding, hebsug, rassisme en onderdrukking is, en dat die wêreld sonder hierdie instellings noodwendig vry van onreg en onderdrukking sou wees. Lyding gaan sosiale instellings met miljoene jare vooraf. Ons het ’n paar barbaarse eienskappe uit ons evolusionêre verlede geërf wat oor miljoene jare teweeg gebring is. Die koms van die beskawing was tereg bedoel om ons beste eienskappe ten beste te benut en om ons slegste eienskappe te reduseer (of ten goede te benut).

Dit is heeltemal ligsinnig, soos die geskiedenis aantoon, om die menslike natuur te onderdruk deur “goedaardige” instellings te implementeer met die hoop dat dit kwaadwilligheid sal verdring. Ons het deur die loop van die geskiedenis met hierdie idee geëksperimenteer en gepoog om utopiese samelewings te skep. Die samelewings wat ons geglo het vry van hebsug, onderdrukking en ongelykheid sou wees, het duidelik meer van die uitkomste opgelewer wat hulle juis wou uitroei. Dit maak nie saak hoe goed die stelsel ontwerp is nie, want solank dit nie die menslike natuur as ’n beperking beskou nie, sal dit beslis die slagoffer van die mensdom se inherente ondeugde word.

… Jy vertel my telkens dat dit in teorie wonderlike idees is, dit is net dat dit nooit in die praktyk uitwerk nie … Op ’n stadium moet jy vir jouself vra: ‘Kan dit wees dat hierdie beginsel nie met die mense soos hulle op hierdie planeet bestaan in die praktyk kan uitwerk nie?’

Thomas Sowell

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.