Stel die basiese beginsels reg voor idealistiese NGV-wetsontwerp

 Stel die basiese beginsels reg voor idealistiese NGV-wetsontwerp

Tyren van der Spuy

Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het ten doel om hulpbronne saam te voeg en te benut om te verseker dat alle Suid-Afrikaners toegang tot gesondheidsorg van goeie gehalte het. Om gesondheidsorgdienste te verenig, kan beslis ’n paar voordele inhou en ’n meer samehangende reaksie op nasionale kwessies, byvoorbeeld ’n virale uitbraak soos COVID-19, moontlik maak. Die verbetering van gesondheidsorgstandaarde en die uitskakeling van die koste-versperring vir alle Suid-Afrikaners is ’n belangrike stap in die uitwissing van armoede en verteenwoordig ’n ideale scenario vir die algehele gesondheid van Suid-Afrika.

Alhoewel die doelwit edel is, is dit nie immuun teen praktiese probleme nie. Die omskakeling na ’n universele gesondheidsversekeringskema sal beide moeilik en duur wees. Daarom moet ander probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar, wat voordele vir die gesondheidsorgbedryf sal meebring wanneer dit opgelos word, oorweeg word en moontlik bo die implementering van die NGV-wetsontwerp vooropgestel word.

Die las van belasting

Daar is geldige kommernisse rondom die implementering van die NGV-wetsontwerp. In ’n witskrif van 2017 word die koste geraam teen R256 miljard deur die beplande implementering van die NGV in 2025, wat tot die reeds opgeblaasde gesondheidsorgbegroting bydra. ’n Artikel van 2020 in Medical Brief plaas egter die waarde nader aan R700 miljard, wat ’n kommerwekkende bedrag is wanneer die reeds onsekere skuldvlakke van Suid-Afrika beskou word.

Die NGV moet deur direkte en indirekte belasting gefinansier word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), tesame met ander geloofwaardige bronne, stem saam dat minder as 20% van die bevolking private gesondheidsorg kan bekostig. As die hele bevolking privaat gesondheidsorgdienste sonder enige vooraf-betalings gebruik, sal hierdie minderheidsgroep die koste van hulle eie toegang tot gesondheidsorg moet dek plus die meeste van die bedrag wat benodig word om diegene te dek wat tans nie privaat gesondheidsorg kan bekostig nie. Dit blyk waarskynlik te wees dat nie alle lede van hierdie 20% hierdie verhoogde mediese koste sal kon bekostig nie, en die verhoogde belastinglas sal veral stremmend wees vir ’n ekonomie wat van die COVID-19-pandemie probeer herstel.

Die verlies van professionele versekeraars

Versekering is ’n gevestigde veld in Suid-Afrika, wat goed opgeleide individue lok en verantwoordelik is vir die verskaffing van baie hoë-inkomste werk. Suid-Afrika loop die gevaar om baie van hierdie vaardige verdieners van hoë inkomstes uit die land te stoot as hulle weens ’n nasionale mediese skema oorbodig word. Verder sal die tweeledigheid van nasionale en private versekering tot ’n verhoogde administratiewe las lei, beide gedurende die uitbreiding van die NGV, en sodra dit ten volle geïmplementeer is en private versekeraars steeds voorsiening vir prosedures maak wat die NGV nie van plan is om te dek nie.

Die regering se swak reputasie

Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse regering nie ’n uitstekende reputasie nie, en gereelde bewerings van korrupsie of onbevoegdheid moedig die publiek aan om nie die nuwe openbare projekte wat aansienlike kapitaalbelegging verg, te veel te vertrou nie. In die NGV-wetsontwerp word die publiek in wese gevra om die regering met die bestuur van ’n groot hoeveelheid kapitaal te vertrou wat andersins na die private sektor toe sou gaan. Verder is dit denkbaar dat die regering gemotiveerd is om die NGV-wetsontwerp in te stel in ’n poging om politieke steun van die meerderheid Suid-Afrikaners te verkry wat die meeste voordeel daaruit trek. Dit is nie ver van die opportunistiese gedrag van sommige politici tydens betogings rakende universiteitsgelde nie.

