Staatsafhanklikheid, Eskom en privatisering

 Staatsafhanklikheid, Eskom en privatisering

Paul Maritz

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Die gemeenskap se goedkeuring behoort as primêre maatstaf ingereken te word en gereelde hersiening van tenders sal moet plaasvind. Met die regte onderhandelingstrategie kyk ons dalk na ‘n Suid-Afrika waarin klein dorpies in die voorsienbare toekoms deur eksterne voorsieners met elektrisiteit voorsien word. Dorpies in woestynagtige gebiede met plase in die omtrek wat deur sonpanele bedek word en die hele dorp met elektrisiteit voorsien is nie te vergesog nie.

Paul Maritz

Daar word met reg op verskeie aanlynplatforms na Suid-Afrika as die “proteshoofstad van die wêreld” verwys. Wie hier die meeste geraas maak kraai gewoonlik koning. Hierdie verskynsel bring verskeie probleme vir Suid-Afrika as politieke eenheid teweeg, waarvan die vernaamste onregeerbaarheid is. Afgesien van die probleme wat deur protesgedrewe toe-eiening van mag veroorsaak word, is hierdie benadering ook ‘n prominente simptoom van ‘n verlammende verskynsel waarna verwys sal word as “staatsafhanklikheid”. Staatsafhanklikheid word die orde van die dag wanneer ‘n land se burgers op uitdagings reageer deur die vinger na die staat te wys.

Die belangrikste manifestasie van staatsafhanklikheid presenteer in die vorm van Eskom – ‘n de facto monopolistiese energievoorsiener in Suid-Afrika. Op 16 Oktober 2019 het Suid-Afrikaners, soos soveel maal in die verlede, verneem dat ons voortaan weer gyselaar gehou sal word deur Eskom se beurtkrag en sal moet toekyk hoe intensiewe pasiënte in hospitale met foutiewe kragopwekkers sterf en besighede en winkelsentrums vir ure op ‘n dag hul deure moet sluit. Dit is natuurlik nie nodig om die gevolge wat beurtkrag vir die ekonomie en welstand van burgers inhou te verduidelik nie of om dit te veel onder die loep te neem nie. Ons behoort eerder die tyd te neem om oë te draai na lande wat daarin slaag om sonder onderbreking energie aan al hul burgers te voorsien en selfs op ‘n konsekwente basis ontwikkeling laat geskied met die oog daarop om oor te skakel na volhoubare en hernubare bronne van energie.

Dit is in besonder die Duitse sisteem wat in ‘n Suid-Afrikaanse konteks oorweeg moet word. In Duitsland wek verskeie privaatmaatskappye op allerlei maniere elektrisiteit op en die verbruikers kan self kies van watter verskaffer se dienste hulle gebruik wil maak. ‘n Deel van die verbruiker se fooi word gekanaliseer na die oorhoofse stelsel. Nodeloos om te sê is dat Duitsland nie met ‘n tekort aan elektrisiteit worstel nie. Terwyl hierdie soos ‘n ideale oplossing klink vir Suid-Afrika met verskeie privaatspelers wat regstaan om die mark te betree, verkeer die land in ‘n ystergreep van staatsmag, wat staatsafhanklikheid versterk.

Voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan het in 1986 gemeen dat “ek is van die regering en ek is hier om te help” die mees vreesaanjaende woorde in die Engelse taal is. Suid-Afrikaners geniet geen keuse om die staat se perverse aanbieding van “hulp” van die hand te wys nie. Nee, hier is ons uitgelewer aan skamele hoop dat ondernemings in staatsbesit – monopolieë op belangrike terreine – hul kant sal bring.

Staatsmag stel die samewerking en politieke wil van die regering as voorvereiste vir enige verandering ten opsigte van infrastruktuur. Die ontbondeling van Eskom sou die tidelike verlies aan werk vir talle beteken aangesien Eskom volgens kenners met 300% oorbeman is. Ons het tot by hierdie punt gekom omdat vakbonde hopeloos te veel mag geniet en op hul beurt ook mag op die staat uitoefen en afpers in die geval waar die staat aflegging van oorbodige en onbevoegde personeel beoog.

Sentralisering lê by die kern van die probleem – die staat wil nie mag deel nie, en besighede en gemeenskappe bly afhanklik van die staat vir oplossings. Die hunkering na oplossings vanuit die geledere van die staat versterk die mag van die staat. Waarom sou die staat genoop voel om mag te deel wanneer landsburgers telkens na hul draai vir oplossings?

Hoe nou gemaak? Die oplossing is te vinde in ekonomiese beginsels. Die gebrek aan kompetisie in ‘n monopolie beteken dat tariewe in raadsale vasgestel word en nie natuurlik deur vraag en aanbod bepaal word nie. In die Wes-Kaap sein die provinsiale regering reeds dat hulle alternatiewe verskaffers sal toelaat om elektrisiteit aan die elektrisiteitsnetwerk te verkoop. Hoe meer van hierdie alternatiewe verskaffers na vore tree, hoe groter druk sal op nasionale terrein ontstaan om alternatiewe verskaffers in die “mark” toe te laat. Privaatmaatskappye sal kragstasies kan aankoop, en die druk op Eskom om te privatiseer sal toeneem. Die werking van die mark, gereguleer deur ‘n effektiewe kompetisiekommissie, sal daarin kan slaag om pryse so laag as moontlik te hou.

Die proses van alternatiewe energievoorsiening moet in klein dorpies en afgeleë gemeenskappe begin. Die staat het weinig belang in hierdie dorpies en gemeenskappe en goeie onderhandeling sal daartoe aanleiding kan gee dat tenders vir kragvoorsiening deur eksterne verskaffers in hierdie dorpies uitgereik word. Die gemeenskap se goedkeuring behoort as primêre maatstaf ingereken te word en gereelde hersiening van tenders sal moet plaasvind.

Met die regte onderhandelingstrategie kyk ons dalk na ‘n Suid-Afrika waarin klein dorpies in die voorsienbare toekoms deur eksterne voorsieners met elektrisiteit voorsien word. Dorpies in woestynagtige gebiede met plase in die omtrek wat deur sonpanele bedek word en die hele dorp met elektrisiteit voorsien is nie te vergesog nie. Maar eers sal ons van die paradigma van staatsafhanklikheid ontslae moet raak.

Paul Maritz