Vakbonde: ’n Nulsom-spel

 Vakbonde: ’n Nulsom-spel

Vakbonde, wat gestig is met die openbaar verklaarde doel van “die verteenwoordiging en beskerming van die belange van werkers”, het ’n integrale deel van ons nasionale infrastruktuur gevorm sedert hulle die eerste keer in die 1880’s op die nasionale toneel verskyn het. Die rasse-onstuimigheid wat ons verlede kenmerk, bied al lank die perfekte regverdiging vir individue met die mees rassistiese bedoelings om op grond van hulle ras hulle eie belange te bevorder ten koste van diegene wat hulle verafsku. Met ’n unieke vermoë om die massas te mobiliseer en die hande van gesaghebbendes te dwing, kan die belangrikheid van vakbonde in die vorming van die Suid-Afrika waarin ons tans woon skaars oorskat word.

Alhoewel die doelstellings van vakbonde tydens (en voor) apartheid duidelik polities was, is die rol wat hulle na apartheid gespeel het (en steeds speel) groter. Volgens Statistieke Suid-Afrika het die totale vakbondlidmaatskap van 2,6 miljoen lede in 1997 gegroei tot 3,26 miljoen lede in 2013. Verder het die Global Competitiveness Report van 2014  –  wat die werkgewers- en werknemerverhoudinge in Suid-Afrika as die slegste ter wêreld klassifiseer – verklaar dat “670 werksdae per 1000 werknemers weens stakings afgeskryf is” en dat “stakingsaktiwiteit (gemeet deur verlore werktyd) tussen 1994 en 2014 verdriedubbel het”. Klaarblyklik is vakbonde steeds ’n monumentale mag in die Suid-Afrikaanse landskap.

Lone, Belasting en Werkloosheid

Daar bestaan min twyfel dat vakbondlede beter voorregte as nie-vakbondlede geniet. Hoër lone is maar een van vele van hierdie voorregte. Volgens die Arbeidsmagopnames van 2001 tot op hede het vakbondlede konsekwent (met geringe afwisseling) 7% meer as soortgelyke nie-vakbondlede in alle sektore verdien.

Vir die meeste ondernemings is arbeid die grootste koste daaraan verbonde om ’n besigheid te bedryf. ’n Natuurlike toename in arbeidskoste is voordelig vir die werkgewer, werknemer en kliënt. ’n Kunsmatige toename in arbeidskoste het egter baie slagoffers. Eerstens sal byna niemand betwis dat ’n groep werkers slegs bo die markloon kan verdien ten koste van diegene wat glad nie in die arbeidsmark kan kom nie. Die illustrasie hieronder beeld dit uit:

 

Tweedens, in die geval dat ’n onderneming nie die hoër loon kan bekostig nie, sal werkers die vooruitsig van aflegging in die gesig moet staar. Aangesien die vakbonde egter nie skielike afleggings toelaat nie, dwing hulle ondernemings om die hoër loon te balanseer deur pryse te verhoog. In ’n mededingende mark sal verbruikers egter nie hoër pryse aanvaar indien goedkoper alternatiewe beskikbaar is nie – en hulle hoef ook nie. In plaas daarvan sal hulle by goedkoper alternatiewe begin koop en die duurder plaasvervanger uit die sak jaag. Dit is onder meer om hierdie rede dat vakbonde minder gewild in die private sektor is. Dit is trouens wat die statistieke van die Arbeidsmagopname bewys.

Daar is ’n baie duidelike rede waarom werknemers in die openbare sektor meer aangetrokke tot vakbonde is. Dit maak nie saak hoe hoog die arbeidskoste is nie, regeringsagentskappe word nie bankrot nie. Wanneer vakbonde hoër lone vir hulle lede in die openbare sektor eis, kan hulle redelik seker wees dat daar aan hulle eise voldoen sal word. Dit is omdat selfs wanneer daar nie genoeg geld in die fiskale beursie is nie, kan die regering net eenvoudig weer in die sak van belastingbetalers gaan krap. In die navorsing wat deur die Instituut vir Rasseverhoudinge gedoen is, is daar byvoorbeeld aangetoon dat die groei van die loonrekening in die openbare sektor in sewe van die agt jaar voor 2017 die groei van die nominale BBP oorskry het. Die vergoeding van werknemers in die openbare sektor, wat meer as 14% van die BBP uitmaak, het die OESO-gemiddelde van 10% oorskry. In die geval dat belastinginkomste nie voldoende is nie, is dit algemeen bekend dat sommige regerings geld begin druk en sodoende inflasie gebruik om aan hierdie loonvereistes te voldoen. Daar is geen beperkings vir die mark in die openbare sektor nie, en die vakbonde weet dit.

Om ’n ekonomie te herbou na ’n sosiaal – en ekonomies – vernietigende gebeurtenis, soos nasionale grendeltydperke, verg ’n kompromie van alle belanghebbendes. Dit is ons almal se plig om moeilike tog noodsaaklike aanpassings aan ons lewenstyl vir die welsyn van die breër samelewing te maak. Die taamlik onneembare aard van vakbonde belemmer hierdie behoefte. Die loonrigiditeit en politieke mag wat vakbonde geniet, lei tot gevalle waar, terwyl almal loonafnames moet aanvaar, openbare vakbonde met geweld en algehele stilstand dreig indien daar nie aan hulle loonverhogingsvereistes voldoen word nie. Dit is bytend vir groei en demokrasie, en is heeltemal onhoudbaar.

