Verset en sukses van gemeenskappe

 Verset en sukses van gemeenskappe

Paul Maritz

Die ontwikkeling van Westerse denke as prominente denke op aarde kan in ʼn sekere mate gesien word as ʼn konstante wisselwerking tussen vryheid en veiligheid. Die Engelse filosoof Thomas Hobbes het reeds in 1642 aangevoer dat dit goed is wanneer daar ʼn absolute en onbetwiste heerser oor die mens beskik, want dan sal daar vrede en veiligheid wees – veiligheid in die sin dat mense soos babas deur die regeerder opgepas sal word. In teenstelling met Hobbes het denkers soos John Locke en Jean-Jacques Rosseau gewonder hoe ʼn mens die omvang van hierdie absolute en onaanvegbare mag ooit sal kan inperk wanneer dit juis vrede en veiligheid van die individu belemmer. Die temas mag en vryheid lê vandag nog aan die hart van mense se denke en gesprekke; trouens, meer as ooit in die nadraai van ingrypende inperkings die wêreld heen, met twyfelagtige gevolge.   

Beskerming van vryheid 

Een van die vernaamste uitdagings vir individue is om vryheid van een generasie na die volgende te beskerm. Coretta Scott King het gemeen dat die oorwinning van vryheid nooit regtig ʼn uitgemaakte saak is nie – dit moet deur elke generasie gewen en verdien word. Die neiging om te wil oorheers en alle mag te wil toeëien, waaroor alle regerings in verskillende mates beskik, het dadelik en beslissend tydens die eerste maande van die Covid-19pandemie in Suid-Afrika na vore getree. Drakoniese maatreëls, soos dié rakende aankope en beweging, is kwansuis ter wille van ons veiligheid vinnig in die wetboeke ingepons – dít deur ʼn regering wat vir ʼn kwarteeu reeds grotendeels versuim om landsburgers teen siekte, koue, honger en misdaad te beskerm. Op die sterkte van ʼn oorwinning by die stembus waar 37% van die geregistreerde kiesers se stem ingepalm is, kon die ANC-regering hulle aan opperste mag vergryp en duisende besighede en miljoene lewens verwoes. Klagtes wat ingestroom het dat waterbekers gekoop kon word, maar nie blompotte nie, wit hemde maar nie hemde met strepies of blokkies nie, het natuurlik gekwyn voor die oorweldigende mag van die sentrale regering.

   

Teenstaan van onderdrukking deur gemeenskappe 

Na alle waarskynlikheid sal die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners wat nie vir die ANC stem nie nog vir jare aan die ANC-regering uitgelewer wees. ʼn Oplossing wat die inperking van vryhede kan teenwerk sal, soos dikwels in die verlede, in die gemeenskap gevind moet word. Met die gemeenskap word spesifiek verwys na die burgers van ʼn land of streek wat kies om te versamel in groeps, verenigings of partyverband, met die pertinente doel om mekaar te help en doelwitte te bereik wat noodwendig die lewens van die lede sal vergemaklik. Nog nooit sedert 1994 is gemeenskappe so gemobiliseer in weerstand teen die regering soos vandag nie – juis omdat dit vir gemeenskappe in verskeie vorme, hetsy geografies, kultureel of selfs korporatief, duidelik geword het dat hulle op hulself aangewese is. Hierdie gedagte is ook nie nuut nie – reeds in 1835 skryf die Fransman Alexis de Tocqueville in sy kritiek op die Amerikaanse demokrasie dat onderdrukking in ʼn demokrasie teengestaan sal moet word deur instellings wat tussen die regering en die individu staan – dus, gemeenskappe. 

Gemeenskapsoplossings is niks nuuts nie 

In Suid-Afrika is die probleme wat deur die regering geskep is en die oplossings wat gemeenskappe in reaksie daarop begin ontwikkel het nie ʼn nuwe verskynsel nie en is dit bloot deur die onlangse magsvergrype en koronavirus-krisis onderstreep. Die onafhanklike Afrikaanse universiteit Akademia is byvoorbeeld ʼn geruime tyd terug al op die been gebring, maar het tydens die inperking verder uitgebrei en met ʼn paar veranderinge daartoe toegesien dat klasse aanlyn kon voortgaan. Die Wolkskool, deur die Solidariteit Beweging op die been gebring, kon tydens die inperking vir 116000 leerders gratis aanlyn klasse aanbied. Hierdie oplossing vir duisende matrieks het nie van die regering gekom nie. VinProʼn liggaam wat meer as 2500 wynboere verteenwoordig, het in gemeenskapsverband stappe gedoen om hul vryheid teen oorbodige, onnodige sake-inperkings van regeringskant te beskermMens moet ook dink aan hoe die dorp Koster in Noordwes onbevoegde owerhede deur gemeenskapsoplossings omseil. In hierdie dorp het ʼn belastingbetalersvereniging in 2018, ná jare se swak en selfs onbestaande dienslewering, ʼn hofinterdik gekry wat aan hulle toestemming verleen het om beheer oor sommige munisipale dienste te neem – ʼn oplossing wat intussen deur verskeie dorpe oorweeg is. 

Uiteindelik word hier maar vier prominente voorbeelde genoem, terwyl daar duisende sulke voorbeelde is. Maar hierdie voorbeelde is genoegsaam om ʼn baie duidelike toekomsblik op vryheid en vooruitgang vir Suid-Afrikaners te vormDit is eerstens baie duidelik dat die owerhede in Suid-Afrika ten dele, en soms ten volle, onbevoeg is. Dit is bloot ʼn feit wat aanvaar moet word, eerder as wat dit as ʼn polities gelaaide of aanvallende opmerking beskou moet word. Tweedens is dit vanselfsprekend dat hierdie feit die hoof gebied moet word sodat die onderdrukking van die individu teengewerk kan word. Laastens blyk dit dat dit uiteindelik gemeenskappe – groepe mense wat hulself buite die dampkring van die owerheid en politiek organiseer en definieer – is wat die sleutel tot Suid-Afrika se sukses inhou deurdat hulle bakens van uitnemendheid kan vestig en onderdrukking ten beste kan teenwerk. 

Paul Maritz