Suid-Afrikaanse son skyn skerp vir sonkrag

 Suid-Afrikaanse son skyn skerp vir sonkrag

George van Dyk

Hiedie artikel is oorspronklik Desember 2019 in die Loodsuitgawe van die Nova Mentis Tydskrif gepubliseer. Meld aan om die Winteruitgawe van die Nova Mentis Tydskrif te ontvang, wat in Junie 2021 kom.

Ondanks hierdie kommerwekkende syfers moes Eskom – ’n maatskappy wat van elektrisiteitsverkope en reddingsboeie van regeringskant afhanklik is – die afgelope 10 jaar tariewe met 340% verhoog. Die sombere prentjie word verder vertroebel deur die konserwatiewe raming dat Suid-Afrika se energiebehoeftes teen 2025 sal verdubbel. Elektrisiteit is ’n integrale deel van enige ekonomie en Eskom se benarde situasie beteken die ekonomie groei teen ’n maksimum van 1,5%.

Soos dit tans daar uitsien, verteenwoordig hernubare energie ongeveer 6% van die Suid-Afrikaanse elektrisiteitsnetwerk. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van 2013 stel ’n taamlik ambisieuse doelwit dat 20 000 megawatt (MW) elektrisiteit – 40% van die totale kapasiteit – van hernubare bronne soos wind- en sonkrag kom. Meer spesifiek kan 1 MW elektrisiteit ongeveer 1 000 huise van krag voorsien (nog ’n konserwatiewe raming), en dus wil die NOP dat 20 miljoen huise deur hernubare energie bedien word. Volgens prof Sampson Mampheweli, direkteur van die SHVES en volle professor in prosesingenieurswese aan die US, is hierdie teiken sedertdien tot 32% aangepas, soos uiteengesit in die Geïntegreerde Hulpbronplan (GHP).

Die Noord-Kaap in besonder is ’n potensiële goudmyn vir sonenergie, met sonbestralingsintensiteit meetings wat van ongeveer 2,5 MWh/m2 tot so hoog as 3,2 MWh/m2 strek. In perspektief geplaas, is dit onder die hoogste opgetekende sonbestralingsintensiteitmetings in Afrika.

Dit is dus geensins verbasend nie dat die SHVES oor veelvuldige gekonsentreerdesonkrag stelsels in die Noord-Kaap beskik nie. Gekonsentreerde sonkrag (GSK) gebruik spieëls om lig op ’n enkele kleiner area te fokus, waar sonenergie in hitte-energie omgeskakel word om stoom te skep, wat uiteindelik ’n elektriese turbine aandryf vir die opwekking van elektrisiteit. Volgens die Nasionale Energiereguleerder van Sui-Afrika (Nersa) groei Suid-Afrika se geïnstalleerde GSK-kapasiteit jaarliks met 100 MW – van ’n totale geïnstalleerde kapasiteit van 100 MW in 2015 tot altesaam 400 MW in 2018.

In die algemeen het Suid-Afrika se gekombineerde kapasiteit uit sonkrag, dit wil sê GSK én PVselle (wat ligenergie direk in elektriese energie omskakel), van 1 063 MW in 2014 tot 2 959 MW in 2018 gegroei. Terwyl dit bemoedigend is dat 3 miljoen huise slegs van sonenergie afhanklik is, is Suid-Afrika relatief agter skedule. Holisties gesproke oorheers PV-selle klaarblyklik steeds die sonkragmark.

Gekonsentreerde sonkrag is ’n relatief nuwe tegnologie en die eerste GSK-aanleg het slegs 1 MW elektrisiteit gelewer toe dit in 1968 in bedryf gestel is. Verder vereis GSK voortdurend gunstige, onveranderlike toestande soos hoë sonbestralingsintensiteit vlakke, wat dit moeilik maak om te implementeer. Nietemin het kapitaaluitgawes aan GSK die afgelope vyf jaar met 50% gedaal en behoort dit verder te daal namate die tegnologie indringend nagevors en aangepas word.

Alhoewel geen land in die toekoms dieselfde samestelling van hernubare energie sal hê nie, is daar vir regerings en die breë samelewing geen keuse as om hernubare energiebronne te omarm nie. Gelukkig skyn die Suid-Afrikaanse son skerp vir die vooruitsigte op sonkrag, wat dringend nodig is in ’n land waar hoop en vooruitgang krities is.

George van Dyk is hoofredakteur by Nova Mentis en ‘n finale jaar chemiese ingenieurswese student aan die Universiteit Stellenbosch.

George van Dyk