Skakel beurtkrag uit, verbeter onderwys

Die prioritisering van kwessies is ’n belangrike stap in die oorweging van die NGV-wetsontwerp. Die uitskakeling van beurtkrag sal vir die ekonomie ’n hupstoot gee (Efficient Group het bevind dat ’n vermindering van die groei van 2019 as gevolg van beurtkrag tot die verlies van R8,5 miljard van die BBP gelei het). Dit sal private gesondheidsorg vir meer Suid-Afrikaners toeganklik maak, hospitaaluitgawes op kragopwekkers verminder en lewensverlies as gevolg van kragonderbrekings voorkom. Uiteindelik sal dit meer staatsinkomste vir potensiële gebruik vir openbare gesondheidsorg beskikbaar stel. Die verhoging van opwekkingskapasiteit deur middel van hernubare energie dui ook op ’n verlaagde afhanklikheid van fossielbrandstowwe, wat ’n negatiewe uitwerking op respiratoriese gesondheid het en asemhalingsiektes soos tuberkulose kan vererger.

Net soos in die energiesektor, sal die verbetering van onderwys die produksie van die ekonomie verbeter deur gekwalifiseerde werkers by die arbeidsmag te voeg, terwyl die talle tekorte wat op die lys van kritiese vaardighede deur die Departement van Binnelandse Sake opgestel is, aangespreek word, waarvan sommige met gesondheidsorg verband hou. Die vermindering van werkloosheid, wat nou bo 30% is, sal belastinginkomste verhoog en meer Suid-Afrikaners bemagtig om hulle eie mediese uitgawes te dek. Verbeterde onderwys kan ook ongelukke as gevolg van onkunde (byvoorbeeld die gebruik van skadelike dwelms) verminder wat die las op openbare gesondheidsorg sal verlaag.

Spreek geweldsmisdaad en padveiligheid aan

Suid-Afrika is ongelukkig ’n gewelddadige nasie. ’n Bloomberg artikel van 2020 dui op ’n moordsyfer van 36 moorde per 100 000 burgers, in vergelyking met die internasionale gemiddeld van 7 per 100 000. Om geweldsmisdade aan te spreek, verg ’n veelsydige benadering van ekonomiese bemagtiging (om te voorkom dat misdade weens werklose, desperate Suid-Afrikaners gepleeg word), die verandering van die kultuur van geweld, meer doeltreffende polisiëring en effektiewe rehabilitasie vir dwelmverslaafde Suid-Afrikaners. Alhoewel dit nie ’n eenvoudige taak is nie, is dit waarskynlik ’n groter humanitêre krisis waarvan die oplossing die las op hospitale aansienlik sal verlaag, veral vir pasiënte wat in die intensiewesorgeenhede opgeneem word.

Padveiligheid is nog ’n bron van kommernis. Alhoewel daar in die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak is, is daar nog ruimte vir verbetering in die Suid-Afrikaanse sterftesyfer van 25,9 sterftes per 100 000 (in vergelyking met die wêreldwye koers van 18,2 per 100 000) wat die WGO in 2018 gerapporteer het. Voertuigongelukke stuur duidelik baie slagoffers ongevalle toe, wat ’n aansienlike hoeveelheid spanning op ’n openbare gesondheidsorgstelsel plaas wat reeds swaar belas is. Die kanalisering van fondse om padveiligheid te verbeter, kan verdere lewensverlies voorkom, die las op hospitale verminder en die ekonomiese koste van ongelukke weens skade aan openbare en private eiendom verlaag. ’n Verbetering kan gerealiseer word deur middel van strenger opleiding en toetsing van bestuurders voordat rybewyse toegeken word en kulturele veranderings in die openbare bewustheid van bestuur onder die invloed en met aandagafleiding. Die vereniging Arrive Alive berig dat die behoorlike instandhouding van paaie die sterftes met 5% sal verminder.

