Verpligte ent, en dan?

 Verpligte ent, en dan?

Tian Alberts & Martin van Staden

Daar word baie gedebatteer oor die potensiaal van langtermyn newe-effekte met inentings teen Covid-19. Dit is ‘n gesprek wat deur deskundiges op die gebied van inentings gelei moet word, met empatie vir alledaagse bekommernisse van gewone mense. Waaroor daar egter veel minder gedebatteer word, is die langtermyngevolge daaraan verbonde om geykte en soms swaarverdiende grensmure wat mense se vryhede en outonomie afbaken, impulsief prys te gee. Onverdraagsaamheid jeens die prioritisering van hierdie breër gesprek tydens ‘n openbare gesondheidskrisis is misplaas, aangesien maghebbers oor tien jaar agnosties sal wees oor die omstandighede waaronder vryhede prysgegee is. Die grense wat vandag afgebreek word kan nie sonder meer herleef wanneer ons tevrede is dat Covid-19 onder beheer is nie.

Dit bring ons by verpligte inentings en die konsep van inentingspaspoorte. Hierdie bydrae handel nie oor die doeltreffendheid van inentings nie. Dat mense hul vrywillig kan laat inent, is bemoedigend. Wat baie minder bemoedigend is, is sogenaamde kenners en ander prominente stemme in die openbare diskoers se ontluikende paternalisme en hunkering na staats- en korporatiewe dwang wanneer dit by die inenting kom. Neem byvoorbeeld die geval van bio-etikus prof. Keymanthri Moodley, wat op Netwerk24 skryf dat daar nie die luukse van tyd is om mense te onderrig oor die inenting nie en dat ‘n entstofmandaat in Suid-Afrika bekend gestel moet word. Wat Moodley eintlik sê is dat die vrese van gewone mense nie gerespekteer moet word nie—dit is nie die moeite werd nie, aangesien gewone mense die punt mis en dinge verkeerd verstaan. Die kundiges moet eerder gerespekteer word, en mense moet onkrities hul agentskap om besluite oor eie gesondheid te neem aan die staat uitkontrakteer omdat die kenners (gereeld nie op die gebied van epidemiologie nie) so sê.

Daar is twee verreikende probleme met hierdie koers inslaan.

Eerstens, dat twee afsonderlike magskampe ontstaan. Enersyds, die kenners wat deur die media vir kommentaar genader word en ook deur burokrate aangestel word om toeligting te bied vir besluitneming. Andersyds, gewone mense wat eerder kenners se menings moet eerbiedig en onkrities aanbevelings en diktate moet aanvaar, ongeag persoonlike omstandighede. Gewone mense wat kies om kenners se haelgeweer-benaderings teen hul eie, unieke realiteite op te weeg word toenemend daarvan beskuldig dat hulle kenners se meesterplanne (wat gereeld aangepas word na gelang van nuwe data) ondermyn. Dit is alles kenmerkend van ‘n tipe epistokrasie – sogenaamde “heerskappy deur die kenners”. Die probleem hiermee is dat vakkundiges op baie spesifieke gebiede, byvoorbeeld epidemioloë, nooit voorsiening sal kan maak vir die al die onbedoelde uitwerkings wat sal uitspeel wanneer miljoene mense se risiko’s namens hulle bestuur word nie. Epistokrate kan eenvoudig nie rekenskap hou met die unieke, uiteenlopende omstandighede van al die mense namens wie hulle ingrypende besluite wil neem nie. Al bestaan daar gefundeerde navorsing oor byvoorbeeld die breë doeltreffendheid en veiligheid van inentings, is die blote feit dat daar nie eenstemmigheid oor die kwessie heers nie, ‘n lewensgrootte teken dat individue hul eie besluite daaroor moet kan neem. Elkeen beskik oor sy of haar eie risikoprofiel, en soos onder enige ander omstandighede, moet elkeen die keuse hê om kenners se standpunte te oorweeg en ook na oorleg met ‘n mediese praktisyn besluite oor mediese intervensies te kan neem.


Die tweede verreikende probleem met enige vorm van staat- of korporatiewe dwang wanneer dit by maatreëls kom om gesondheid- en ander risiko’s te bestuur, is dat dit onvermydelik die sluise oopmaak vir soortgelyke dwang in die toekoms. Mits die regering en hul adviseurs in hoogs-gesentraliseerde gesagstrukture soos die Verenigde Nasies en Wêreldgesondheidsorganisasie ‘n groot genoeg krisis kan verklaar, is geen inperking van vryheid dan buite die kwessie nie. Hoe ver verwyderd is ‘n samelewing wat aanvaarding sein vir inentingspaspoorte en gedwonge inperkings op bewegingsvryheid tydens ‘n pandemie, van een waar motors nie op sekere dae van die week aangeskakel mag word nie omdat kenners glo dat dit is wat nodig is om die aarde te red? Ons hoef nie verder as China te kyk, waar burgers se internetspoed van staatsweë afgeskaal kan word wanneer hulle na gesondheidskenners se oordeel te veel televisie kyk, om te besef dat ons nie in so ‘n wêreld wil leef nie.