Om werklik ’n deugsame verteenwoordiger van werkers te wees, beteken om hulle belange op kort en lang termyn te bevorder. In hierdie verband slaag vakbonde nie. Deur hulle te beywer vir bedrywe om lone kunsmatig te verhoog, veroorsaak hulle dat werkers op lang termyn deur tegnologie vervang word. Dit is omdat bedrywe met die hoogste arbeidskoste die meeste kapitaalbelegging aantrek (wat dit weglei van die bedrywe wat kapitaalbelegging die meeste benodig). AgriSA het byvoorbeeld ’n paar maande gelede bespreek waarom hulle die nuwe nasionale minimumloonkoers teëstaan, en het aangevoer dat dit tot ’n “bloedbad vir werk!” sal lei. Henry Geldenhuys, die president van die Transvaalse Landbou Unie, het dit so gestel: “Geen rolspeler wil hê werkers moet onredelike vergoeding verdien of hulle werk verloor nie. Ons wil net hê die regering moet besef dat boere nie die loonverhogings kan bekostig nie. Ons het terugvoer van ’n wye verskeidenheid boere en ander rolspelers in die waardeketting ontvang om aan te dui dat hulle gedwing sal word om wysigings aan te bring om hierdie veranderinge te akkommodeer. Ongelukkig het die meeste van hulle besluit om alle arbeidsintensiewe afdelings, soos om met groente te boer, te sluit om oor te skakel na meer gemeganiseerde maniere om voedsel te produseer”.

Net so polities ongewild soos wat dit tans dalk voorkom vir diegene wat by vakbonde baat vind, is die monopolistiese mag van die vakbond onvolhoubaar en moet eenvoudig beperk word. Solank vakbonde in kragtige koalisies met uiters invloedryke politieke organisasies is, bly dit ’n oorweldigende taak. Desondanks bly die plan wat die wyle Margaret Thatcher agtergelaat het om die mag van die vakbond hok te slaan, ’n maatstaf wat ons moet besoek terwyl ons nog tyd het. Die Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing moedig vakbonde skynbaar aan om betogings en stakings as ’n wapen van eerste (eerder as laaste) toevlug te gebruik, wat tot rampspoedige arbeidsgeskille lei. Vakbondhervormings in die beperking van geslote vakbondwinkels en sekondêre stakings is beslis belangrik om vakbondaktiwiteite en uiteindelik vakbondlidmaatskap te bekamp.

Belangriker nog, hoewel die reg om te staak ongetwyfeld steeds beskerm moet word, moet die besluit om te staak, sover dit redelik uitvoerbaar is, in die hande van werkers geplaas word in stede van die hande van eksterne entiteite wat hulle eie politieke agenda het. Om uit te brei op die volgende woorde van dr. Thomas Sowell, “… vakbonde is vir vakbonde net soos korporasies vir korporasies en politici vir politici is”, kan dit gesê word dat werkers vir werkers is en dat hulle in samewerking met hulle werkgewers weet wat die beste is. Om die wanbalanse tussen die bedingingsmag wat moontlik bestaan te balanseer, is wettig beskermde geheime stembriewe die oplossing. As werkers nie tevrede met hulle werksomstandighede is nie, kan die werkgewers met anonieme stemme daarteen gewaarsku word dat werkers nie tevrede is nie, en indien niks verander nie, gaan hulle tot betogings gedryf word. Dit is in baie gevalle in die belang van die werkgewers om te verseker dat werkers tevrede is.

In mededingende bedrywe waar daar ’n ooraanbod van arbeid is, is dit beter om die reg van werknemers om te organiseer wettiglik te beskerm, en dan weg te tree en die mark as ’n inperking vir beide werkgewers en werknemers te laat funksioneer. Dit is omdat ondernemings in mededingende markte voortdurend meeding om die beste werknemers te kry. Alhoewel ’n werkgewer miskien sy/haar werkers so min moontlik wil betaal as waarmee hy/sy kan wegkom, kan die lone wat mededingende ondernemings hulle werknemers betaal hierdie optrede bekamp. Verder, hoewel werkers dalk so ’n hoë loon wil eis as waarmee hulle moontlik kan wegkom, kan die wete dat daar oortollige arbeiders wag om hulle te vervang, hierdie begeerte bekamp. Die belangrikste is dat Suid-Afrikaanse arbeid meer mededingend op die wêreldskaal sal wees, wat buitelandse beleggings sal lok, meer werk sal skep en die werklose arbeiders wat op die rand wag, sal absorbeer.

Om meer bedingingsvermoëns aan werknemers te gee (en hulle te beskerm), bly die beste moontlike manier om ’n andersins onvolhoubare ooreenkoms te verbeter. Die belange van werkers is sekondêr vir vakbonde. Die primêre doel van vakbonde is om hulle eie politieke invloed te beskerm, en hoe gouer ons dit besef, hoe beter. Om meer bedingingsvermoëns aan werkers te gee, verg noodwendig ’n vermindering in vakbondmag, want hoe meer die vakbond onderhandel, hoe minder kan die individuele werkers onderhandel. Die belangrikste is dat ’n stap van hierdie aard tegelykertyd die demokratiese, fiskale, kostedruk- en werkloosheidsuitdagings wat vroeër genoem is, aanspreek. Deur die geheime stembriewe in die werkplek in te bring, bring weer op sy beurt demokrasie in die werkplek. Deur onder meer geslote vakbondwinkels en sekondêre stakings te beperk, word vakbondoptrede en uiteindelik die spanning op die fiskus en die werkloosheidsyfers beperk. Dit sal ongetwyfeld op kort termyn tot ’n verlies aan vakbondvoordele lei wat baie Suid-Afrikaners tans geniet. As ons egter langtermynarbeidsverhoudinge in ons land wil verbeter, moet ons besef dat ’n verlies aan vakbondvoordele beslis nie so kwellend is soos voortdurende werkloosheid en fiskale onstabiliteit nie.

Philasande Shongwe

Philasande Shongwe is financial manager and Nocturnal Unwrap Podcast host at Nova Mentis.