Water en sanitasie van goeie gehalte

Alhoewel die beskikbaarheid van water- en sanitasiedienste voortdurend verbeter het, het baie Suid-Afrikaners steeds nie voldoende toegang tot skoon drinkwater nie. Sommige gebiede het nie eens afvalverwyderings- en behandelingsstelsels nie, of het stelsels wat nie funksioneer nie. ’n Studie oor handel en nywerheidsbeleide (TIPS), gebaseer op data verkry uit die Gemeenskapsopname wat in 2016 deur Statistieke Suid-Afrika gedoen is, dui aan dat terwyl 93% van huishoudings ’n verbeterde waterbron en 80% ’n verbeterde sanitasie-aanleg gebruik, huishoudings wat voldoende dienste ontvang het onderskeidelik slegs 43% en 25% is (gebaseer op die afstand na die dienspunt, frekwensie en duur van diensonderbrekings, die respondent se indruk oor die diens en die mate waarin dienste gedeel is). Die ophoping van afval as gevolg van swak sanitasie-dienste hou ’n hoë risiko vir die oordrag van siektes in, veral vir jong kinders wat naby gebiede grootword waar afval ophoop. Die verbetering van sanitasiedienste sal die las op gesondheidsorg wat deur watergedraagde siektes veroorsaak word, verlaag, en sal ook meer Suid-Afrikaners uit armoede red deur werkafwesigheid weens siekte te voorkom.

Verbeterde doeltreffendheid word benodig

Dit is ook nodig om te oorweeg wat gedoen kan word om die openbare gesondheidsorgstelsel regstreeks te bevoordeel sonder om enige ekstra las op openbare fondse te plaas. In ’n artikel wat Victor Ngobeni in 2020 gepubliseer het, word die tegniese doeltreffendheid van provinsiale openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika bespreek. In die artikel is daar bevind dat nalatigheid deur gesondheidswerkers daartoe gelei het dat provinsiale gesondheidsdepartemente eise ontvang het wat in 2017/18 op R80 miljard gestaan het. Verder het die studie bevind dat die gemiddelde tegniese doeltreffendheidspunte van 35,7% tot 87,2% wissel, wat dui op ’n beduidende potensiaal vir besparing deur doeltreffendheid te verbeter. Dit wys verder uit dat die sentrale kwessie van die Suid-Afrikaanse openbare gesondheidsorgstelsel nie soseer ’n gebrek aan finansiering is nie, maar eerder ’n ondoeltreffende gebruik daarvan tesame met swak bestuur, wat niks goeds inhou vir die voorstel van ’n burokratiese versekeringskema wat kompleksiteit kan verhoog nie.

Die ideale scenario

Gratis toegang tot gesondheidsorg vir almal is ’n ideale scenario en verteenwoordig ’n goeie langtermyndoelwit. Dit kan egter rampspoedig wees om dit na te jaag in ’n poging om tot by die standaard van meer gevorderde ekonomieë te spring. Die regering kan ’n meer doeltreffende gebruik van sy hulpbronne geniet deur op ander openbare dienste wat ontbreek te konsentreer, wat tog voordele vir gesondheidsorg sal hê as dit verbeter word, en daarom moet hulle die verskillende arms van openbare dienslewering beywer. Die grootste direkte, korttermynvoordele vir die gesondheidsorgbedryf is die resultaat van ’n verbetering in die lewering van dienste onder huidige hulpbronbeperkings, en ’n toename in die bedryfsdoeltreffendheid van openbare fasiliteite. Ten slotte sou voortgesette verbeterings in die lewering van hierdie dienste, tesame met ’n strenger greep op korrupsie, die burgers makliker aanmoedig om die NGV-wetsontwerp te aanvaar sodra Suid-Afrika in ’n veilige ekonomiese posisie is om dit behoorlik te implementeer.

LUISTER: Hoekom speel die Minister huisdokter vir ons almal?

Tyren van der Spuy

http://www.nmonline.co.za