Niemand kan met sekerheid sê of ‘n maatreël soos ‘n inentingspaspoort die uitdagings rondom Covid-19 doeltreffend sal kan oplos nie. Wat wel seker is, is dat die vereiste van paspoort dra om ‘n gewone lewe te leef – winkel toe te gaan, skool toe te gaan, en selfs kerk toe te gaan – geweldig ingrypend is en dat dié konsep nie tuishoort in ‘n gevorderde samelewing wat op basiese vryheid toegespits is nie.

In Suid-Afrika se geval, omskryf artikel 36 van die Grondwet die formule waarvolgens die regering in moeilike omstandighede op regmatige wyse die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners kan beperk. Dit bepaal dat ‘n beperking redelik en regverdigbaar moet wees in ‘n oop en demokratiese samelewing wat op vryheid, menswaardigheid, en gelykheid gebaseer is. Die howe bepaal of daar aan hierdie standaard voldoen word deur verskeie faktore in ag te neem, onder meer die verband tussen die beperking en die doel daarvan en of daar ʼn minder beperkende wyse is om die doel te bereik. Verpligte of gedwonge inentings is nie willekeurig nie en maak noodwendig inbreuk op die reg op liggaamlike integriteit wat deur artikel 12(2)(b) van die Grondwet verskans word. Dit sluit omstandighede in waar persone wat nie wil inent nie byvoorbeeld hul werk kan verloor. Tog meen sommige openbare kommentators dat verpligte inentings wat liggaamlike integriteit skend regverdigbaar kan wees vanweë die groot risiko wat Covid-19 vir die openbare gesondheid inhou, mits dit deur wetenskaplike bewyse onderlê word en nie diskriminerend of onredelik is nie. Hier word sig verloor van bes moontlik die belangrikste aspek van die artikel 36-formule: minder beperkende alternatiewe. Die veronderstelling gaan daarop uit dat omdat die grendelstaat menigte grondwetlike regte op ernstige wyses beperk, die vervanging daarvan deur ‘n entstofmandaat minder beperkend is. Verpligte inenting en die meegaande beperking van die reg op liggaamlike integriteit, moet egter op eie meriete beoordeel word eerder as bloot ‘n mindere beperking as ‘n grendelstaat. Aangesien ‘n groot gros Suid-Afrikaners bereid en selfs gretig is om ingeënt te word, kan skeptiese persone met ‘n wortel eerder as ‘n stok aangespoor word om hul te laat inent. ‘n Belastingaansporing is byvoorbeeld ‘n minder inperkende en dalk selfs meer doeltreffende wyse om so vinnig as moontlik die inentingskoers onder die skeptiese minderheid ‘n hupstoot te gee, as om hulle te forseer om ‘n mediese intervensie teen hul wil te neem. Dat die regering nie vir minder beperkende alternatiewe te vinde sou wees nie, is nie betreklik nie – die artikel 36-analise neem in oorweging of alternatiewe beskikbaar is en nie of dit polities voordelig of verkose is nie. Die beleidsvoorkeure van die regering en hul aangestelde kenners is nie afdoende rede vir verpligte afstanddoening van die reg om persoonlike besluite oor hul eie liggaam en gesondheidsorg te neem nie, en daardeur menswaardigheid en persoonlike agentskap prys te gee nie.

Terwyl komplekse debatte onder spesialiste woed oor die doeltreffendheid van inentings om verspreiding van Covid-19 te keer, is daar ‘n paar eenvoudige vrae wat “gewone mense” kan afvra oor ‘n post-Covid-19 wêreld. Wil ons in ‘n wêreld woon waar, sodra ‘n openbare krisis gedefinieer en verklaar word, groot gesagstrukture met selfs slegte reputasies ingrypende beheer kan toepas oor hoe ons ons alledaagse lewens leef? Is ons gemaklik daarmee om in die toekoms, ongeag hoe erg die krisis is, ons vermoë om besluite oor ons gesondheid te neem, uit te kontrakteer aan gesentraliseerde gesagstrukture wat blanko-voorskrifte maak sonder vermoë om ag te slaan op individue se unieke omstandighede?

Dit is sinvol vir alle tersaaklike rolspelers om Covid-19 en die lyding wat dit veroorsaak met ywer die hoof te bied — veral ten einde diegene wat weerloos is vir die virussiekte te beskerm. Dit is ook goed dat navorsing en wetenskap oor inentings en ander maatreëls vrylik beskikbaar is. Dit is egter kortsigtig om verpligte en ingrypende maatreëls teen Covid-19 voor te staan met die naïwiteit dat die voorstaan daarvan nie sal bydra tot ‘n minder vrye, meer epistokratiese post-Covid-19 wêreld nie. Die onkritiese delegering aan gesentraliseerde gesagsfigure van ons vermoë om self besluite oor risiko’s in ons lewens te neem, sal lank na die neutralisering van Covid-19 nog by ons spook.

 

 

 

 

Tian Alberts